Lira
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Chanette Paul (Lapa, R265*)

Jammer.”

Dis die SMS waarmee Lira ná sewe jaar deur Frank gelos word. Sy onbeskofte 14-jarige dogter, wat hy nie wou leer om Lira met respek te behandel nie, veroorsaak die finale breekspul. Sy pak haar huis en haard en verlaat Kempton Park om vir haar ’n plekkie langs die Kaapse kus te gaan soek.

So beland sy op Vywerbaai, waar sy ’n lelike huis koop wat sy eintlik nie kan bekostig nie. Maar sy kan die see hoor en ruik.

Oor haar pad kom ’n behulpsame bouer, Boeta – nee, hy is nie haar ridder op die wit perd nie – en ’n stel vroue wat haar baie dinge leer, onder meer oor vriendskap.

Daar is Beulah Anker wat haar kleinkinders moet grootkry en wat haar huisskoonmaker word.

Corali is nie “die soort wat tee aandra vir nuwe bure nie”. Sy kondig aan sy is nie ryk of geskei nie; sy is ’n weduwee wat baie gelukkig getroud was. Sy het die aantreklikheid van “ ’n vrou met ’n vrye gees” en word Lira se steun­pilaar op die stranddorpie.

Mirre kom kruip by Corali weg nadat sy vir die hoeveelste keer deur haar man, ’n beroemde TV-persoonlikheid, aangerand is.

Die bont een van die vriendinne is Marilyn, wat uit Amerika terugkeer met nogmaals ’n ryk amper-­eksman op haar kerfstok.

En daar is Fynn van Johannesburg.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Die tweede roman in die trilogie, Mirre, is reeds beskikbaar.

Papierblomme
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Helena Hugo (Lux Verbi, R149*)

Janine is sewe jaar oud toe sy een oggend wakker word in ’n wêreld wat vir altyd verander het. Albei haar ouers het verongeluk en sy word weggestuur na haar ouma en oupa wat op ’n klein seedorpie woon.

“Sy verlang na Sokkies en haar pophuis wat hulle nie kon saambring nie en heeltyd na Mamma en Pappa. Sê nou iemand het ’n fout gemaak en die verkeerde mense begrawe?”

In haar matriekjaar trek sy ’n jong onderwyser se oog. Greg Walker vang haar met ekstra leeswerk en laat haar kop duisel met Shake­speare, Freud, Hamlet en Ophelia se seksafwykings en wêrelde waarvan sy nog nooit gehoor het nie.

“Greg Walker se akademiese geklets, het sy later besef, was ’n dekmantel, ’n verskoning om haar in die bed te kry. En hy het. So fyn het hy te werk gegaan dat dit gou haar grootste begeerte was om hom te plesier.”

Die roman het ’n Christelike inslag en is die verhaal van ’n meisietjie wat kleintyd al ophou glo het in ’n Liewe Jesus wat haar ouers nie bewaar het nie.

Vrou van die Klippesee
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Meg Vandermerwe (Umuzi, R229*)

Dit is die lieflike verhaal van Hendrik, ’n kreef­smous van die Weskus, wat ’n beseerde meermin uit die see red.

Dit gaan nie goed met hom nie, want nadat sy vrou, Rebekkah, vyf jaar tevore verdwyn het, het hy hom teruggetrek in sy huisie. Hier het wyn sy enigste metgesel geword. Maar daar is ’n Sara – en die meermin – wat hom uit sy (on)gemaksone dwing.

“Ja, sy lewe nog. Hy was nie seker of sy nog gelewe het toe hy haar, toegewikkel in ’n stuk seil, soos ’n bruid in die maanlig oor die huis se drumpel gedra het nie. Maar nou, in die bad, nadat hy die seil eenkant toe gegooi het, sien hy haar borskas op en af dein. Hulle het sowaar harte en borste, nes Rebekkah gesê het.”

Die dekonstruksie van Retta Blom
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Zelda Bezuidenhout (Kwela, R235*)

Lauretta Blom is ’n perfeksionistiese rykmansvrou met twee groot seuns wat al uit die huis is. Haar suksesvolle man, Tobias, pendel tussen Johannesburg en Kaapstad vir sy werk. Dan kom daar ’n kraak in al die volmaaktheid en Lauretta en haar vriendin Charlie vat die pad Kaap toe om te gaan ondersoek instel.

Zelda praat oor haar teikenmark: “Baie van my tydgenote worstel met kwessies soos ontrouheid, geloofswankeling, seksuele bevryding en die leënessindroom. Ek wou graag ’n boek skryf wat nie so lig soos spookasem is nie, maar ook nie te intellektueel nie. Sommer net ’n boek wat die leser laat voel sy is nie alleen nie.”

Mooier as ?Marilyn
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Anita du Preez (Queillerie, R209*)

“Die heelal het besluit dat ek binne die bestek van 24 uur een ding sou kry en die ander een kwyt sou wees. As ek terugkyk, kan ek sien presies waar alles begin het, maar die actual papaja se pulp het eers uit die waaier gespat die dag toe ek my liewe eggenoot, Vincent, in Beleza gesien het saam met Gloria.”

Desiree is die oggend deur haar vriendin Ina na die einste restaurant gesleep vir ontbyt. Sy was onder die indruk Vincent is by ’n mediese kongres in Pretoria. In die onaangename tyd wat volg, kom “die man van Beleza” oor haar pad.

’n Belofte vir Bippie
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Elsa Winckler (Lux Verbi, R175*)

Dit is die opvolg op ’n Brief vir Reina en is dus die tweede in die McGregor-reeks. Bippie is ’n M-student wat vir Reina in haar tweedehandswinkel in Kaapstad werk toe sy onbepland swanger raak by ’n man wat glad nie in “die probleem” belangstel nie.

Sy word opgeneem in ’n klein maar liefdevolle gemeenskap waar sy ook die man leer ken wat die huis oorkant die straat restoureer. Die roman het ’n Christelike bood­skap wat troos bring in ’n harde werklikheid.

*PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.