50 Tulbagh onthou: ’n Herdenking van die aardbewing van vyftig jaar gelede
Bestel by tulbagh-onthou.org.
Bestel by tulbagh-onthou.org.

Deur Rosette Jordaan (uitgegee deur die Oude Kerk-volksmuseum, Tulbagh, R385, Postnet-koerierkoste ingesluit. Bestel by tulbagh-onthou.org.)

“Niemand het geweet van die geweldige spanning wat reeds onder hulle in ’n kraak van honderd miljoen jaar na ’n breekpunt aan die opbou was nie. En toe gebeur dit . . .

“Eers was dit net ’n vêraf rammeling, toe ’n voelbare trilling. Dit was 22:04 en reeds donker. Eers ’n harde dreuning gevolg deur ’n onheilspellende stilte.

“En toe kom die verwoestende skudding, die aarde bewe, die grond golf en skeur en mensgemaakte strukture begin meegee.”

Só word Gawie en Gwen Fagan hier aangehaal uit hul boek Church Street in the Land of ­Waveren.

Op 29 September 1969 is die Tulbaghvallei met al sy omliggende dorpies tot in sy fondamente geskud, en tot vandag toe nog vertel die mense stories van die angsnag en die spore wat die skudding gelaat het.

Rosette Jordaan en haar medeskrywers Calvin S. van Wijk, Theoniel Potgieter, Hannes Theron en Riaan de Villiers het in­teressante verhale en aspekte van die aardbewing in dié boek byeengebring.

Dr. Theron skryf onder meer oor die moontlikheid dat so iets weer sou kon gebeur.

“Al die data, geskiedkundig en hedendaags, toon duidelik dat die Tulbagh/Ceres-­omgewing een van die meer seismies aktiewe gebiede in Suid-Afrika is. Sy inwoners moet dus daarmee leer saamleef en hulle voorberei op moontlike toekomstige voorvalle.”

Against all odds: The epic story of the Oceanos rescue

Deur Andrew Pike (Jonathan Ball, R189*)

Andrew Pike was as maritieme regsgeleerde by die o
Andrew Pike was as maritieme regsgeleerde by die ondersoek betrokke. Foto verskaf

“Mayday, mayday!” weergalm die internasionale noodroep oor die radio. Kaptein Dettmar van die Nedlloyd Mauritius antwoord en hoor ’n manstem: “Ons sink! Ons het dringend hulp nodig!”

Die kaptein antwoord kalm hulle help graag, maar het die sinkende skip se ­presiese koördinate nodig. Toe die stem aan die ander kant net kon sê hulle is ­iewers tussen Oos-Londen en Durban, wil Dettmar weet wat sy rang is dat hy nie weet wat die koördinate is nie.

“Ek het nie ’n rang nie,” antwoord Moss Hills. “Ek is ’n ­kitaarspeler. Hier is niemand op die brug nie.”

Beskikbaar by Jonathan Ball.
Beskikbaar by Jonathan Ball.

Die kaptein van die Oceanos en sy senior offisiere het eerste in reddingsbote gevlug en 221 passasiers en junior bemanningslede aan hul lot oorgelaat op die vinnig sinkende skip.

Die ongelooflike verhaal klink soos ’n spanningsroman en word meesterlik herskep deur Andrew Pike, wat as maritieme regsgeleerde van die begin af by die ramp en die daaropvolgende ondersoek betrokke was.

Impossible return: Cape Town’s forced removals
Bestel by Kwêla Boeke.
Bestel by Kwêla Boeke.

Deur Siona O’Connell, met foto’s van David Brown (Kwêla Boeke, R205*)

“ ’n Opstapeling van verwoesting, verlies en verdriet uit Suid-Afrika se verlede word opgesom in dié witgepleisterde voorstadjie van Kaapstad.”
Dít is Harfield Village, die onderwerp van Siona O’Connell se boek Impossible Return: Cape Town’s Forced Removals.

Sedert daardie gedwonge verskuiwings wat nog tot in die 1980’s plaasgevind het, is die dorpie gegentrifiseer en vandag staan daar op die I love Harfield Village-webtuiste dat die bestuurskomitee (almal wit) hom beywer vir die bewaring van die “spesiale” karakter van die area.

Die wens word ook hier uitgespreek dat die voormalige inwoners nou vrylik kan loop deur die buurt waar hulle voorheen as onwaardig verklaar is en wat “net een ­generasie gelede hul eie was om te geniet”.

Dr. O’Connell, wie se grootouers aan ­vaderskant uit Distrik Ses verwyder is, skryf in haar voorwoord watter impak die foto’s van David Brown op haar gehad het.

Hy was ’n beeldhouer wat as student in 1972 foto’s van Harfield Village se inwoners geneem het. Sy het 46 jaar later gevra dat ’n plaaslike koerant van die foto’s plaas in die hoop dat sy van die mense kon opspoor.

Tot haar verbasing is sy oorval deur reaksie.

Dit het gelei tot ’n werksessie in 2018 van sowat 80 mense wat mekaar in dekades nie gesien het nie en van wie sommige destyds nog kinders was.

Sy het van hul stories en herinnerings opgeteken in hierdie aangrypende boek wat ’n mens net kan koud laat as jy jou nie kan indink hoe dit moet wees as jou huis by jou afgevat word en jy verskuif word na ’n plek waar jy nooit wou wees nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.