Field Guide to the Frogs & Other Amphibians of Africa
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Alan Channing en Mark-Oliver ?Rödel (R389*)

Die Kisolo-skurwepadda word aan ronde vratte aan sy lyf uitgeken. Nie ’n aantreklike idee nie, en nog erger: Agter elke oog sit ’n ekstra groot bult.

Die mannetjie word darem ’n aantreklike geel vir die paar uur wat hy bronstig is en paar, maar keer daarna na sy normale kamoefleerkleure terug. (Sy paringsroep is ’n on­romantiese snorkgeluid.) Die bulte agter skurwepaddas (“toads”) se oë skei ’n taai vloeistof af wat hul aanvallers irriteer.

Kisolo-skurwepaddas wat paar.
Kisolo-skurwepaddas wat paar.

Die Kisolo-skurwepadda is nie die enigste fassinerende kreatuur in hierdie kosbare boek nie.

Alan Channing en Mark-Oliver Rödel skryf oor die 815 spesies amfibiërs wat al op die Afrika-vasteland beskryf is – dit is die eerste keer dat dit in een gids gedoen word.

’n Geïllustreerde gids vir elke familie is die eerste stap om hulle uit te ken. Daarna word elk se fisieke kenmerke, verspreiding, habitat, biologie, paringsroepe en bewaringstatus aangedui. Hier is ook puik volkleurfoto’s en verspreidingskaarte.

Cradle of Life – The Story of the Magaliesberg and the Cradle of Mankind
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Vincent Carruthers (R249*)

In die Magaliesberg-biosfeerreservaat lê die Wieg van die Mensdom, ’n Unesco-wêrelderfenis gebied wat besoekers en wetenskaplikes van oor die hele wêreld lok. Die rede is dat hier belangrike bewyse is van hoe die mens en die planeet ontwikkel het.

Vincent Carruthers, ’n invloedryke omgewingskenner wat sy lewe lank in die Magaliesberg woon en werk, gee in sy nuutste boek ’n tydlyn van die geboorte van die planeet tot die 21ste eeu.

Wieg van die mensdom.
Wieg van die mensdom.

Dié boek vol wetenskaplike feite word afgesluit met ’n kort stuk geskiedenis, onder meer oor die Suid-Afrikaanse Oorlog (Boereoorlog).

Carruthers skryf dat die boere in die Wieg-omgewing aanvanklik hul plase beskerm het deur bedags daar te bly, maar snags saam met die Veldkornet aan kommando-aktiwiteite deel te neem. Teen die einde van die oorlog in 1902 was byna elke plaasgebou hier deur die Engelse afgebrand.

Orca – The Day the Great White Sharks Disappeared
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Richard Peirce (R165*)

“Dit was net nog ’n dag in Shark Town en alles was normaal. Niemand sou kon raai dat ’n onvoorsiene gevaar in die oseaan op die loer lê nie. Dit was op pad na Walkerbaai en sou die toekoms bedreig van almal wat by haai-ekotoerisme betrokke is.

Niemand het die vaagste benul gehad van die moontlikheid dat so ’n nagmerrie ooit kon gebeur nie. Maar die nagmerrie was op pad en vroeg in 2016 het dit ’n werklikheid geword – toe die haaie verdwyn.”

So skryf Peirce oor die dag toe twee moordwalvisse die eko­nomie van die dorpie Gansbaai begin bedreig het. Dié vissersdorpie in die Wes-Kaap het ’n opbloei beleef toe hokduikery ingestel is.
Ekotoerisme om die grootwithaai het Gansbaai se grootste werkverskaffer geword, maar nou het ’n bedreiging gekom waarvan die mense op dié dag salig onbewus was.

“Dit was ’n volmaakte somersdag in Januarie 2016 toe twee swart-en-wit alfaroofdiere van Valsbaai suid swem en van daar oor Walkerbaai na Danger Point. Oor die volgende paar weke het dié twee moordwalvisse ’n string gebeure aan die gang gesit wat die potensiaal gehad het om die lewe van die seewesens van die Dyer-eilandomgewing sowel as die plaaslike bevolking drasties te verander.”

Peirce bemoei hom al langer as 30 jaar met haaie en beskryf die gebeure by Gansbaai op ’n manier wat dit soos ’n spanningsroman laat klink. Maar is daar ’n gelukkige einde?

Wild Flowers of the Cape Peninsula – Quick ID Guide
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Hugh Clarke & Corinne Merry (R89*)

Wat maak jy as jou Engelse en Afrikaanse naam ewe bespotlik is? Dis die lot van Haemanthus coccineus, ook bekend as die April Fool of misryblom. Daar is ook die witskollie, die aambeibossie, snotrosie en die suurkanol.

Onder dié vir wie die dobbelsteen gelukkiger geval het, is die katjiedrieblaar, groenmoederkappie, blouertjiebos en Klaaslouwbossie.

Dié boek is geskryf vir leke wat graag wil weet wat dit is wat in die veld blom wanneer hulle gaan stap en bergklim. Die nuwe bygewerkte weergawe dek veldblomme wat voorkom in die Kaapse Skiereiland van Tafelberg tot Silwermyn en Kaappunt.

Die 360 veldblomme word volgens blomkleur ingedeel om dit maklik te maak om hulle vinnig te identifiseer. Duidelike kleurfoto’s en bondige kopie word by elk verskaf. Ook ingesluit is staproetes by Tafelberg, Silwermyn en Kaappunt.

* TEEN DIE PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.