’n Luiperd in my bed deur Annelize Slabbert (Tafelberg, R260*)

“Wat hou ’n mens op ’n plek met soveel uitdagings, het ek dikwels gewonder.

“Tot skemer wanneer ek deur my kombuisvenster ‘ons’ twee steenbokkies onder die akasiaboom fyntjies aan die peule sien smul. Of snags wanneer muskiete my zoemend slaaploos maak en die mmmuff-mmmuff van ’n leeu op die sandpad voor die huis my herinner wie baas is. Of vroegoggend wanner ryp die veld wit teen die hout-skool takke van die bome verf en ons hoef nêrens heen te jaag nie . . . Geld kan nie vir so ’n ervaring betaal nie.”

Annelize Slabbert se boek, ’n Luiperd in My Bed, is die verhaal van die lodge wat hulle sowat 20 jaar gelede in Botswana begin vestig het.

Die uitgeputte voëltjies het gedrink. Toe met gapende bekkies dronk-dronk rondgesteier. Omgeval. En gevrek. Duisendes is in die dae daarna dood in die veld gevind.

Dit klink na ’n ontbering wat die meeste stadsjapies sou geknak het en ’n mens kan wel wonder wat haar en haar man, Gerard, en hul seun, Jacobus, laat vasbyt het.

“Vir iemand wat die plaaslewe gewoond is, sou die omstandighede in die Kalahari moontlik minder oorweldigend gewees het,” vertel sy.

“Die droom van ’n lewe van eenvoud, die voorreg om leeus van jou voorstoep af te beleef en al die ervarings eie aan ’n plek wat so afgeleë is, het dikwels met my behoefte aan ’n gemeenskap en geriewe gestoei. Nietemin sou geeneen van ons die ervaring wou misloop nie.”

Deur die jare het sekere dinge makliker geraak, soos dat hulle sonkrag kon installeer en nie meer afhanklik was van die raserige kragopwekker nie. Maar Moeder Natuur laat haar nooit tem nie. Met die hitte van Deception Valley in die Sentraal-Kalahari en die winterkoue moet ’n mens saamleef.

Annelize Slabbert. Foto: Dominique Coetzee

Annelize vertel van die uitmergelende droogte wat hulle beleef het: “Die verskrikking van droogte is immer ’n werklikheid. Een van die smartlikste ervarings van ons tyd in die Kalahari was die lyding van die diere in die droë maande.

“Dat voëls ook ly wanneer water min en hul natuurlike habitat toenemend verwoes word, het ons veral een smoorwarm middag eerstehands ervaar. Swerms verskillende voëlspesies het op waterpanne toegesak. Die pan voor ons huis het verdwyn soos honderde dorstiges oor en weer oor die water swiep om hul dors te les.

In ’n poging om te help het ons elke vlak kom, bak en pan vol water gemaak sodat almal kon drink sonder om mekaar te verdring.

“Pure vergeefs. Die uitgeputte voëltjies het gedrink. Toe met gapende bekkies dronk-dronk rondgesteier. Omgeval. En gevrek. Duisendes is in die dae daarna dood in die veld gevind.”

Annelize en Gerard het nou by die see afgetree en die lodge word bestuur deur Jacobus en sy vrou, die sjef Niska, wie se heerlike resepte in dié boek vol interessante vertellings opgeneem is.

Gifbeker deur Irna van Zyl (Penguin, R230*)

’n Paar mense sterf morsig in Irna van Zyl se jongste roman, Gifbeker. Sou dit nie ’n gawe geleentheid vir ’n skrywer wees om so wraak te neem op mense met wie hulle ’n byltjie te slyp het in die regte lewe nie?

Nee allawêreld, sê Irna.

“Ek glo nie daaraan dat jy jou persoonlike griewe in ’n boek moet probeer uithaal nie. Maar daar is ’n omstrede kosblogger wat vroeg in Gifbeker dood neerslaan wat dalk aan iemand in die werklike lewe kan herinner.”

Irna van Zyl. Foto: Joanne Oliver

Gifbeker, wat verwys na die giftigste sampioen in die land, speel af in die wêreld van fynproewerskos, vyfsterrestaurante, spogsjefs en eters. Die spanning begin nadat die einste kosblogger morsdood neergeslaan het op die deftige vloer van die sjef Zeb Tswalo se restaurant.

Sy was ’n gehate mens en niemand wat ooit deur haar gifpen bygekom is, sal dink dis vreemd dat iemand haar wou vermoor nie. Maar sy is net die eerste lyk. Irna vertel hoe sy al die drade van die storie bymekaarhou terwyl sy aan die skryf is.

“Ek teken grafieke in ’n aantekeningboek en maak ’n opsomming van elke hoofstuk in verskillende kleure penne op ’n groot vel A3-papier. Daarby hou ek aantekeninge in nog ’n boek.

“Dit sukkel wel steeds maar om alles bymekaar te hou. Vir die volgende boek beplan ek ’n hele muur vol Post-its.”

Om ’n spanningsroman se boef oftewel moordenaar se identiteit tot die einde geheim te hou is ’n uitdaging.

Gifbeker deur Irna van Zyl (Penguin, R230*).

“Dis natuurlik die raaisel waarvoor mense misdaadboeke lees. In Gifbeker het ek probeer om die leser op etlike dwaalspore te vat: van ’n entrepreneur tot ’n stiefbroer tot die eienaar van ’n restaurant en opposisiesjefs. Ek het groot pret met die lokbokkems gehad.”

Haar gunstelingkarakter in Gifbeker is adjudant Storm van der Merwe, “die heldin met haar liefde vir slaptjips, haar honde en die ligblou Volla met die daisies op.

“Sy’s die hoofkarakter en ek het ook die meeste tyd saam met haar deurgebring. Tog het ek ’n sagte plek vir die hulpelose Moerdyk wat smoorverlief is op Storm.”

Irna sê sy is al besig met die beplanning vir die volgende boek – “ek het selfs ’n titel en ek weet waaroor die storie gaan” – maar sal eers ná so drie maande se voorbereiding wegval en begin skryf

Die hare is gereed om te waai

Adjudant Storm van der Merwe: “Sy vryf oor haar boskaas, draai een spesifiek halsstarrige krul deur haar vingers en trek dit reguit. Dit skiet terug en sy weet dit maak weer ’n perfekte sirkeltjie op haar voorkop.”

Angel Zulu, die wynfoendi: “Hy het die modernste haarstyl op die hele Hermanus. Die box cut. Hy lyk soos ’n man wat ’n hooftooisel dra, tog is die hele prentjie funky en plesierig.”

Sersant Shirien Niemandt: “Lang blonde braids soos Beyoncé”, daarna “natural soos Alicia Keys”, maar voor dit ’n weave en cornrows. “Sy moet ’n bleddie goeie hairdresser hê.”

Reinhardt, die kuskossoeker: “ ’n Snotkop met hippiehare. Sy blonde hare is met ’n rekkie in ’n kort poniestert bo-op sy kop vasgemaak.”

*Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. (Die pryse was korrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering.