Lam ter slagting deur Madelein Rust (Lapa, R149*)
'Ek dink elke skrywer sit so ’n bietjie van hulself in hul hoofkarakters' - Madelein Rust.

VRAAG

Vertel van Renata se koskopery – mikrogolfetes by Woolies. Is dit om haar los te maak van tradisioneel vroulike kenmerke soos kos maak? Is dit ook hoekom sy ’n voorliefde vir whisky het, ’n tradisioneel manlike drankie?

ANTWOORD

Renata het nie ’n sterk vroulike rolmodel in haar lewe gehad nie. Daarby het sy in ’n miljoenêrshuis grootgeword waar die huishulpe verantwoordelik was vir kos maak. Haar lewenstaak (om moordenaars te vang) oorheers ook haar handel en wandel heeltemal.

Kos maak is die laaste ding op haar prioriteitslys.

Ek dink elke skrywer sit so ’n bietjie van hulself in hul hoofkarakters. Hierdie skrywer hou nie van kos maak nie. As dit moontlik was, sou ek van Woolies se mikrogolfetes geleef het.

Ek geniet self ’n glas goeie whisky; ek dink Renata het dit by my geleer.

VRAAG

Stefan vloek soos ’n matroos.

ANTWOORD

Sy taalgebruik is tipies van ’n hele paar polisiemanne wat ek al ontmoet het; dis ’n goeie weerspieëling van die werklikheid.

Ek dink lesers waardeer daardie eerlikheid en dis ook waarom dit meer geredelik aanvaar word. Dit sou net nie werk as Stefan pragtige Afrikaans gebesig het sonder ’n ou bar woordjie of twee nie.

Die lesers is mal oor Stefan-die-rowwe-diamant.

Een leser het my vertel dat sy hopeloos verlief is op die man, so dit wil voorkom asof sy taal darem nie te aanstootlik is nie.

VRAAG

Renata laat haar nie deur mans intimideer nie en sal nie eerste wegkyk nie. Is die oë-gevangehouery ’n tegniek wat ’n vrou suksesvol kan inspan as sy nie fisiek opgewasse is teen ’n man nie?

ANTWOORD

Beslis. Mans span dit ewe suksesvol in. Dis ’n subtiele teken dat geen vrees by jou bestaan nie. Wanneer die ander mens eerste oogkontak verbreek, is jou dominansie gevestig.

VRAAG

Wanneer Renata en Stefan die outistiese beeldhouer, Migal Vermeulen, gaan besoek, weerklink ’n Rachmaninoff-klavierkonsert deur die pakhuis. In die vorige boeke luister Renata self gereeld na klassieke musiek.

ANTWOORD

Renata het dit ook by my geleer. Wanneer ek tonele skryf waar ek die spanning tot op breekpunt wil laat opbou, luister ek na klassieke musiek.

Ek het ’n hele rits snitte op my rekenaar wat tog te pragtig werk wanneer ek atmosfeer wil skep. My oorfone is oor my ore en die musiek is kliphard aan.

VRAAG

Hoe na aan die werklikheid is jou tema van misdaad deur Vrymesselaars?

ANTWOORD

Ek dink enige organisasie het maar sy misdadige elemente. Sommige Jesters, ’n vertakking van die Vrymesselaars, is wel bekend vir hul betrokkenheid by mensehandel, prostitusie en ander onheilighede.


Dowe Gode Deur Dibi Breytenbach (Lapa, R239*)
'Die musiek speel in kontrapunt teen die absolute grusaamheid van die moorde en lykskouings; ’n beskawende komponent' - Dibi Breytenbach.

VRAAG

Vertel van Aella se onvermoë om kos te maak. Is dit om haar los te maak van tradisioneel vroulike kenmerke? Is dit ook hoekom sy ’n voorliefde vir whisky het, ’n tradisioneel manlike drankie?

ANTWOORD

Aella is ’n ernstige geweldsmisdryfondersoeker. Dit is ’n harde omgewing waarin relatief min maar besonderse vroue spesialiseer.

Wanneer sy heeldag op die spoor van boewe was, is kos maak die laaste ding op haar agenda. Sy is nie onvroulik nie; sy leef ’n dringende lewe met ernstige gevolge vir ander as haar ondersoeke onsuksesvol is.

Soos baie mense in dié milieu drink sy soms alkohol. Sy het gerook ook, en sy misbruik pynmedikasie in ’n poging om haar werklikheid draaglik te maak.

VRAAG

Whistler vloek soos ’n matroos.

ANTWOORD

Ek dink nie noodwendig dat ’n karakter móét vloek nie; in Whistler se geval is dit ’n karaktereienskap. Selfs Aella raas met hom hieroor.

Lesers moet verstaan dat die polisiewêreld nie noodwendig een is waarin “sagte” taalgebruik aan die orde van die dag is nie. Whistler laster nie en hy is nie banaal nie.

Lesers het my die indruk gegee dat hulle nogal ’n sagte plekkie vir hom het.

VRAAG

“Aella sit haar hande op haar heupe en hou sy oë met hare gevange. S.P. van der Walt is ’n intimiderende man.” Is die oë-gevange- houery ’n tegniek wat ’n vrou kan inspan as sy nie fisiek opgewasse is teen ’n man nie?

ANTWOORD

Daar is bitter min vroue wat fisiek opgewasse is teen mans en ek sou die tegniek nooit aanbeveel het as dit al is wat ’n vrou kon doen om haar vrou te staan nie.

In hierdie spesifieke voorbeeld is Aella egter ’n gewapende en opgeleide polisieoffisier; sy’s ’n kaptein, met rugsteun van haar kollega Sibisi.

Daarby is sy daaraan gewoond om haar gesag te laat geld, soms teenoor misdadigers en soms teenoor haar ondergeskiktes.

Geslag en tradisionele geslagsrolle is side ­issues in dié omstandighede, want sy tree op met die volle mag van die Staat agter haar. En sy’s besonder hardekwas.

VRAAG

Dr. Shana Singh doen nie ’n lykskouing sonder musiek nie en Aella speel baie goed klavier.

ANTWOORD

Ek is self ’n klassiek opgeleide pianis en kerkorrelis. Aella is eintlik ’n musikus wat om den brode ’n polisievrou geword het. Die musiek speel in kontrapunt teen die absolute grusaamheid van die moorde en lykskouings; ’n beskawende komponent.

VRAAG

Hoe na aan die werklikheid is die tema van bedrog met renosterstropery en versekeringsgeld?

ANTWOORD

Uiters naby. Daar is tans sulke sake wat voor die hof dien. 

* TEEN DIÉ PRYSE BESIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
FOTO'S: CHANTEL ELS, IZAK DE VRIES