Ontdek diere

Deur Tom Jackson (in Suid-Afrika uitgegee deur Human & Rousseau, R149*

Ontdek diere
Bestel by takealot.com

Al kla mense oor slakke, is daar nie in die natuur iets soos peste nie.

“Mense noem sommige diere ‘peste’ wanneer hulle gewasse beskadig, mak diere aanval of siektes versprei.”

Maar dis alles die mens se skuld wat so ’n groot impak op die omgewing het.

Hier is vier van die “peste” wat floreer omdat hulle in ’n mensgemaakte omgewing aangepas het:

  • Stadsduiwe leef van afvalkos en broei vier of vyf keer per jaar. Hoë geboue vervang die hoë kranse waaraan hul voorvaders gewoond was.
  • Die tuinslak sien jy baie op die blare van ’n groente- of blomtuin waar hulle blitsig alles opvreet wat mooi of lekker is. Helix aspersa kom uit Europa en ry die afgelope 150 jaar alte lekker saam na al die lande waarheen groente uitgevoer word.
  • Kakkerlakke hou van alles wat vrot en kan siektes oordra.
  • Daardie aaklige bloedsuiers wat jou snags verpes, naamlik muskiete, kan siektes soos malaria en geelkoors versprei.

En net soos die klimaatskrisis is “peste” mense se skuld. Hierdie boek het egter baie ander wonderlike feite oor “die wonders van die diereryk – van die kleinste insekte tot die enorme boggelrugwalvis”.

Briljant! Opwindende eksperimente vir jong wetenskaplikes

Deur Dorling Kindersley, (in Suid-Afrika uitgegee deur Lapa Uitgewers, R250)

Briljant! Opwindende eksperimente vir jong wetensk
Bestel by takealot.com

Jy het seker al borrels geblaas deur ’n plastiek- of draadogie, maar sou jy nie graag massiewe borrels wou blaas nie?

In hierdie boek word stap vir stap vir jou verduidelik hoe jy dit kan doen.

En het jy geweet borrels kom dikwels in die natuur voor? 

Dit gebeur deur stowwe wat plante en diere afskei, maar daar is ook diere wat met opset borrels maak. So is daar ’n seilslak wat borrels in sy slym blaas om ’n vlot te maak “wat hy gebruik om honderde kilometer oor die oop see te vaar”.

In dié boek is fantastiese eksperimente wat jy en jou maats kan doen, soos met ’n lugkanon, sonwyser, watervuurpyl, kompas en wat nie alles nie.

  • Geskik vir kinders van 10 tot 14.

Hoekom nie? 1 111 vrae en antwoorde vir nuuskierige agies

Deur Crispin Boyer (in Suid-Afrika deur Tafelberg uitgegee, R350)
Hoekom nie? 1111 vrae en antwoorde vir nuuskierige
Bestel by takealot.com

Wonder jy ook hieroor?

  • Hoekom kan ek myself nie kielie nie?
  • Hoekom is daar nie enige dinosourusse oor nie?
  • As ons nie die weer kan beheer nie, hoe beïnvloed ons die klimaat?
  • Hoekom kan ek nie my bes doen as ek onder druk is nie?
  • Hoekom kan ons nog nie kanker genees nie?
  • Hoekom is alle motors nie elektries nie?
  • Hoekom kan ek nie in ’n huis gebou uit Lego-blokkies woon nie?

Selfs al is jy net oor een van hierdie vrae nuuskierig, sal jy mal wees oor die boek, want daar is so baie interessante inligting oor soveel verskillende onderwerpe.

  • Vir kinders tussen 9 en 14.

Die periodieke tabel-boek

Deur Tom Jackson (in Suid-Afrika uitgegee deur Protea, R359*)

Die Periodieke Tabel-boek: ’n Visuele Ensiklopedi
Bestel by takealot.com

Hierdie “visuele ensiklopedie van die elemente” deur die befaamde ensiklopediemakers Dorling Kindersley is so ’n skatkis dat ’n mens nie iets oor al 118 elemente kan sê nie.

Hier is dus net 10 van die minder bekendes:

1. Hafnium

Hafnium klink aanvanklik so vervelig dat ’n mens hom wil ignoreer, maar wag, hy het ’n belangrike plek in ons wêreld!

“Dit word gebruik in klein elektroniese toestelletjies wat maar ’n paar miljoenstes van ’n millimeter breed is en in mikroskyfies voorkom.”

2. Wolfram

Hoekom word wolfram in die gloeidraad van gloeilampe gebruik?

“Dit het die hoogste smeltpunt van alle metale: Dit word eers vloeibaar teen 3 414 °C.”

3. Tantaal

As jou ouma ’n heupvervanging moet kry, sal sy dankbaar wees vir tantaal, want ’n mens kan tog nie met metaal wat sleg is vir jou in jou lyf rondloop nie.

“Dié harde metaal is onskadelik (hipo-allergenies) vir die menslike liggaam en word daarom gebruik om kunsgewrigte en ander inplantings te maak.”

4. Nobium

Nobium is nog ’n vriendelike metaal: “Omdat dit nie negatief met die menslike liggaam reageer nie, word dit in byvoorbeeld pasaangeërs gebruik.”

5. Antimoon

Antimoon wen amper die prys vir die verveligste element, maar hy het darem ook ’n doel in die lewe: “Vuurhoutjies met antimoon in die kop brand helderder as dié daarsonder.”

6. Yttrium

Yttrium kom 400 keer so algemeen in die aardkors voor as silwer. Wat ’n vreemde ding om te sê!

Enigiets kan mos baie meer of minder as iets anders in die natuur voorkom. Hoe dit ook al sy, jy kry vreeslik baie yttrium in die klipmonsters wat Nasa op hul maansendings versamel het.

Jy kry yttrium ook in kool, daardie groente waarvan jy moontlik nie hou nie.

7. Stronsium

Dit klínk nie net snaaks nie; dit ís ’n bietjie snaaks, want dit word in party soorte tandepasta gebruik, maar ook so: “Radioaktiewe stronsium bied ’n elektrisiteitsbron op afgesonderde plekke waar geen kragdrade of brandstof is nie.”

8. Tegnesium

Dit is die eerste element wat kunsmatig gemaak kon word.

“Dit word in ’n pasiënt se liggaam ingespuit sodat been met spesiale masjiene sigbaar word.”

9. Molibdeen

Jy baat dalk by molibdeen sonder dat jy dit weet.

“Omdat dit lig is, is dit die ideale materiaal vir fietsrame. Nogtans is dit hard genoeg om stewige gereedskap van te maak.”

10. Seaborgium

Hoekom weet ons so bitter min van seaborgium?

“Seaborgium-atome verval binne sowat 3 minute.”

  • Die boek is geskik vir kinders van sowat 10 tot 14, maar dis nie te sê dat jonger en ouer kinders dit nie ook sal geniet nie. Dit kan beslis vir die biblioteek gekoop word. 
Let wel

* Teen dié pryse beskikbaar by takealot.com.

Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.