Twee kinders later
Charmé Kriel. Foto: Jeanré du Plessis
Charmé Kriel met haar twee kinders. Foto: Jeanré du Plessis

DEUR CHARMÉ KRIEL (Lux Verbi, R199*)

November is die maand van nasionale bewustheid van vroeg­gebore-babas. Daar is nie ’n beter manier om dié verskynsel deur en deur te verstaan as om Charmé Kriel se boek oor haar en haar man, ­Francois, se skrikwekkende ervaring te lees nie.

Toe sy op 27 weke swanger hoor sy moet in die hospitaal opgeneem word tot die babatjie gebore word, het ’n bult in hul pad gekom wat byna te steil was. Charmé se simptome was ’n hemelhoë bloeddruk en proteïen in die urine wat op pre-eklampsie dui.

“Dit kan veroorsaak dat die ma stuipe-aanvalle kry, en dan is die kans op oorlewing vir ma én baba taamlik skraal.”

Die dokters wou die baba so lank moontlik binnehou sodat sy ­verder kon groei, maar ­dieselfde aand nog moes Charmé inderhaas oorgeplaas word na die Groote Schuur-hospitaal omdat die gevaar vir stuipe ál groter ­geword het.

Die privaat hospitaal waar sy eers was, het nie so ’n goeie neonatale eenheid gehad soos die staatshospitaal nie.

Twee onbekende vroue het gevra of hulle vir haar kon bid, hul hande liefdevol op haar voorkop en maag gesit en hierdeur haar doodsangs kalmeer.

Vier dae later moes daar ’n noodkeisersnee egter op haar uitgevoer word waartydens die dokters ­besluit het om eerste haar lewe te red en daarna te kyk of hulle iets vir die babatjie kon doen.

Sy vertel van ’n ongelooflike voorval toe sy met haar bed in die hyser gestoot word op pad teater toe. Twee onbekende vroue het gevra of hulle vir haar kon bid, hul hande liefdevol op haar voorkop en maag gesit en hierdeur haar doodsangs kalmeer.

Sy het hulle nooit daarna weer gesien nie en niemand het al ooit van hulle gehoor of hulle voorheen opgemerk nie.

Toe haar babatjie uitgehaal is, het sy 850 g geweeg.

“Ek het gedink aan ’n witbrood wat 700 g weeg en my brein kon nie dink dat ’n ­volmaakte mensie so klein en lig kon wees nie.”

Ná drie dae is Charmé ontslaan. Daar was niks verder vir haar om te doen nie; sy moes net bedags inkom om borsmelk te kom aflewer.

Toe sy en Francois wegry, het hulle nie ­gepraat nie. Toe haal hy iets agter die sitplek uit: “ ’n Groot boks Smarties en twee Steri Stumpies – ’n pienke vir my en ’n karamel een vir hom. Skielik het die trane in ons albei se oë opgedam.”

Sewe weke en vier dae ná haar geboorte het die kleine Lisa 1,58 kg geweeg en kon hulle haar eindelik huis toe neem.

Lees hoe hul pad verder verloop het tot nou, vyf jaar later en met ’n ­kleinboet wat bygekom het.

’n Uittreksel

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Op 12 Junie 2014, net vier dae ­nadat ek in die hospitaal op­geneem is, het ek heeltemal ­normaal gevoel. Besoektyd was van vieruur tot vyfuur die ­middag.

My man het gesê hy gaan nie daardie middag kan kom inloer nie, maar dat sy tannie wou kom kuier. Die dokters was net weg en ek het gou my tande gaan ­borsel en my hare gaan vleg ­sodat ek ­darem nie te sleg lyk as tannie ­Mercia daar opdaag nie.

Net toe ek my mond uitspoel, voel ek hoe ek in my broek piepie. Ek kon dit nie glo nie! Ek was amper 30 en ek piepie in my broek! Seriously! Wat nou nog?

Ek voel ’n bonatuurlike kalmte oor my neerdaal. Dis asof al die panieksensors in my brein afskakel.

Toe ek afkyk, sien ek net bloed. Bloedrooi bloed. Baie bloedrooi bloed. En ek voel hoe die bloed nie ophou vloei nie. Dit hou net aan stroom.

Ek voel ’n bonatuurlike kalmte oor my neerdaal. Dis asof al die panieksensors in my brein afskakel. Ek stap rustig in die gang af en vra dat die suster die dokter moet roep.

Binne ’n paar sekondes is daar sewe dokters om my bed. Die susters knip my splinter­nuwe pajamabroek met die hartjies op, wat my ma net die vorige aand vir my gebring het, af en prep my vir die teater. Die dokters sukkel om ’n aar te kry vir die drip, want my liggaam het ­dadelik begin opswel.

Die een dokter vertel in ’n kalm maar ernstige stem vir my wat aan die gebeur is.

“Jou ­plasenta het geskeur. Ons prep jou nou vir ’n noodkeiser. Ons moet jou man dadelik laat kom.”

Skielik verander die kalmte in my in ’n onbeskryflike vrees. ’n Gevoel wat ek nog nooit ervaar het nie. My kop begin weghol.

Koeke en terte: aanvaar mekaar se uniekheid
Susan Coetzer. Foto: Zoe Photography
Susan Coetzer. Foto: Zoe Photography

DEUR SUSAN COETZER (Lux Verbi, R179*)

“Platgevalde Koeke was almal eens jong Degies, vol potensiaal om ’n lieflike en unieke tuisgebak te word. Dalk was sommige van hierdie Platgevalde Koeke selfs vroeër sierlike Cupcakes met sterre in hulle oë . . . voordat die moeilike omstandighede die mat onder hulle voete ­uitgeruk het,” skryf Susan Coetzer.

Die gewilde skrywer en aktrise beskryf vroue se uniekheid so: “Vroue is so verskillend soos die ­koeke en terte en wat nog alles in ’n tuisnywerheid. Party is soeter, ander s(t)outer.”

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Vir elk van die 30 soorte vroue wat sy identifiseer, gee sy aanbevelings oor hoe om die “resep” te verbeter en beklemtoon sy dit wat werk vir hierdie soort vrou. Maar veral vra sy van die ­leser om vroue wat anders as sy is te help begelei op die geloofsreis.

“Moenie jou prestasies, sukses en selfvertroue met hare vergelyk nie, ook nie hare met joune nie. Môre, oormôre word die bordjies dalk verhang.”

* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.