Identifiseer die bome van Suider-Afrika
Ons sit met sowat 2 100 inheemse spesies in ons la
Ons sit met sowat 2 100 inheemse spesies in ons land plus nog ’n paar honderd uit ander dele van die wêreld

Deur Braam van Wyk & Piet van Wyk (Struik Nature, R249*)

Die boek is ’n nuwe, bygewerkte weergawe van die eerste uitgawe in 2008.

Nes ’n mens voëlkykers kry, kry jy boom­kykers, en as jy eers met dié stokperdjie verlei word, word dit ’n uitdaging om elke boom wat oor jou pad kom te identifiseer.

En dis hier waar amateurs tesame met kenners soms moed verloor, want ons sit met sowat 2 100 inheemse spesies in ons land plus nog ’n paar honderd uit ander dele van die wêreld.

Maar, skryf Braam van Wyk in sy voorwoord: “Die hoofdoel van hierdie boek is om die geheimsinnigheid rondom die onderwerp te vervang met kennis wat die nuweling in staat sal stel om bedrewe te raak in die identifisering van bome.”

Hy sê ’n mens moet die kenmerke kan raaksien wat gebruik word om bome in groepe te plaas. In die boek is 43 boomgroepe wat op maklik waarneem­bare stingel- en blaarkenmerke gegrond is.

Die persstamkanniedood (Commiphora multijuga), byvoorbeeld, behoort tot die maroelagroep en deel dieselfde kenmerke met die teerhout, wildepruim, dikbas en maroela.

Een van die gedeelde kenmerke is die aanwesigheid van melksap, en die skrywer gee ’n waarskuwing wat die persstamkanniedood betref: “Die melksap is onder aansienlike druk, en dit kan tot 10 cm hoog uit gebreekte takkies spuit. Dis uiters pynlik as dit in die oë beland.”

Die boek met sy honderde kleurfoto’s is op glanspapier gedruk en stewig gebind om al die boomsoekritte in die motor se paneelkissie te oorleef.

A guide to the dragonflies & damselflies of South ­Africa
Wat is die verskil tussen dié twee insekte wat soo
Wat is die verskil tussen dié twee insekte wat soos karakters in ’n feë­verhaal lyk?

Deur Warwick & Michèle ­Tarboton (Struik Nature, R239*)

Die tweede uitgawe wat pas verskyn het, is volledig bygewerk en dek al 164 spesies wat in Suid-Afrika, Lesotho en Eswatini voorkom.

Dit word in die klassieke veldgidsformaat aangebied en volgens families (ses waterjuffertjie- en ses naaldekokerfamilies) in­gedeel.

Dis nie net Afrikaans wat poëtieser name vir hulle as die Engelse draakvlieë het nie: In Frans is waterjuffers demoiselles, en naaldekokers is monsieurs.

Die Afrikaanse name word deurgaans in die boek gegee, soos in die geval van die Orthetrum icteromelas.

In Engels heet hy ’n “spectacled skimmer” en in Afrikaans ’n brilskepper. Twee opvallende swart sirkels laat dit kompleet lyk of hy ’n bril dra.

En wat is die verskil tussen dié twee insekte wat soos karakters in ’n feë­verhaal lyk?

Waterjuffertjies is fyner gebou as naaldekokers, hul voor- en agtervlerke lyk dieselfde, terwyl naaldekokers s’n van vorm verskil, en hul oë sit ver uitmekaar waar die naaldekoker s’n op hul kop aaneenloop (met die uitsondering van die Gomphidae-familie).

Field Guide to mushrooms and other fungi of South Africa
In hierdie nuttige veldgids kry jy meer as 850 fot
In hierdie nuttige veldgids kry jy meer as 850 foto’s

Deur Gary B. Goldman & Marieka Gryzenhout (Struik Nature, R279*)

Sampioene is nie plante of diere nie; dit is ’n unieke groep organismes wat in ’n ongelooflike verskeidenheid vorms, groottes en kleure voorkom.

In hierdie nuttige veldgids kry jy die volgende:

  • Meer as 850 foto’s.
  • Tweehonderd van die opvallendste sampioene en ander fungi in ons land.
  • Elke spesie word verstaanbaar aangebied sodat dit maklik in die veld geïdentifiseer kan word.
  • Verspreiding, ekologie, grootte, eetbaarheid, giftigheid en ander interessanthede word aangedui.
  • Riglyne word gegee as jy ’n sampioenjagter wil word en ook hoe om hulle af te neem.

Al die Afrikaanse name word gegee, soos die Lysurus corallocephalus wat kragtig (maar nie kort nie) ’n koraaltopstinkhoring genoem word.

Hy is mooi maar oneetbaar en kom onder meer in mielielande en akasiawoude voor.
Sy naam verdien hy omdat hy ’n reuk van vrot vleis afgee. Dit lok vlieë wat dan weer sy spore versprei.

The annotated old fourlegs – the updated story of the coelacanth
Die boek sal nie net in die smaak van nuuskierige
Die boek sal nie net in die smaak van nuuskierige volwassenes val nie; ook in dié van hoërskoolkinders wat wyd lees.

Deur Mike Bruton (Struik Nature, *R350)

Vir diegene wat nog nie die storie van die selakant gelees het nie, wag daar ’n avontuurverhaal oor ’n stok­ou vis en ’n professor wat ’n kultus­figuur geword het en Suid-Afrikaanse wetenskap internasionale aansien gegee het.

Prof. J.L.B. Smith was ’n chemiedosent aan die Rhodes-universiteit wat mettertyd ’n visnavorser geword het. Sy boek Old Fourlegs, oor die ontdekking van die eerste selakant in 1938 en die tweede in 1952, het in 1956 die eerste keer verskyn. Dit is ses keer in Engels heruitgegee en in nege tale vertaal.

In daardie stadium het wetenskaplikes gereken die selakant – wat 400 miljoen jaar oud is – het al sowat 66 miljoen jaar gelede uitgesterf.

Mike Bruton, wat onder J.L.B. en sy vrou, Margaret, aan Rhodes studeer het, was voor sy aftrede die direkteur van die J.L.B. Smith-­instituut van Igtiologie.

Hy vertel in sy voorwoord baie interessant van ’n boek wat hom geïnspireer het – The Annotated Alice deur Lewis Carroll – waarin agtergrond gegee word om hierdie verhaal in sy tydskonteks te sien en beter te verstaan.

Hy het dieselfde met Smith se boek gedoen: Die oorspronklike teks is hier gedruk met groot kantlyne waarin Bruton aantekeninge gemaak het, foto’s ter toeligting geplaas het en ekstra feite gegee het.

Die boek sal nie net in die smaak van nuuskierige volwassenes val nie; ook in dié van hoërskoolkinders wat wyd lees. 

* Teen dié pryse beskikbaar by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.