OM TOT VERHAAL TE KOM

DEUR LIZETTE RABE (LAPA, R245*)

boeke,lizette rabe,lees
Om tot verhaal te kom.

Prof. Lizette Rabe is om twee redes die aangewese persoon om dié handleiding te geskryf het: Sy is ’n gesoute joernalis en sy het ’n seun aan die dood afgestaan.

Vir haar het skryf ’n “ander vorm van huil” geword. 

In die boek skryf sy: “Niks het oorgebly nie.“Niks het ek meer verstaan nie.“Niks het ek meer geweet nie.“Maar daar is tog een ding wat ek geweet het ek darem nog weet. Dit was dat ek van daardie verskriklike eerste oomblik – ver-skrik-lik, in die volle verskrikking van die betekenis – geweet het ek sal skryf.” 

Hieruit is gebore Om tot Verhaal te Kom: Verwerk Trauma en Verlies deur Skryfterapie.

Dit is ’n praktiese gids wat die ­leser wat sit met verlies, trauma, angs, woede en hartseer lei om hieroor aan die skryf te kom.

Of jy net vir jouself skryf en of jou skryfsels dalk later gepubliseer word, die feit is dat skryf jou sal help om op ’n ander manier met jou verlies en trauma om te gaan.

In Lizette se begeerte om sin te maak van die feit dat een van haar drie seuns nie meer hier is nie, het sy haar toevlug tot woorde geneem. “Struikelend, stotterend, stamelend. Maar skrýwend.”

Sy spreek dié wens vir haar ­lesers uit: “...dat skryf vir jou ’n te­rapeutiese ervaring sal wees en hierdie skryfterapiegids ook vir jou help om, al is dit dan net ten dele, ‘tot verhaal te kom’ ”.

Hier is van die sake wat Lizette bespreek:

  • Kry vir jou ’n skryfplek. “Die plek waar jy gaan sit om te skryf, die ruimte rondom jou, is belangrik. Dit kan die verskil beteken tussen gedagtes wat hul eie loop neem of gedagtes wat gaan stol.”

  • Begin net. “Die skrywer Ernest Hemingway het gevind as hy net een ‘regte sin’ kon skryf, kon hy verder gaan.”

  • Lees boeke met skryfraad. Hier gee Lizette ’n lys van titels, asook ’n verwysing na meer as 100 wenke deur bekende skrywers, onder meer dié een van Stephen King: “In skryfwerk en wanneer ’n mens slaap, leer jy om fisiek stil te wees; terselfdertyd moedig ons ons brein aan om hom af te sluit van die daaglikse sleur van rasionele denke.”
 Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.  

MANS EN HULLE WONDE 

DEUR  CAS VAN RENSBURG (Hemel & See-boeke, R180, ­posgeld ingesluit. Bestel by hemel­enseeboeke@hermanus.co.za of Helga by 082-750-7274)

mans en hul wonde,boek,cas van rensburg
Mans en hul wonde.

Terwyl vroue hulle dikwels steeds moet staal teen mans (van diskriminasie tot verkragting), verkeer mans terselfdertyd in ’n krisis. 

So stel Cas van Rensburg dit: “Hedendaags is dit alombekend dat veral mans in byna al die lande en kulture ’n moeilike fase betree het. 

Die grootste kenmerk hiervan is die voorkoms van geweld op ’n vlak wat soms aan die barbaarse grens. 

Daar word beweer dit is grootliks te wyte aan ’n onderdrukte woede in mans, ’n aggressie wat in byna elke verhouding...tot uiting kom.”

Cas, die gerekende skrywer van onder meer Jou ­Drome: Die Onbewuste Het Al die Antwoorde, is in 2018 oorlede voor die verskyning van sy jongste boek. Hy het Mans en Hulle Wonde bedoel as “die begin van ’n soort terapie”.

Hier is van die stellings wat hy ondersoek en bespreek:

“Mans is bang vir vroue. Die meeste mans het ’n onbewuste vermoede dat vroue hul manlikheid bedreig.”

“Die losmaak van die ma is uiters belangrik vir ’n seun se toekomstige ontwikkeling en vir sy omgang met die vroue in sy lewe.”

“Voel ek gemaklik in my manslyf en weet ek regtig wat dit behels om volledig – geestelik, fisiek en in my diepste sielswese – ’n mán te wees?”

Dit is ’n kosbare boek vir ma’s en pa’s van seuns, vir mans en hul lewensmaats.

Petrovna Metelerkamp, die uitgewer, sê iemand het vir haar gesê elke predikant behoort die boek te kry, “want mans moet begin praat oor hul wonde”.

Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.  

ONS RAAISELPAD MET ALZHEIMERSIEKTE 

DEUR ELISE NEL (LUX VERBI, R169*)

alzheimersiekte,boek,lees
Ons raaiselpad met alzheimersiekte.

Haar man (sy noem nie sy naam nie om sy privaatheid te beskerm) was briljant met ’n breë algemene kennis.

“Ek onthou hoe hy altyd die kunstenaar Pablo Picasso se 23 Spaanse name kon afrits, tot groot vermaak van sy jongste dogter.” 

Op 68 word alzheimersiekte egter by hom gediagnoseer nadat daar reeds geruime tyd kommerwekkende tekens was.

Een hiervan was ’n woedeuitbarsting toe Elise iemand se verjaardag vergeet het.

“Ek was so gegrief dat my sag­geaarde man in ’n buffel verander het. As ek maar geweet het dat dit nie hy was nie, maar ’n sluwe siekte wat toe reeds met sy denke gesmokkel het, sou ek dit baie anders hanteer het.”

Voor haar het ’n pad vol “skrik­dinge” gelê. Langs die pad was ook ongelooflike voorbeelde van vreemdes se deernis.

In een voorval op ’n lughawe – nadat hulle vir oulaas by hul kinders in Australië gaan kuier het – het haar man geweier om op die vliegtuig te klim by O.R. Tambo vir die laaste skof George toe. ’n Lugwaardin het tot haar redding gekom. 

“Sy het voor hom gaan staan, al twee sy hande in hare geneem, hom rustig in die oë gekyk en stadig begin agteruitstap. Met elke tree wat sy agteruit gegee het, het hy een vorentoe gegee. So het hulle tot op die vliegtuig gestap en stadig in die gangetjie af tot by ons sitplekke.” 

 Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.  

Begin nou skryf

Jy het 14 maande om jou roman te voltooi.

Die sluitingsdatum van NB-Uitgewers se vierde Groot Afrikaanse Romanwedstryd is 31 Augustus 2020. 

Groot pryse is op die spel. Die wenner ontvang R200 000, terwyl die tweede en derde prys onderskeidelik R70 000 en R40 000 beloop. 

Daar is ook ’n debuutprys ter waarde van R40 000. Die wedstryd vind net elke drie jaar plaas. 

Die wedstrydreëls en inskryfvorm is aflaaibaar by bit.ly/GrootAfrikaanseRomanwedstryd2021.

Skrywers se navrae kan tele­fonies gerig word deur 021-406-3412 te bel of per e-pos na ­romanwedstryd@nb.co.za.