Diep spoor
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Jeanette Stals (Penguin, R239*)

Wat hierdie roman, wat rondom die tyd van die Groot Trek afspeel, uniek maak, is dat die drie vroulike hoofkarakters onderskeidelik wit, bruin en swart is. Jeanette Stals, die skrywer van Diep spoor, sê sy weet nie van ’n soortgelyke historiese roman waar die hoofkarakters drie van die kultuurgroepe in Suid-Afrika verteenwoordig nie.

Jeanette Stals. Foto: Verskaf
Jeanette Stals. Foto: Verskaf

Sy vertel meer oor Katrien, Dina en Thabisa:

“Katrien is ’n fynbesnaarde wit meisie wat taamlik beskermd grootword en as kind skilderlesse by haar peetma kry. Sy trou met Gerrit, ’n onderwyser, en hulle het ’n seuntjie, Fransie. Terwyl sy haar tweede kind verwag, sterf Gerrit in ’n fratsongeluk, en sy verloor ook haar ongebore baba.

“Sy ontmoet vir Stefaans du Toit, ’n dinamiese boer uit die Oos-Kaap, en verhuis saam met hom na die ongetemde en gevaarlike Oosgrens waar hul liefde, ten spyte van moeilike omstandighede, onwrikbaar is.

“Dina is ’n paar jaar jonger as Katrien en die dogter van ’n slawegesin wat aan Katrien se familie behoort. Die twee meisies word saam op die plaas groot en ontwikkel ’n hegte vriend­skapsband.

“Die slavin raak ook verlief op Stefaans toe sy haar mense agterlaat om saam met Katrien na die Oosgrens te trek. Sy hou die geheim net vir haarself terwyl sy Katrien se kinders help grootmaak asof hulle haar eie is.

“Thabisa is deel van ’n uitgebreide Zoeloe-gesin wat gedurende Shaka se bewind in ’n afgeleë deel van Zoeloeland woon.

“Reeds in haar tienerjare kry sy te doen met die harde werklikheid van die tradisie waarin sy grootword, en kort daarna word haar familie uitgemoor. Sy en ’n jonger broertjie vlug na ’n naburige familie, maar ook daar het niemand, buiten ’n meisietjie, die dood vrygespring nie.

“Thabisa en die twee kinders het geen keuse nie as om in die bosse te probeer oorleef tot ’n ouer broer, wat deel van Mzilikazi se leër geword het, hulle daar kry en saam met hom terugneem na die land van die Ndebele. Sy beland eindelik by die Trekkers waar sy deel word van Katrien se familie.”

Jeanette vertel sy het vir dié detailryke roman geweldig baie navorsing en naleeswerk gedoen.

“Ook terwyl ek besig was met skryf, het ek gedurig seker gemaak van een of ander detail. Daar is ’n bronnelys van meer as 25 boeke wat ek gelees het. Daarvan is heelwat dagboeke en ander dokumente wat in daardie tydperk geskryf is.”

Brandmerk
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Christelle van Rooyen-Wessels (R239*)

Vir die sluwe kindermoordenaar in Brandmerk moet jy as leser hare op jou tande hê, want sonder dat jy weet wie hy is, word hy so fyn geteken dat jy bang is jy herken hom op straat. Christelle van Rooyen-­Wessels het dit nie alles uit haar duim gesuig nie, want as misdaadverslaggewer het sy dinge gesien wat die meeste van ons gespaar bly.

Christelle van Rooyen-Wessels. Foto: Philip Wessel
Christelle van Rooyen-Wessels. Foto: Philip Wessels

Sy vertel hoe haar pad geloop het tot die skryf van Brandmerk:

“Ek het in 1999 as verslaggewer by die Klerksdorp Rekord begin werk, aanvanklik as skoleverslaggewer, maar omdat ek ’n polisieagtergrond gehad het, het dit gou my ‘beat’ geword. My ­ouers se finansies het nie universiteit toegelaat nie; dus het een van my broers, ’n polisiekaptein in daardie stadium, my as studentekonstabel laat aansluit.

“Die afgelope 22 jaar was ek as joernalis op vele misdaadtonele. Baie van die tonele se gruwels bly jou by, spook by jou. Dit is juis hoe ek aan Adder, my eerste roman, begin skryf het. Aanvanklik was dit sommer net ’n paar paragrawe om so ’n bietjie my ontsteltenis te verwerk nadat ek saam met die polisie op die toneel van ’n kindermoord was.”

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Christelle vertel sy het baie inligting uit haar eie berigte gehad, maar het ook met ’n forensiese sielkundige of twee gesels. Sy het ook raad gekry by ’n skoonsuster wat ’n staatsaanklaer is en ’n swaer, ’n afgetrede polisiekolonel, wat jare lank by die Brixton-moord-en-roofeenheid gestasioneer was.

“Dan is ek boonop nog so half verslaaf aan misdaaddokkies. En as kind het ek die stories in tydskrifte verslind oor moordenaars soos Jack the Ripper, John Wayne Gacy, Harold Shipman, Ted Bundy en Fred en Rose West.”

Die slot was nie vir my baie verkwiklik nie en ek vra of sy iets teen ’n gelukkige einde het.

“Ek het geen probleem met ’n gelukkige einde vir stories nie. Solank dit geloofwaardig is en nie bloot net ’n ‘beloning’ vir die karakters is omdat hulle deur ’n klomp trauma is nie. Soms wil dit vir my lyk asof skrywers moeg geword het vir hul eie storie en dan vergesogte drade uit die lug skraap om die storie mee vas te bind, bloot om klaar te kry,” sê Christelle.

“In sulke gevalle irriteer gelukkige eindes my grensloos; dit voel vir my net te gedwonge. Met Brandmerk was ek nog sommer aan die begin van die verhaal toe ek die slot skryf. Met Adder het die slot so in die middel van die storie na my toe gekom.

“Ek sal nie daarvan hou as ’n leser dink ek het lui geraak en toe sommer net ’n einde saamgeflans wat min of meer bevredigend is nie. Dis dié dat ek die einde skryf lank voor dit tyd vir die slot is.”

* BESKIKBAAR TEEN DIÉ PRYSE BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING.