Hier gaat ons!
Hier Gaat Ons!, waarin Gerard vertel van hom en sy
Hier Gaat Ons!, waarin Gerard vertel van hom en sy vrou, Anuta, se wêreldreise.

Deur Gerard Scholtz (Hemel & See Boeke; bestel by hemelenseeboeke@hermanus.co.za; R300, posgeld ingesluit)

Ek soek na Gerard Scholtz om met hom te gesels oor sy reisboek, Hier Gaat Ons!, waarin hy vertel van hom en sy vrou, Anuta, se wêreldreise. Eers was dit per fiets en die afgelope tyd per scooter waarmee hulle maklik 10 000 km per jaar aflê. Ek kry hom per e-pos in die hande waar hy laat weet hulle sit in Bern in Switserland en sou die volgende dag oor die Alpe ry.

“En toe vertrek ons vanoggend in die reën,” laat weet hy, “maar ons het mos ons kavalkade vrolike engele wat hul vlerke toe gelukkig wyd uitgestrek het, en die reën het opgehou. Teen die tyd dat ons by Gruyères kom om kaas te koop, was dit sonskyn. Maar toe wag die eerste bergpas in mis en reën en was ons omtrent verblind met afgronde eers links, dan regs.”

Waar in die wêreld was hulle nog nié?

“Hoewel ons al 70 of meer lande besoek het, was ons nog nie in die Amerikas, Australië of Nieu-Seeland nie. Ons het vier jaar in die Verre Ooste gewoon en van daar baie gereis, maar ons liefde lê in ­Europa, waarheen ons jaar ná jaar terugkeer. Ons soek na diepte, kontraste, uitdagings, tradisies en vreemde tale.”

Die Scholtze is pas terug uit Zambië en Malawi en sal graag weer wil terugkeer na Zambië, veral die Huangwa-streek.

“Tans is ons in Europa met ons geliefde scoot­ers, Silwer en Blou. Ons reis altyd rondom temas om dit betekenisvol te maak. Vanjaar is gedeeltes herbesoeke van ons fietsrydae. Die klooster van Grande Chartreuse in Frankryk wag hopelik op ons nadat ons al twee keer uitgereën is op pad daarheen,” vertel Gerard.

Anuta en Gerard Scholtz in Slowenië op die Mangar
Anuta en Gerard Scholtz in Slowenië op die Mangartpas in die Juliese Alpe, 2 072 m bo seevlak. Foto verskaf

“Ons gaan ook weer ?die Napoleonroete ry – ?die roete wat Napoleon Bonaparte ná sy ontsnapping van Elba deur Provence en die Haute-Provence gevolg het. Dan is daar besoeke aan dorpe waar van die impressionistiese skilders in Provence gewoon het. Ons volg ook Tweede ?Wêreldoorlog-paaie in die Italiaanse Alpe.”

Kan enige van hul reise as onvergeetlik uitgesonder word?

“Elkeen is on­vergeetlik. Daar is die Filippynse Eilande waarheen ons keer op keer teruggegaan het, Egipte se wit woestyn, die fietsreis van St. Petersburg na Moskou, Andalusië, Montenegro . . .

“Maar wat sal uitstaan, is ’n twee maande ­lange reis deur Serwië en Roemenië agter kloosters en ikone aan. Nie net het die landskappe en die wonderlike mense wat ons ontmoet het ons betower nie; dit was ’n diep spirituele reis.”

Begin baklei ’n mens nie as jy so heeldag in ­mekaar se geselskap is nie?

“Ons is al 43 jaar ge­troud en ken mekaar se grille en geite. Maar ons is wonderlike reismaats wat mekaar aanvaar en veral vertrou.

“Die manier waarop ons reis, is eintlik baie eensaam, want jy is die meeste van die dag ­alleen op jou fiets of scooter. Wanneer ons vir koffie of slaapplek stop, is daar so baie om oor te gesels. Veral as daar ’n ramp of groot avontuur was. Of bloot net om skoonheid te deel.

“Baie jare lank het ons met ’n klein tentjie gereis en was dit heerlik om aan die einde van ’n vermoeiende dag tent op te slaan en ’n nes te bou. Die laaste paar jaar airbnb ons, want dit is goedkoper as kampering.”

Net mooi fine
Lianie is op haar gelukkigste wanneer sy op haar f
Lianie is op haar gelukkigste wanneer sy op haar fiets is.

Deur Lanie van Reenen (Penguin, R169*)

Lanie van Reenen spoor ek per e-pos in Europa op waar sy op pad is om met haar fiets van Amsterdam na Brugge te ry.

Soos sy in haar tweede boek, Net Mooi Fine, skryf, is sy op haar gelukkigste wanneer sy op haar fiets is.

In haar eerste boek, C’est la Vie, het sy geskryf oor haar projek om ’n chateau in Frankryk te restoureer en as gastehuis te bedryf.

In haar tweede boek skryf sy oor die tyd nadat die projek skeefgeloop het. Sy het onder meer op haar eie per fiets ’n stuk van die Portugese ­Camino afgelê en saam met ’n groep na ­Everest se basiskamp gestap.

Lanie van Reenen op pad van Amsterdam na Brugge. F
Lanie van Reenen op pad van Amsterdam na Brugge. Foto verskaf

Het Net Mooi Fine vir haar afsluiting gebring?

“In die mate wat die skryfproses ’n te­rapeutiese proses was, is daar afsluiting in die sin dat jy ’n konkrete produk het – ’n boek wat jy kan vashou, wat jy kan neersit en vir jouself sê: Toe nou, dis nou uit en dis nou klaar; beweeg verder.”

Is dit nie moeilik om so jou binneste vir die wêreld bloot te lê nie?

“Aanvanklik met C’est la Vie was daar dalk ’n selfbewustheid; jy wonder hoe jou hart-op-die-mou-storie ontvang gaan word. Die terugvoer was net positief en ek het besef hoe baie mense aanklank vind by ’n warts and all-storie.

“Met Net Mooi Fine het ek dus reeds geweet daar is ’n empatiese gehoor. Daar is ’n belangrike keerpunt in my boek waar ek besef hoe belangrik kindness is – miskien trek dit kindness aan?

“Ek wil graag nog skryf. Dit is die heel lekkerste ding waaraan ek kan dink om te doen. Aan die ander kant wil ek nie eintlik hê my lewe moet veel meer drama inhou nie. Maar ek is nou eenmaal iemand wat my hand opsteek en sê: Ek wíl, ja.

“Daar gaan dus nog dinge gebeur om oor te skryf; dit weet ek klaar.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.