Brand deur Peet Venter (Lapa-uitgewers)


Brand deur Peet Venter (Lapa-uitgewers)

“Ek wou wegkom van die stereotipe: die suipende, fuiwende speurder met huweliksprobleme,” vertel Peet Venter van Thys Krige, wat vir die vyfde keer die hoofrol vertolk in een van sy spanningsromans.

“Daarom het ek Thys ryk gemaak en hom uit die polisie gehaal. Sy metodes is onortodoks. Hy is 'n hanetreetjie weg daarvan om as 'n moordenaar te kwalifiseer, wat hom dikwels tot ernstige introspeksie dwing.”

In Brand raak Thys betrokke by komplotte op regeringsvlak. Daar is ook drie vroue wat deel van sy lewe word.

Redelike Twyfel deur Chris Marnewick (Protea Boekhuis)


Redelike Twyfel deur Chris Marnewick (Protea Boekhuis)

Die gerekende advokaat Charles Mouton word een oggend wakker langs sy vrou. Sy is dood en hy het geen benul wat gebeur het nie.

In die daaropvolgende hofsaak weier hy om homself te verdedig, want hy wil self ook weet of hy skuldig is of nie.

Advokaat Manon Viljoen, wat sy saak aan die hof moet stel sonder sy samewerking, krap 'n byenes van intrige oop wat insluit die beskuldigde se vrou wat haar skatryk geërf het aan geld wat haar pa in die dae van apartheid wederregtelik verkry het.

En tussen Manon en regter Castel draai daar duiwels rond.

Doodsake op Karibib deur Isa Konrad (Lapa-uitgewers)


Doodsake op Karibib deur Isa Konrad.

Con Dorfling is in beheer van die polisiekantoor op Karibib en op hierdie klein Namibiese dorpie lyk dit of die duiwel los rondloop en lyke in tuine opgegrawe kan word.

Alet Gouws, die lieflike vrou uit die Kaap met die gewelddadige amper-eksman, roer sy hart – maar dinge is baie moeiliker as wat dit lyk. Al wat maklik is, is die vonk tussen hulle.

Die Lucky Strike deur Steve Hofmeyr (Zebra Press)


Die Lucky Strike deur Steve Hofmeyr (Zebra Press)

In Die Lucky Strike is Die Sluiper moeg vir sy lewe as huurmoordenaar en gereed om in vrede te lewe. Maar daar is steeds sy bose neef, maj. Darius Keiser, en Tes, sy geliefde eks.

En dan kom ’n blinde vrou oor sy pad: “Ek het vir die eerste keer in twee jaar weer soos ’n mens gevoel: ’n biologie in ekstase. ’n Man. Ek was soveel minder as die fyn geprogrammeerde moordenaar wat ek gedink het ek was.”

Wat het geword van Dinsdag? Deur Tinus Horn (Human & Rousseau)


Wat het geword van Dinsdag? Deur Tinus Horn (Human & Rousseau)

Die verhaal speel af in ’n wêreld van kuns en namaaksels van kuns, en Joe is een van die sterre op die internasionale verhoog.

Foto's: takealot.com, goodreads.com