Debora gaan huis toe

Deur Helene de Kock (R220*)

Helene som haar nuutste verhaal op

“Dis die 1960’s en dr. Debora Schlagerfeldt gaan Oos-Vrystaat toe om haar pa in sy praktyk te help.

"Sy is bekwaam, koppig en sensitief. Sy is meelewend, maar nie ’n baie goeie kommunikeerder nie en mans vind haar koel, soos haar neefs Jakob en Dieter Schlagerfeldt dit stel: ‘Debora is hopeloos met hartsake.’

“Tog raak sy smoorverlief op iemand wat glad nie by haar voorgenome bestaan op haar tuisdorp inpas nie, ’n hartchirurg uit Kaapstad. Dr. Tristan Murray is enigmaties en het sterk menings, maar is begrypend en nie ’n maklike man om te lees nie. Dit is juis hierdie aan-af-toeganklikheid wat Debora onseker maak. Oplaas sê Tristan hy kan nie ’n verhouding tussen hulle toelaat nie.

“Dit laat haar Londen toe vlug, waar haar neef Jakob reeds is. Die swygsame, intelligente Jakob is my gunsteling-newekarakter.

“Dis terloops die einde van die Debora-reeks.”

Helene skryf oor spioenasie

“Debora en Jakob raak betrokke by die Koue Oorlog, hy as agent van MI6 en Debora as die ‘bewaker van ’n legende’. Die legende is Jakob en ander agente se stories wat as die waarheid voorgehou word.

“Sy vergeet nooit van Tristan nie. Debora se pa, Marnitz, was tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n agent vir MI6 en van sy vriende is steeds agente. Dis een van hulle wat Jakob en Debora nader om vir MI6 te werk.

“Ek lees dikwels misdaad- en spioenasieverhale. Ook niefiksie oor onderwerpe soos die Koue Oorlog en intelligensiedienste. John Grisham het op ’n keer aan sy lesers vertel dat hy nog nooit ’n spioen was nie en nie regtig soveel van intelligensie weet nie, maar sy verbeelding werk goed. Dis na my mening wat fiksie is: die vermoë om jouself in ander se plek te stel. Dis wat ek hier ook gedoen het.”

Hoë hakke met hoogwater

Deur Jacolet van den Berg (Kwela, R205*)

Die noodlot bring ’n surfer-meisie, ’n wulpse huisvrou en ’n weduwee – al drie platgeslaan deur die lewe – saam in ’n kombi. Het alle vroue nie ’n kombi nodig nie?

“Nie noodwendig nie, maar ’n onverwagte kombi met ’n paar pare ore wat luister, kan situasies in perspektief stel, soos in Maggie se geval. Simoné het nodig gehad om weg te breek, en Andrea moes ’n blaaskans kry. Al drie kon kopskoonmaak in die kombi.”

Jou gunstelingkarakter?

“Soos ’n ma wil ek nie kies tussen my babas nie. Elke karakter het haar rol vertolk soos sy moes, maar ek het my tog in Andrea se andersheid verlekker en Maggie se groei het my beïndruk.”

Glo jy in gelukkige eindes?

“Die afsluiting van ’n storie kan ’n verhaal vlerke gee of laat val. Die einde hoef nie noodwendig gelukkig te wees nie, maar daar moet ten minste hoop wees vir die karakters en die mensdom!”

Wie’s Jacolet?

“Ek het dieetkunde studeer, maar woorde was nog altyd my passie. Ek het ’n ATKV-woordveertjie vir my eerste boek, Lied in Jou Hart, gewen.”

Die einde van die storie

Deur Santie van der Merwe (Lapa, R219*)

Die vroulike hoofkarakter

“Lizzie is ’n uitgesproke, doodgewone middeljarige vrou wat haarself eindelik aanvaar, grys hare, vetrolletjies en al. Sy is tevrede met haar werk en huis en geniet haar stokperdjie. Hul dogter, wat nou haar eie potjie krap, se afwesigheid dwing Lizzie om haar huwelik in oënskou te neem en sy twyfel nou of sy haar man nog liefhet.”

Die manlike hoofkarakter

“Marthinus is ’n doodgewone middeljarige man van min woorde met ’n effense boep. Hy hou van sy werk en het Lizzie lief nes sy is. Hy dink hul lewe saam is perfek en wil niks daaraan verander nie. Hy ontken dat hulle ’n probleem het en weier om daaroor te praat.”

’n Gunsteling-newekarakter (behalwe hul hond, Frik)

“Marthinus se ma, Cornelia, ’n sterk, effens intimiderende vrou wat Lizzie se situasie verrassend goed verstaan.”

Wie’s Santie?

“Ek is ook ’n doodgewone middeljarige vrou, maar is baie gelukkig in my huwelik van amper 30 jaar. Ek was ’n tuisblyma en het eers begin skryf nadat my jongste kind universiteit toe is. Ek geniet elke oomblik van my nuwe loopbaan.”

Wilde Klawer

Deur Vita du Preez (Lapa, R219*)

Die heldin

“Die vurige McKenna Wilde is ’n vrye gees met psigiese vermoëns wat haar nie aan konvensies steur nie en haar eie kop en intuïsie volg.

"Vir dié ekstrovert wat verkies om op die ligter sy van die lewe te fokus is haar spesiale gawe – om deur aanraking te ‘sien’ – eerder ’n vloek as ’n seën.”

Die held

“Tim Els is ’n tandarts wat ná ’n persoonlike tragedie na Noord-Ierland verhuis.

“McKenna besef sy kan haar gawe gebruik om hom te help om afsluiting te kry. Maar dit is moeilik om teen ’n spook om ’n man se hart te baklei.”

Vita se skrywery

“Ek was 40 toe die skryfgogga my byt. Die media het destyds gegons oor die sogenaamde ‘hygroman’ en ek het besluit om my hand aan een te waag. Dis 25 jaar later en ek skryf steeds oor die liefde.

“Vir my is dit belangrik om die boodskap oor te dra dat vroue nie mans se onderdane hoef te wees om hul liefde te verdien nie en dat standvastige verhoudings almal beskore kan wees as ons ons lewensvreugde, balans, humorsin en respek vir onsself en ander behou.” 

Teen dié pryse beskikbaar by Takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder vooraf kennisgewing.
Foto's: Hanneri de Wet, Estie Thirion, Lea Pearce, Rochelle Steyn