• Die ou vrou en die priester, deur Cecile Cilliers (Human & Rousseau, R195*)
  • Wit issie ’n colour nie, deur Nathan Trantraal (Kwela Boeke, R220*)

’n Jong bruin man en ’n bejaarde wit vrou se debuutkortverhaalbundels verskyn ’n maand uit mekaar.

Hul leefwêrelde kan nie verder uit mekaar wees nie, maar albei skryf in Afrikaans. 

Reeds hier, of veral hier, wys die verskil duidelik en interessant.

Cecile Cilliers skryf Standaardafrikaans. (Daar was ’n tyd toe dit as die “regte” Afrikaans voorgehou is.)

Cecile Cilliers. Foto: Brenda Veldtman

Nathan Trantraal noem die taal waarin hy skryf Kaapse Afrikaans. “Maar dis eintlik ’n bietjie inaccurate. Dit bevorder die idee dat die Afrikaans wat ek skryf net ’n streekdialek is van ‘Standaard-­afrikaans’, maar as jy na die oorsprong van Afrikaans kyk, sien jy die taal het eintlik in die Kaapse variant ontstaan. 

“Dit is naastenby die oorspronklike en oudste weergawe van die taal; dalk moet ek dit Klassieke Afrikaans noem.” 

Hy skryf “oorie liewe annie anne kant vannie kantlyn”.

“Daa is niks meer unimportant as die liewens van arm mense nie. As daa niks daa geskrywe innie margins staanie issit ma net oo dai stories nooit geskryf wôtie, of truthfully geskryf wôd ie.”

Nathan teken dit op in al hul skrynende maar plek-plek ook vermaaklike glorie. Een van my vele gunstelinge is oor ­Menee Goetham, ’n onder­wyser aan die Hoërskool ­Bishop Lavis wat ’n groot indruk op hom gemaak het.

Vir die mense was hy ’n “institution, ’n legend. Maa vi my was Menee Goetham die skool­menee innie skool se gang op sy knie biesag om een vannie rowwe laities se vietes vas te maak.”

Die skrywer sê hy sal altyd in dié taal skryf. “Ek het nie regtig ’n keuse nie; dit is die taal waarin my stories na my toe kom. Dit is die taal waarin ek dinge onthou. Ek skryf al in Kaaps lank voor mense my werk begin lees het en sal steeds daarin skryf nadat mense dit ophou lees het.”

Nathan Trantraal. Foto: Ronelda Kamfer

Cecile debuteer op 84 as kortverhaalskrywer, maar is natuurlik ’n gesoute rubriekskrywer. Sy verduidelik een van die redes dat sy begin kortverhale skryf het, was dat haar 30 jaar lange rubriek in ’n dagblad kortgeknip is. 

“Toe word ek uit frustrasie gedwing om kortverhale te skryf. Maar dit was ’n lang en moeisame proses; ’n rubriek is nie noodwendig ’n kortverhaal nie.”

In die openingsverhaal, Herrnhut, raak die 17-jarige Elsa vir die eerste keer in haar lewe verlief: op haar vriendin se pa, mnr. Fichardt, ’n geslote Duitser wat met sy siterspel “  ’n vreemde verlange” in haar wakker maak. In hul matriekjaar is sy een van drie meisies wie se soene op die tiekieaand uitgeveil word ter wille van ’n geld­insameling. 

Dan staan mnr. Fichardt skielik voor haar, neem haar gesig tussen sy hande, soen haar op die voorkop, op die ken, op die linker- en toe die regterwang.

“My mond, roep my hart, my mond. Maar hy soen nie my mond nie.”

Terwyl hy nog haar kop so vashou, beveel hy haar saggies om nooit weer na die Fichardt-huis te kom nie. 

Dit is naastenby die oorspronklike en oudste weergawe van die taal; dalk moet ek dit Klassieke Afrikaans noem.

Cecile skryf gestroop, en aspirantskrywers sou gerus ’n studie kon maak van haar raak tekening sonder oorvloedige beskrywings en byvoeglike naamwoorde.

Dit is ook interessant om die twee bundels se voorblaaie langs mekaar te sien. A Woman of the Twenties is die naam van die emotiewe skildery deur Robert Hodgins wat op Die Ou Vrou en die ­Priester pryk. 

Op Wit Issie ’n Colour Nie se voorblad stoot ’n meisietjie ’n soort amandla-vuisie die lug in. Dit is deur Nathan, wat ook ’n grafiese kunstenaar is, ontwerp, en die foto is deur sy vrou, die digter Ronelda Kamfer, geneem.

Cecile se gunsteling-storie in haar bundel

Kan jy ’n ma vra watter een van haar kinders haar gunsteling is?

En dis immers my kinders dié. Maar as jy daarop aandring, kies ek twee: Verlies en die verhaal wat daarop volg, Erika. Dis nie ’n tweeluik nie, maar die hoofkarakters is dieselfde sodat die oplossing van Erika as tweede slot van Verlies gelees kan word.

Daarby speel Verlies in die Kalahari af, waar ek en my geoloogman ’n jaar lank gewoon het. En daardie streek, sy stilte, naghemel en blom ná die reën, het my bekoor. Die Kalahari het hartswêreld geword. Daarom dié twee.

Nathan se gunsteling-storie in sy bundel

Op die oomblik is Wit Issie ’n Colour Nie my gunsteling; dit is die title-storie. Dit is die soort storie wat meeste mense op ’n wyse interpreteer wat meer van hulle sê as die storie self.

Die storie het gekom van ’n conversation met my vrou. Ons het gepraat oor die feit dat mens nie “wit” mense wholesale moet judge nie.

Toe sê sy vir my: “Wit issie ’n colour nie, wit isse religion.” Dit het my laat dink oor die verskil tussen velkleur en die ideologie van velkleur. Toe skryf ek ’n stuk rondom dit.

* Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.