Kwilt-potpourri – Driehoek, Diamant en Heksagoon

Deur Maretha Fourie (Bestel by info@marethafourie of 071-709-1200; R500 sonder posgeld)

Dié boek, vir ervare sowel as beginnerkwilters, is geskep deur ’n meester van die laslappiekuns. Maretha Fourie, wat onder meer aan die Universiteit Stellenbosch klas gegee het in tekstiele, het in 1973 haar eerste laslapkwilt gemaak – en eers 10 jaar later voltooi.

In 1987 het sy die Golden Rand Guild for Quilters gestig en sedertdien het sy aktief hierdie naaldwerkvorm beoefen en bevorder. Haar Kwilt-potpourri gee stap-vir-stap-aanwysings vir die maak van ’n kwilt en verduidelik onder meer die maak van die “toebroodjie” en die deurstikproses.

Die geheim lê in die gebruik van isometriese ruitnetpapier: “Enige klein skaalgrootte iso-ruitnetpapier is geskik vir blokpatrone en kwilttekeninge, want die patroon is gekoppel aan die aantal driehoekies wat op die synaat daarvan getel kan word,” skryf Maretha.

Die boek gee jou nou die geleentheid om ’n erfstuk te maak.

As jy nog nooit laslappiewerk gedoen het nie, begin met iets kleins vir ’n bababed om jou moed te gee vir daardie groot kwilt wat eendag oor jou dubbelbed gaan lê. Alles wat jy moet weet, is in Kwilt-potpourri.

Vlytige Geskenke

Deur Jane Bull (Struik Kinders, R114*)

Dis ’n nuttige boek met projekte waarvan laerskoolkinders sal hou. Alles vir ’n partytjie is hier: Maak koevertjies uit helderkleurige papiersirkels, boksies vir lekkers word uit papierborde gevou, geskenke word in bruinpapier toegedraai wat met oulike drukwerk versier word, en nog meer.

Klein presentjies kan gegee word in “kussingboksies” wat van toiletpapierrolletjies gemaak word. Plastiekkoeldrankbottels word herwin om oulike appelhouertjies te maak.

Meisies sal veral hou van die bruisende badkoekies wat hulle graag ten duurste koop, maar wat hulle self kan maak om hul badwater geurig te maak.

Ma’s kan selfs die benodigdhede vir ’n paar projekte aanskaf en kinders by ’n partytjie besig hou met iets wat hulle kan maak en huis toe neem.

Flower Loom Blooms – How To Turn Spare Yarn Into 30 Fabulous Floral Decorations

Deur Haafner LinSsen (Struik Lifestyle, R175*)

As jy as kind tolletjiebrei beoefen het, sal dié boek jou opgewonde maak, maar vaardighede met die tolletjie is nie ’n voorvereiste nie.

Die basis van die idee is dat jy ’n templaat gebruik (wat agterin die boek vir jou gegee word om uit te haal) om blommetjies te maak.

Jy kan ook ’n gerieflike plastiektemplaat by ’n handwerkwinkel koop, en dan spring jy weg met al jou oorskietwolletjies en maak blommetjies soveel as wat jy wil. Waar dié boek se uniekheid inkom, is dat die blogger en Instagrammer Haafner Linssen patrone gee vir hoe jy jou blommetjies kan inspan om groter artikels te hekel.

Hier is die mooiste idees vir komberse, serpe, sakke en wat nog alles. Die blommetjies is so eenvoudig dat kinders dit kan maak vir grootmense wat dit dan aanmekaar wil hekel.

Handmade Gifts From The Kitchen – More than 100 Culinary Inspired Presents to Make And Bake

Deur Alison Walker (Struik Lifestyle, R189*)

Alison Walker skryf dit het soveel meer waarde om vir mense iets tuisgemaaks te gee, en as jy kyk na die gehalte van haar eetbare geskenke in dié pragboek, praat sy die reine waarheid. Hier is van eenvoudige koekies waarmee kinders kan hand bysit tot blatjangs en spogtruffels.

My gunstelinghoofstuk is waar sy geskenkstelle maak wat saam in ’n oulike houer verpak word.

Dit sluit byvoorbeeld die laatontbyt in: Jy pak ’n mooi mandjie met alles vir ’n gesonde hawermoutmengsel, droëvrugte-compote en pannekoekmengsel.

Of jy pak ’n tassie met alles waarmee ’n ma ’n hele gemmerkoekhuisie vir ’n kinderverjaardag kan maak. Vir die Italiaanse stel pak jy pasta in en maak vir jou vriende basiliepesto, basilie-olie en olyftapenade. Werklik voortreflike idees.

MosaÏek vir jou tuin – 25 stap-vir-stap-projekte

Deur Becky Paton (Metz Press, R209*)

Dié boek is op beginners gemik en verduidelik in besonderhede al die prosesse voor jy met jou mooi mosaïekprojek kan spog.

Al 25 items in die boek is vir die tuin, en die skrywer, Becky Paton, gee die gerusstelling dat mosaïekwerk een van die duursaamste kunsvorme is wat ’n mens kry.

Sy beskryf onder meer die moontlike materiale wat gebruik kan word sowel as die sny van teëls en die meng en aanwending van die bry en die gereedskap wat ’n mens nodig het. Van die oulike tuinbykomstighede wat sy illustreer, is ’n huisnommer, voerbak vir voëls, sonvanger en ’n tuintafel. 

  • Bekikbaar teen dié pryse by Takealot.com. Die pryse was koorrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.