Skuif
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Martin Ince (Protea Boekhuis, R419*)

Die aarde het al verskeie uitwissings beleef, maar die ergste katastrofe was die Perm-Trias-uitwissing.

“ ’n Ontstellende 96% van alle dierspesies in die see en 70% van alle landdiere het uitgesterf. Dit was die enigste keer dat insekte ooit ’n ­massa-uitsterwing ondergaan het,” skryf Martin Ince in hierdie massiewe hardebandboek.

Wetenskaplikes kan nie presies sê wat die oorsaak was nie: ’n reuse­meteoriet wat die aarde getref het, vulkaniese uitbarstings in Siberië of ’n bevolkingsontploffing van metanogene (mikrobes wat metaangas produseer) is drie van die belangrikste voorstelle.

“Heelwat wetenskaplikes beweer dat dit nie nodig is om na ’n groot katastrofe te soek nie. Dit het dalk so geleidelik gebeur dat ’n mens dit skaars sou opmerk,” skryf Ince. (Vandag is ons seker al verby dié punt, want ons sien nou byna daagliks tekens van ’n planeet in ’n krisis . . .)

Skuif gaan oor die evolusie van ons wêreld van die begin tot in die toekoms. Die titel kom van die teorie wat lank nie geglo is nie, naamlik dat die vastelande geskuif het en steeds skuif.

Hierdie en ander baie interessante inligting word oorgedra in die boek wat in hoofstukke opgedeel is volgens die geologiese tydperke wat begin by 4,5 miljard jaar gelede toe die aarde gevorm is en eindig by hoe die lewe oor 50 miljoen jaar kan lyk.

Nuuskierige kinders sal hierdie boek opslurp.

Geskik vir ouderdom 13 en ouer.

Rugby: Sit jou flinkste voet voor met die beste spel op aarde
Beskikbaar by Lapa Uitgewers
Beskikbaar by Lapa Uitgewers

Lapa, R140

’n Oulike Dorling Kindersley-­boek. Die hoofstukke is:

  • Basiese beginsels (onder meer rugby se geskiedenis, unie- en ligarugby, sewes-, rolstoel- en raakrugby).
  • Posisies en rolle (haker en stut, slot, flank en agtsteman, skrum- en losskakel, senter, heelagter en vleuel, sowel as legendes van ouds.
  • Hoe om te speel (onder meer hoe om aan te gee en vas te hou, spelfases en strafskoppe).
  • Internasionale rugby (onder meer die geskiedenis van die Wêreldbeker, die Wêreldbeker in syfers en die Sesnasies).

Onder die “Legendes van ouds” is Francois Pienaar omdat hy die Wêreldbeker uit pres. Nelson Mandela se hande ontvang het.

Suid-Afrika word onder die “Legendariese spanne” gelys, maar ook onder “Legendariese wedstryde” as die span wat deur Japan ore aangesit is in die Wêreldbekertoernooi van 2015.

Geskik vir ouderdom 6-12.

Weer en die seisoene: propvol prettige feite en aktiwiteite
Beskikbaar by Lapa Uitgewers
Beskikbaar by Lapa Uitgewers

Lapa, R120

Tipies van ’n Dorling Kindersley-boek, is dié een ’n plesier om na te kyk en te lees.

Die rede? Die inligting word kleurryk en netjies aangebied sodat die klomp feite nie die kind sal verwar nie.

Hier word onder meer verduidelik wat die weer en seisoene is, hoe ’n wolk en ’n reënboog gevorm word en hoe storms en woeste weer ontstaan.

Die oulike projekte wat gemaak kan word, is ’n weerwiel, ’n reënwolk in ’n fles, ’n ysprent met water en vrugte wat buite opgehang word (tot dit natuurlik smelt) en ’n windwyser.

Geskik vir ouderdom 5-8.

Ander boeke in die reeks: Plaasdiere, Wonders van die woud en Haaie.

My eerste boek oor perde en ­ponies: alles wat jy wil weet!
Beskikbaar by Lapa Uitgewers
Beskikbaar by Lapa Uitgewers

Deur Andrea Mills (Lapa, R130)

Dit is nog ’n Dorling Kindersley-­boek waarvan Lapa die regte gekoop het om dit in Afrikaans te vertaal.

Interessante feite:

  • Die renoster is die perd se naaste lewende ­familielid.
  • Die Shire-perd is so hoog soos ’n volwasse man. Die Shetland is die kleinste ponie wat ’n mens kry.
  • Perde en ponies word in hand gemeet. Een hand is 10,2 cm.
  • Ligte perde het lang bene wat perfek is vir hardloop. ’n Volbloedperd kan teen tot 64 km/h hardloop. Swaar perde het deur die eeue swaar werk gedoen. Die Shire kan tot 5 ton trek.

In die boek is foto’s en inligting oor meer as 20 rasse wat die kind kan ontdek. Dis nie net ideaal vir jong ruiters nie; dis perfek vir alle kinders wat lief is vir diere en graag oor hulle wil lees.

Geskik vir ouderdom 6-10.

Ook in die reeks: My eerste boek oor honde.

Soek en vind: Ruimte
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur ­Joshua ­George; illustrasies: Dan Crisp (Human & Rousseau, R84*)

Hier is 24 prente met meer as 1 000 items wat gesoek moet word. Die temas strek van “Chaos by grondbeheer”, “Aanval uit die ruimte” en “Geluk, al die helde!” tot “Vliegtoets” en “Ruimtewandeling”.

Die boek werk so: By “Hersteldek” moet daar gesoek word na onder meer drie straalvullisdromme, vier hyskraanhake, sewe verstelbare moersleutels en 10 werktuigkundiges.

Dis nie 100% nie, want hier is ook ’n Planeet Graanvlokkie waar groen mannetjies met graan boer om hul gunstelingkos te maak. En in die Ruimteskool is kinders met oë op lang steeltjies en ’n behendige juffrou wat soos ’n seekat lyk.

Teen dié prys kan jy sommer ’n hele paar koop en hou vir die volgende jaar se verjaardag­partytjies.

Geskik vir ouderdom 3-6.

Nog ’n boek in die reeks: Soek en vind – Diere.

* TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET  DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING