BET-EL – EN DAAR WAS ENGELE

Deur HELENA HUGO (Lux Verbi, R200)

Bet-el – En daar was engele

“Hy kon haar van hul eerste huweliksnag af nie uitlos nie. Sodra hy sy lê langs haar kry, trek hy haar nader. Soms skuif hy haar nagrok oor haar skouers af, soms begin hy by haar voete en vou sy hande om haar enkels, dan haar kuite.”

Anna Catharina is ’n verliefde jong vrou en pas swanger by Daniël met wie sy jonk-jonk getroud is.

Haar hande staan vir niks verkeerd waar sy haar man bystaan om die plaas Elim op te bou nie. Maar sy kan net in haar gedagtes sê, “in haar hart skreeu”, hoe lief sy hom het. Want sy hart behoort aan iemand anders, Adrie Janse, wat hom gelos het.

Oor die lewe van die boeregesinne hang die wolk van oorlog en die boek sluit af op ’n skrynende noot met die laaste spesiale ete voor die mans na die slagveld vertrek. ’n Koningsmaal word berei en ’n lang tafel versier met tamarisktakkies en heiningrosies.

Helena Hugo het diep in die geskiedenis gedelf vir dié boek: “Feite is, vreemd genoeg, nodig om stories geloofwaardig te maak en navorsing is onlosmaaklik deel van die skryfproses.”

Benewens die boeregeskiedenis het sy haar ook in Boesman-tradisies verdiep. Bet-El, wat deur die Christelike uitgewer Lux Verbi uitgegee word, het ’n sterk geloofsboodskap.

– ELNA VAN DER MERWE

ANATOMY OF A SCANDAL

Deur SANDRA VAUGHAN (Jonathan Ball, R235*)

Anatomy of a scandal.

James Whitehouse was nog altyd die goue seun. Hy is aantreklik, sjarmant, bevoorreg en ken die regte mense – dit lyk asof die lewe se goeie dinge op ’n silwerskinkbord vir hom gegee word. Hy het ’n pragtige vrou, Sophie, en is lid van die parlement, waar hy die Britse politieke leer vinnig klim danksy sy charisma en vriendskap met die magtigste man in die land, die premier.

Maar sy blink toekoms word gestuit toe die koerante skryf hy het ’n affair met sy 28-jarige assistent, Olivia. Sy vrou en die premier kies sy kant, maar die hel bars los toe Olivia James van verkragting beskuldig. Die hofsaak bring ’n hele klomp kwessies na vore.

’n Mens voel verskeur: Was dit regtig verkragting of wil Olivia net wraak neem omdat James haar gelos het? Daar is soveel ingewikkelde lae in die verhaal; niks is net swart en wit nie.

Die Hollywood-vervaardiger Harvey Weinstein se val en die #MeToo-beweging in die sosiale media wat die kollig op seksuele teistering en aanranding laat val het, gee die boek ekstra betekenis. Dit is ’n slim, meesleurende en onvergeetlike storie.

– JANE VORSTER

ALLES BEGIN MET ANNA

Deur ANNEMARI COETSER (Human & Rousseau, R200*)

Alles begin met Anna.

Annemari Coetser, wie se debuutroman in 2007 verskyn het, het op 60 eers begin skryf, maar is goed besig om te vergoed vir verlore tyd. Alles Begin met Anna is haar vyfde roman en is losweg gegrond op haar eie familiegeskiedenis – feite, maar geweef tot fiksie.

Die ouma Anna wat Annemari nooit geken het nie, “sou waarskynlik nie verwag het dat haar lewe geboekstaaf sou word nie. Moontlik het sy geen behoefte gehad om soos ’n vlieg haar merk te maak deur ’n miskolletjie teen Vader Tyd se muur te tjorts nie.”

Die sjarmantste karakter is Poppie, Anna se dogter. Albei vroue se geliefdes gaan oorlog toe – Anna s’n die Boereoorlog en Poppie s’n die Eerste Wêreldoorlog. Hulle is ’n ougat paartjie; “julle lyk soos filmsterre,” sê Ginie, Poppie se vriendin wat saam met haar verpleeg.

Frikkie het haar net drie keer gesien in die vier weke dat hy haar geken het, maar tog vra hy haar om vir hom te wag toe hy moet oorlog toe gaan.

Toe hy terugkeer, wil hy dadelik trou, maar Poppie het intussen ’n familiegeheim ontdek wat ’n stokkie voor hul drome kan steek.

– ELNA VAN DER MERWE

TWO KINDS OF TRUTH

Deur Michael Connelly (Orion, R304*)

Two Kinds of Truth.

Harry Bosch is terug en hy is steeds ’n polisieman uit die heel boonste rakke. Dis moeilik om te glo Michael Connelly kry dit reg om ná 20 avonture met die geharde speurder van Los Angeles sy leser steeds vas te nael, maar hy kry dit so reg soos altyd.

’n Nuwe saak laat verstrengel hom in ’n donker web wat sy lewe in gevaar stel. In ’n ander saak is ’n ander gevaar: Sy reputasie en integriteit as polisieman kom onder verdenking toe ’n moordenaar wat hy agter tralies laat beland het, sê Harry het hom in ’n strik gelei.

Harry roep sy halfbroer, Mickey Haller, om met die saak te help en hul interaksie verskaf wonderlike oomblikke in die verhaal. Soos gewoonlik raak die twee sake verstrengel en neem hulle al Harry se tyd in beslag. Hy moet diep in sy ondervinding delf om die boewe een voor te wees en dis wonderlik om te aanskou hoe die storie ontvou.

Sy verhoudings met die mense vir wie hy omgee, ook sy dogter, Maddie, gee die boek emosionele diepte – nog ’n rede waarom ek dit nie kon neersit nie. 

– CHARLENE ROLLS

* Teen dié pryse beskikbaar by Takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing