Dooiegety
Bets Smith. Foto: Picasa
Bets Smith. Foto: Picasa

Deur Bets Smith (Lapa, R300)

Hoewel die dood saam met Rick se liggaam uit hul lewe vertrek het, was daar sedert die verdwynings ’n ander, ongewenste teenwoordigheid in haar huis. ’n Onbekende sluiper wat op 13-jarige dogtertjies teer, lê op die loer, gereed om te gryp wanneer sy nie op haar hoede is nie.

Daleen, ’n fotograaf, en haar tienerdogter, Dalri, gaan woon op ’n idilliese kusdorpie waar hulle die dood van hul man en pa moet verwerk. Nog hartseer tref hulle toe Daleen se beste vriendin op die strand uitspoel.

In die tyd rondom haar moord was Daleen se kamera op die naghemel gestel om sterbane af te neem. Sy vergroot van die foto’s en ontdek daar is ’n motor en ’n vae figuur voor Nerina se huis.

’n Ander tema in hierdie misdaadverhaal is die gevare waarin vandag se tieners onwetend kan beland, en hieroor het Bets Smith deeglik navorsing gedoen. Sy verduidelik wat die GNOC-partytjies is waarop sy afgekom het. Die akroniem staan vir “get naked on camera” en word gewoonlik deur ­pedofiele gebruik.

“Toe ek besluit om ’n weduwee in Dooiegety te gebruik, het ek haar met ’n tienerdogter ‘opgesaal’ omdat die verdwyning van tienermeisies vir my ’n ysingwekkende gedagte is.

Om die gevare waaraan tieners deesdae blootgestel is beter te verstaan, het ek ‘teenage slang’ ge-google en op ’n hele nuwe taal afgekom wat tieners geskep het om ouers in die duister te hou.

“GNOC is een van die woorde wat ek hier raakgeloop het.

“Asof op bestelling wys daar een aand in die middel van my skrywery ’n episode van Law & Order: Special Victims Unit waarin GNOC-partytjies ter sprake kom. En voilá, daar het ek ’n groot slagyster waarin ’n naïewe tienermeisie kan trap as sy nie weet wat GNOC beteken nie.”

Bets sê sy het geen idee of daar in Suid-Afrika wel sulke partytjies gehou word nie.

“Die verkoop van die video’s aan pedofiele was ’n kinkel geskep deur my verbeelding, maar iets wat ­iemand dalk al iewers gedoen het.

“As tienerouers bekommerd is, kan hulle Google gerus onder ‘teenage slang’ raadpleeg. Daar is verskeie webblaaie wat ’n hele geheime taal (met betekenisse) uiteensit wat hul oë sal laat rek.

“Daar is selfs foonapps waarmee ouers hul tieners se gebruik van die kodes kan monitor en inperk.

“Dit voel vir my ’n bietjie Big Brother-agtig, maar party ­ouers sal dit dalk wil weet,” sê Bets.

Dooiegety deur Bets Smith.
Dooiegety deur Bets Smith.

Sy beskryf haar gunstelingtoneel in Dooiegety:

Ná ’n onderonsie met ’n onafhanklike ondersoekbeampte by die aanklagkantoor kry die heldin, Daleen, ’n nota vasgeknyp onder haar motor se ruitveër: Curiosity killed the cat. Dan volg hierdie toneel:

Voor die skerp draai rem sy, maar die Golf versnel teen die afdraande. Die rempedaal sak sonder weerstand tot teen die vloer en die bande skreeu in die draai.
Moenie die stuur ruk nie. Rem met die ratte.

Sy wissel af na vierde rat. Die volgende draai snel steeds te vinnig nader. Wissel af na derde. Die enjin protesteer histeries, maar die reling spoed nader en die Golf hel oor na die afgrond.

Dalri het jou nodig, jy mag nie op die rotse hier onder ­eindig nie.

Die modderskerm gil teen die metaal en die Golf wieg terug op vier wiele. Die afdraand na die haarnaalddraai en afgrond verskerp.

Bly kalm, probeer die grondwal.

Sy trap koppelaar, wissel na tweede rat, ruk die handrem op, draai skerp na regs. Die ­enjin kerm, maar die Golf jaag oor die wit streep na die aan­komende baan, oor die geelstreep, af van die padskouer en tref die grondwal.

Toe word alles donker.


Doodsengel
Doodsengel deur Madelein Rust.
Doodsengel deur Madelein Rust.

Deur Madelein Rust (Lapa, R249*)

Dit was geregverdig. Sy het haar maar net verdedig. Sy is aangeval, gewurg, verkrag. Dit was nie haar skuld dat hy al sy gereedskap, insluitend ’n lang skroewedraaier, op sy agtersitplek gelos het nie.

Die ding was net dáár en sy het dit per ongeluk raakgevoel. Sy kan al die berig sien:

“Gerespekteerde sielkundige raak aan die suip by ’n nagklub, steek ’n skroewedraaier in ’n man se oog ná hulle seks gehad het in sy bakkie en toe vlug sy. By die huis aangekom, wis sy alle forensiese bewyse uit dat sy by die moord betrokke was.”

Hulle sal vir haar lag as sy sê dit was uit walging dat sy haar stort met bleikmiddel gewas en haar klere verbrand het.

In Madelein Rust se sesde roman het sy ’n ­gefolterde hoofkarakter, Magdalena, wie se lewe op ’n spesifieke spoor geplaas word omdat haar stiefpa haar kleintyd verniel het.

Sy sluit aan by ’n vigilantegroep toe sy voel die polisie versuim hul taak, en teen die tyd dat sy ’n pedofielnetwerk in ’n kinderhuis oopvlek, moet sy haar praktyk sluit en voor die gereg vlug.


Die man van Quatro
Die man van Quatro deur Calvyn van Niekerk.
Die man van Quatro deur Calvyn van Niekerk.

Deur Calvyn van Niekerk ?(Penguin, R209*)

Langs hom op die lessenaar lê sy ­pistool, ’n .45 Colt, op die oggend se koerant. Dis op bladsy drie oopgevou by die dubbelkolomberig oor ?die jong boer wat daardie gruwelike slagting op die familieplaas oorleef en nou ’n week later sy bewussyn in die hospitaal herwin het.

Dit moes nooit gebeur het nie. Dit was net nodig om ’n dossier uit ’n polisiekantoor te laat verwyder. Wat kan eenvoudiger wees?

Deur hierdie fout verloor die jong boer Thinus Olckers alles wat vir hom kosbaar is en begin ’n wraaktog waar niemand en niks ontsien word nie. Thinus se pad kruis ook met dié van die skat­ryk Patel wat byna permanent geknak is in ’n strafkamp in Sentraal-Afrika.

Kaptein Dirk Bremer is die een wat amptelik die geknoei moet ontrafel en is ook ’n man wat reëls en regulasies nie in sy pad sal laat staan nie.

* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.