The Ultimate Guide To Retirement in South Africa

Deur Bruce Cameron en Wouter Fourie (Zebra Press, R229*)

“Die meeste mense is ryk vir een enkele dag in hul lewe: die dag waarop hulle aftree en hul aftree- spaargeld ontvang.”

So staan dit agterop dié waardevolle boek wat jou met praktiese raad help om jou sente te rek wanneer jy nie meer aan die einde van die maand daardie salaristjek in jou bankrekening sien nie.

Die meeste van ons is moeg daarvoor om heeltyd te hoor ons tref nie genoeg voorsorg vir ons oudag nie en dat ons eendag van brood sal moet leef. Dié boek help jou om goeie besluite te neem.

Selfs al het jy te min voorsorg getref, kan jy met die hulp van ’n betroubare finansiële konsultant planne maak. (Dit moet iemand wees van ’n gevestigde onderneming, nie iemand wat aan jou voordeur klop en jou die maan en sterre beloof nie.

Onthou, as dit te goed klink om waar te wees, is dit te goed om waar te wees.) Die skrywers sê as jy jou aftreegeld laat bekyk en dis nie genoeg om die leefstyl voort te sit waaraan jy gewoond is nie, het jy ’n keuse: Stel jou aftrede uit of kry ’n aftreewerk.

’n Goeie alternatief is natuurlik om jou leefstyl af te skaal. Die boek gee nuttige wenke oor alles wat ’n mens moet weet oor jou aftrede, onder meer oor belasting, boedelbeplanning en gesondheidsorg.

Agterin is kontakbesonderhede as jy raad soek oor byvoorbeeld krediet, skuld, finansiële raadgewers, beleggings en lewensversekering.

In sy voorwoord sê Pravin Gordhan, ons voormalige minister van finansies en nou minister van openbare ondernemings, die boek is inklusief: “Dit fokus op vroue om balans te bring ná aftrede-opsies wat eintlik nog altyd ten gunste van mans was.

Maatskaplike toelaes word ook deeglik bespreek, onder meer die proses om so ’n toelae te kry.”

Belangrike vrae wat onder meer in die boek bespreek word:

  • Het ek genoeg gespaar?
  • Wat gebeur as ek leef tot in my 90’s?
  • Wat gebeur as ek of my lewensmaat se gesondheid verswak?
  • Kan ek dit hoegenaamd bekostig om af te tree?
  • Hoeveel geld is genoeg vir my aftrede?

Rand en sent – Jou Gids Tot Suksesvolle Finansiële Bestuur

Deur Suzaan Steyn (Penguin, R179*)

Haar metodes klink dalk “wreed, maar dit is die enigste manier om kinders die waarde van geld te leer,” verduidelik Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla) hoe sy haar dogter, Luca (8), geldslim maak.

“Toe sy klein was, het ek altyd gesê: ‘Maak ’n lysie van wat jy wil hê en bring jou beursie saam.’ Soms sou ek haar die geld in die winkel voorskiet, maar dan moes sy dit terugbetaal wanneer ons by die huis kom.

“Sy moet weet dit beteken nie ons is suinig nie; dit beteken net ons verkwis nie geld nie.” Rand en Sent, saamgestel deur Suzaan Steyn, wat die gelyknamige program op RSG aanbied, wemel waarlik van praktiese wenke om jou geld vir jou te laat werk.

Dit het ook “outydse” maniere om die begroting te laat klop: “Trek aan die begin van die maand geld wat jy beskikbaar het vir kruideniersware; sit die kontant vir elke week in ’n koevert en merk dit Week 1, Week 2, ensovoorts,” skryf Matthys Potgieter, skuldkenner by DebtSafe.

“Gebruik dan net daardie geld vir jou kruideniersware. Wanneer dit op is, kan jy nie verder koop nie. Jy sal vinnig agterkom hoeveel jy op artikels uitgee wat jy regtig nodig het en hoeveel geld jy onnodig bestee.”

Hier is onder meer raad oor spaar, besparing, skuld, jou kredietrekord en hoe om ’n entrepreneur te word. En aan die ander kant van “outyds” is hier eietydse wenke oor byvoorbeeld hoe om jou eie aanlyn winkel te begin.

“Benewens dat jy bedrewe moet wees in die wêreld van die internet, geld tradisionele sakebeginsels steeds,” sê Kobus Engelbrecht, bemarkingshoof van Sanlam Besigheidsmark. “Vra jou af: Hoekom sal mense by my wil koop? Wat kan ek bied wat hulle nêrens anders kan kry nie?” 

HOW TO GET A SARS REFUND

Deur DANIEL BAINES (Penguin, R95*)

Dié boek is nie vir mense wat skaars die woord “belasting” kan spel nie, maar dis uiters nuttig as jy inkomstedienstaal verstaan. Ek het die meeste van Daniel Baines se verduidelikings verstaan, danksy my ma wat ’n boekhouer is.

Maar jy sal moet fokus as jy nie die verskil tussen jou IRP5 en jou ITR12 ken nie. As jy bereid is om rustig te sit en ontsyfer wat hier aangaan, kan jy dalkies ’n terugbetaling in jou sak verwag. Hier is eenvoudige tabelle en voorbeelde om jou te help.

Jy kan gerus na die deel kyk waar maandelikse bydraes aan ’n mediese fonds bespreek word en die mediese uitgawes wat jy self betaal. Die boek lig jou basies in wat jou kans is om ’n terugbetaling te kry en hoe jy jou belastinglas kan verlig.

Met die belastingseisoen op ons, is die boek tydig, nuttig en prakties. – SHOUNEES MOOLA

Die Toespraak – Vir Die Spreker En Die Toespraakskrywer

Deur Daan Prinsloo (Protea Boekhuis, R220)

“Dié handleiding is hoofsaaklik gerig op dié wat toesprake moet beplan en skryf, ongeag of hulle of iemand anders dit gaan lewer.

Dit geld dus vir die volwasse spreker, toespraakskrywers, studente, leerders en ouers wat gereeld by hul kinders se optredes betrek word,” word die boek in ’n neutedop in die voorwoord opgesom.

Hier word onder meer aandag gegee aan praatstyl, taalgebruik, humor, doelwit, struikelblokke by die gehoor, slypskole, radio, TV, kansel en debatte; enige moontlike plek waar ’n spreker moet praat, ook onvoorbereid.