RONDOMTALIE 

Rondomtalie
Rondomtalie

Deur Jaco Jacobs.

Illustrasies: Karen Ahlschläger (Lapa, R189*)

Straatkat / Kwaadkat / Voëltjies-gee-pad-kat Dagkat / Nagkat / Kan-nie-vir-jou-wag-kat Stry-kat / Baklei-kat / Oppas-vir-my-kat Raaskat / Blaaskat / Asblik-aas-kat.

’n Mens gaan sukkel om beter waarde vir R189 te kry as dié rympieboek met sy ingeslote CD.

Hier is 30 rympies deur Jaco Jacobs wat in die smaak van jong kleuters sal val. Hier’s ’n kielie-kabouter, Bambino, die reus van Bitterbos en ’n teddiebeerbus.

Hier is ook rympies oor temas wat ’n kleuter maar te goed ken: klere wat krimp, ’n besoek aan die dieretuin, goggas, ’n tandeborsel, ’n wiegelied en vele meer.

Die toppunt is die CD met Anna Davel se toonsettings van die liedjies wat sy self ook sing.

Ek kan sien hoe kinders die vrolike liedjies agter in die motor sit en sing of saam met juffrou in die klas.

’n Lieflike verjaardagpresent wat tot verby die volgende verjaardag sal hou.

*Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.

DIE RIDDER BUIK-OP-DEN-BODEM

Die Ridder Buik-op-den-Bodem
Die Ridder Buik-op-den-Bodem

Teks en illustrasies: Gilles Bachelet. Vertaal deur Nicol Stassen (Protea Boekhuis, R139*)

“Met hanekraai maak die ridder Buik-op-den-Bodem een oog oop en roep uit: ‘Nie ’n oomblik om te mors nie! Nie ’n oomblik om te mors nie!’ Dis oorlog. Die leër van die ridder Pap-Horing, sy geswore vyand, het gister sy aarbeituin ingeval. Die saak kan net opgelos word deur ’n bloedige en genadelose veldslag.”

Maar eers moet die ridder, wat soos sy naam aandui ’n slak is, ’n “karige” ontbyt eet (wat in die bed voorgesit word en so groot is dat ’n ekstra lang skinkbord nodig is om al die lekkernye te dra), dan gou ’n paar oefeninge doen (terwyl hy koerant lees), vinnig bad en dan sy wapen-rusting aanwurg. O, wag. Hy moet net gou sy sosiale media bywerk en sy vrou soen voor hy kan gaan oorlog maak. O en . . .

*Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.

DIE GROOT BOEK MET SPROKIES

Die Groot Boek Met Stories
Die Groot Boek Met Stories


Oorvertel deur Saviour Pirotta (Struik Kinders, R165*)

Die agt klassieke sprokies wat in dié lekker dik, kleurryke boek oorvertel word, is: Rooikappie, Die Gestewelde Kat, Die Gemmerbroodmannetjie, Die Drie Varkies, Raponsie, Gouelokkies en die Drie Bere, Die Sneeukoningin en Hansie en Grietjie.

Elkeen word deur ’n ander kunstenaar geïllustreer, wat die boek visueel nog interessanter maak.

Agterin is ’n bladsy met vrae wat vir kleintjies gevra kan word om hul oë oop te maak vir wat alles in ’n storie opgesluit is: watter woorde word gebruik om ’n slegte en ’n goeie karakter te beskryf, wie is die hoofkarakter, waar het jy hartseer of bang of bly gevoel, hoe wil jy hê moet die storie eindig, ensovoorts.

*Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.

PLAKKERPRET MET 555 VOERTUIE

Plekkerpret Met 555 Voertuie
Plekkerpret Met 555 Voertuie


Deur Susan Mayes. Illustrasies: Dan Crisp (Human & Rousseau, R119*)

Hier is werklik 555 plakkers – in volkleur! Hulle is taamlik klein; dus sal dit goeie motoriese vaardighede van ’n voorskoolse kind verg om hulle te plak.

Die boek is in temas opgedeel, onder meer Besige stad; By die lughawe; Bouterrein; Op die plaas; By die busstasie; In die hawe; Ruimte-avontuur, en Toekomsfantasie. Die kind kan agterin die boek die plakkers uithaal waarmee hy die tema wil illustreer.

Dit is die ideale boek vir ’n reëndag of om kinders op die langpad besig te hou. Ook in die reeks: Plakkerpret met 555 Perde en Towerponies.

*Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.

TILLIE APPELPIT- DIE LAPPIESKOMBERS

Tillie Appelpit- Die lappieskombers
Tillie Appelpit- Die lappieskombers


Teks en illustrasies: Andreas H. Schmachtl (Protea Boekhuis, R139*)

Wie woon in dié storie? Daar is Tillie Appelpit, die appelbloeiselwit kerkmuisie; Mollie, die grys muis wat onder die postoonbank in die dorpswinkel woon; Tillie se beste vriend, Rupert, die krimpvarkie, en nog ander maats wat almal die groot prys wil wen in die kompetisie.

Die burgemeester, die dominee en die feeskomitee soek die kandidaat wat die mooiste stuk naaldwerk kan doen.

Ongelukkig kom daar moeilikheid: Die diertjies beloer mekaar heeltyd agterdogtig om te kyk of daar nie iemand is wat suutjies tolletjies gare rondsleep of ’n baie spesiale stuk lap in die hande kry nie.

Robbie Rooiborsie swets bo in sy nessie. Gaan die kompetisie daartoe lei dat vriendskappe in die hek duik?

Die illustrasies is vol fyn detail wat ’n nuuskierige kind lank sal besig hou. 

*Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.