Mia: ’n ma se storie van verlies en hoop
Beskikbaar by Lux Verbi.
Beskikbaar by Lux Verbi.

Deur Mariska Robberts soos vertel aan Colette du Plessis (Lux Verbi, R220)

Op die Delvera-wynplaas draai die pottebakkerswiel om en om. Ma Mariska vorm ’n potjie op die wiel, Stéfan en Morné verf potte, pa Franché waag ook sy hand aan ’n pot en klein Mia maak ’n masker. Die kunswerke uit klei is allermins perfek, maar die doel is bereik: Die vyf Robbertse was saam. En hulle het saam gespeel en gelag.

Die Robberts-gesin het uit Bloemfontein in die Boland kom vakansie hou, ’n gastehuisie op ’n plaas gehuur en elke dag uitgery om nuwe plekke en dinge te ontdek.

Die opwinding van die oggend hang in die Mercedes-bussie op pad terug na die gasteplaas, skaars 10 km van die wynplaas af. Net vir hierdie een rit mag Mia voor op haar ma se skoot sit. Andersins is sy altyd stewig vas­gegord. Soos ’n herfsblaar, so lig is sy.

Later dwarrel sy lig deur die wind, op pad na ’n nuwe bestemming.

Die gesin se voertuig bots teen een van die trekkers wat dikwels op hierdie pad, wat om­soom is met wingerde, ry.

Ma, pa, twee boeties en huishulp word lig beseer, maar Mia word by die venster uit­geslinger en is op slag dood.

Mia: ’n Ma se storie van verlies en hoop is ’n ma se hartseer verhaal van hoe sy die voortydige dood van haar driejarige dogter in 2013 ervaar en probeer verwerk het.

Lesers stap die pad van begin tot einde met haar saam tot hulle hopelik soos sy troos begin ervaar.

Dit kos tyd, selfs al is jy lief vir God en al glo jy in sy beloftes. Selfs al glo jy jy gaan jou geliefde weer sien, kos dit tyd voor daardie wete jou enigsins begin troos. Jy strompel soms koersloos, doelloos, hopeloos verdwaald deur jou eie trane, en dit kos tyd.

Dit kos soek en snuffel voor jy klein ontdekkings begin maak van daardie dinge wat God vir jou stuur om jou te vertroos. En dit kom onverwags, daardie eerste glimlag ná die baie pyn.

My groot lofkleuterbybel
Beskikbaar by LAPA Uitgewers
Beskikbaar by LAPA Uitgewers

Deur Jan de Wet (LAPA Uitgewers, R220)

Die singende predikant, soos Jan de Wet bekend geword het, is ook bekend vir sy betrokkenheid by die kinderproduksies Lofkleuters en Loflaaities. Hieruit het My groot lofkleuterbybel ontstaan.

Hierin word 50 verhale uit die Ou en Nuwe Testament deur Jan oorvertel. Lilani Brits se kleurryke illustrasies op elke bladsy maak die groot slapbandboek nog aantrekliker.

Daar is ook twee groot pluspunte: Die lettertipe is so groot dat kinders wat begin lees dit sal geniet om self vir kleiner boeties en sussies voor te lees.

Die ander bonus is die QR-kode wat in die boek gegee word. Deur dit te volg kry jy gratis toegang tot voor­lesings van sommige van die stories, en daar is ook bypassende musiek. Die QR-kode is voor by die “Nota aan ouers”.

  • Dit is geskik vir kleintjies tot so ses jaar oud.
My eerste Bybel
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Wendy Maartens; illustrasies: ­Honor Ayres (Lux Verbi, R175*)

My eerste Bybel bestaan uit 43 van die bekendste verhale uit die Ou en Nuwe Testament. Elk word baie kort en in maklike taal oorvertel en elk eindig met ’n gebed van een sinnetjie.

Die verhaal van Dawid en Goliat eindig byvoorbeeld so: “Here Jesus, ek skrik nie vir boelies nie, want U is by my.” Die gebed by die storie van Moses in die mandjie sê dankie vir “die mense wat mooi na my kyk”. Alles word dus prakties verstaanbaar gemaak vir heel jong kinders.

Die illustrasies is in helder kleure gedoen met genoeg detail om ook die kind se aandag te hou.

  • My eerste Bybel is geskik vir kinders van 1 tot 3 jaar oud.
* TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Bybelliedjies vir kleintjies en kleuters
Beskikbaar by Tafelberg.
Beskikbaar by Tafelberg.

Saamgestel deur Gertie Smit; illustrasies: Tasia Rosser (Tafelberg, R235)

Hierdie boek bevat die bladmusiek van 40 oorspronklike Afrikaanse Bybelliedjies en -stories wat vir kleintjies goeie waardes aanleer, soos om nie te jok nie, sowel as gebedjieliedjies. Hierby ingesluit is ’n CD waarop al die liedjies gesing word.

Die samesteller, Gertie Smit, wat in vroeëkindontwikkeling spesialiseer, verduidelik agterin die boek hoe die liedjies gebruik kan word.

Kinders kan byvoorbeeld luister na die liedjie en die aksies doen soos “Bene om te stap” en “My lyfie is ’n wonderwerk”. Hulle kan vrae beantwoord, soos by “Is dit nou mooi?” waar die juffrou dit sing en die kinders antwoord: Nee, nee, nee!

Sy verduidelik ook breedvoerig hoe die liedjies aansluit by ses vroeë leer- en ontwikkelingsareas in die nasionale kurrikulum.

Waar die boek ook ’n baie nuttige hulpmiddel in die klaskamer of by tuisonderrig kan wees, is die sewe bekende Bybelverhale wat tot musiekstories verwerk is.

Dit werk so: Op dag 1 vertel die opvoeder die storie en sing die liedjie. Op dag 2 luister die kinders na die CD en kyk na die prent in die boek. Op dag 3 help die opvoeder die kinders om die aksie uit te beeld. Op dag 4 hou die kinders “konsert” deur die storie uit te beeld terwyl die CD speel.

Die liedjies op die CD word vertolk deur Marlie Katzke en André Terblanche, en die musikale verwerkings en opname is deur Bram Potgieter gedoen.