EGGO’S

DEUR VITA DU PREEZ (LAPA, R269*) 

Eggo's
Eggo's

’n Jong man kom op ’n dag op die plaas Leliepan aan, en toe Bea, reeds die ma van vier volwasse dogters, hom sien, “voel dit of alles wat struktuur aan haar lewe gee, weggevee word. 

“Heiland, was alles waarvoor sy bereid was om haar waardigheid en menswees, haar vrouwees prys te gee dan verniet?”

Nooit kon sy aan haar beneukte Duitse man ’n manlike erfgenaam gee nie en sy en haar dogters betaal elk op haar eie manier tot nou nog die prys daarvoor. 

Die roman is terugflitse op haar verlede van verliefde jong meisie tot waar sy in Windhoek in ’n hospitaalbed lê – en hier sal die waarheid moet uit.

Vita du Preez
Vita du Preez

VITA KIES EEN TONEEL:

“ ‘Jy’s nie net sexy nie, jy’s boonop wys ook,’ lag Petrus.Hy begin sy klere uittrek en Bea hou hom vraend dop. ‘Kom, ons is nog nie te oud vir kaalbaai nie.’ Hy draf oor die strand in die rigting van die see. Bea trek die kaftan wat Nel uit Hollywood vir haar gebring het oor haar kop. Sy voel so vry, so sorgeloos. Haar bra en broekie beland bo-op. ’n Rukkie later vang Petrus haar in sy arms in die ysige water en trek haar dieper see-in. Die water maal wild om hulle en laat die bloed deur haar are bruis. Dankie tog, daar is nie ’n ouderdomsperk op voluit lewe nie.”

Beskikbaar teen dié prys by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.

DAG DRIE

DEUR JEANETTE STALS (LAPA, R269*)

Dag drie
Dag drie

“Johan het sy sin gekry en hier sit sy nou, op pad na Mauritius. Hoekom het sy haar laat ompraat om saam te kom? Haar werk as speurder bied immers meer as genoeg uitdagings.”

Sers. Luna Joubert en haar halfbroer, lt. Johan Botha, vertrek na Mauritius, maar nie vir wit strande en wuiwende palms nie.

Hulle vergesel Mike, wat daarheen moet gaan op ’n geheime sending. 

Luna moet voorgee sy is sy verloofde en selfs ’n bed met hom deel.

Die onderwêreld waarby hulle ingepluk word, se tentakels strek tot in die polisiemag – wat die drie se lewe bemoeilik en in gevaar stel.

Jeanette Stals
Jeanette Stals

JEANETTE KIES EEN TONEEL:

“Luna en Johan is saam met Mike op Mauritius om aan hom die dekmantel van vakansiegangers te verskaf. Die drie van hulle gaan snorkel en Luna verlustig haar in die pragtige koraal. Aan die einde van die rif klim hulle uit om ’n blaaskansie te neem en ’n hele ent van hulle af lê iets op die koraal. Vir Luna raak dit ál duideliker dat dit ’n mens is. Nog ’n sekonde of twee en sy besef die twee rooi gedeeltes moet ’n bikini wees. Dis beslis ’n liggaam wat daar lê – doodstil. En die manier waarop die een been wegvou, lyk on­natuurlik . . .”

  • Beskikbaar teen dié prys by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.

SARA

DEUR MARETHA MAARTENS (LUX VERBI, R199*) 

Sara
Sara

“Hy het ’n seuntjievuis gehad. Wanneer die slavinne by haar verbykom met ’n pasgebore, doekebedekte baba van wie net ’n handjie uitsteek, was dit nooit nodig om na die geslag van die aankomeling te vra nie. Die handjie – ’n kwaai knoetsie met vel om, of argeloos en oop – het onnodige vrae nog altyd uitgeskakel. Isak het sy seunsvingertjies tydsaam uit die knoetsie ontvou en hom uitgerek. Toe het hy sy gesiggie na haar toe gedraai.”

Sara onthou haar Isak se geboorte waar sy op ’n hoë ouderdom en ernstig beseer ná ’n aardbewing in die tent van Amoritiese vroue lê.

Die geestelike roman bestaan uit terugblikke op haar lewe saam met Abraham tot waar sy nou lê en nie weet of hy toe werklik vir Isak gaan offer het nie, en dan haar einde wat haar tegemoetsnel.

Maretha Maartens
Maretha Maartens
MARETHA KIES EEN TONEEL:

“In Mankisum aan die Tigris beleef die ongekunstelde sesjarige Sara die Mesopotamiese vergoddeliking van ’n musiekinstrument (’n lilissu-seremonie) saam met die beterweterige sestienjarige stadskind, Abraham. Dekades later vra sy: ‘Hoe klink El Shaddai se stem, Abraham?’ Hoe eenvoudig was alles voorheen! Die priester wat die trom van Lumha bespeel het, moes net die tromstokke lig en op die vergoddelikte huid van die geslagte os bly slaan. Dan het die hart van die trom, nou self ’n god, dreunend begin klop: Lap-dap, lap-dap . . . So sou Sara El Shaddai met haar wou hoor praat.  Maar van haar het Hy blinde geloof gevra. Ek dink talle van ons deel gereeld Sara se begeerte.”

Beskikbaar teen dié prys by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.

BLOEDLELIE

DEUR JEANETTE FERREIRA (LAPA, R279*) 

Bloedlelie
Bloedlelie

“Dié lang, regop vrou so teen die lig van buite, eintlik te skraal. Afrikaner-vroue is meesal swaar van lyf. Al die soetgebak en ruim maaltye. Nou hierdie vrou met haar trotse voorkop deurvleg van delikate plooitjies, asof die tyd versigtig aan haar gekerf het. ’n Kraakwit voorskoot in teenstelling met die blommetjiesborsspeld tussen die lapelle van haar kragie. Byna uitdagend, die wit kolletjiespatroon op haar swart rok.”

Wie was Magdalena, die vrou van die Voortrekkerleier Piet Retief?

Dit wonder die Nederlandse beriggewer wat die “vrou van smarte” in 1852 in haar karige huisie in Potchefstroom besoek.

Dis die vraag wat ook Hanna haarself afvra byna 180 jaar nadat Retief en van sy manne na die Zoeloekoning Dingaan is om te gaan onderhandel oor grond vir die trekkers.

Die roman speel af tussen die hede en Hanna se soektog, en die verlede in Magdalena se werklikheid.

JEANETTE KIES EEN TONEEL: 
Jeanette Ferreira
Jeanette Ferreira

Dis ’n swaar toneel, verduidelik Jeanette, maar “wat vir ’n mens ligter voel as jy dit eers uit jou uitgeskryf het”.

“Magdalena Retief het eers ’n week of wat ná haar man en twee seuns se dood daarvan gehoor, in die chaos wat gevolg het ná die aanval op Blou­krans.”

“Die Suiderkruis het soos ’n ontwapende man van haar af weg­gestrompel, die heelal in. Haar bloed het kapok geword. Sy wou op, sy wou haar rokgoed vasgryp, veldin hardloop en dit uitroep vir almal wat sy teëkom. Maar almal het hulle eie dooies.”

  • Beskikbaar teen dié prys by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.

FOTO'S: IZAK DE VRIES, RADIO CAPE PULPIT 729 AM