NADINE BLOM

Nadine Blom en haar seun, Adriaan

“Blou Trane deur Daniella Day was een van die aangrypendste stukke literatuur wat ek al gelees het. Dit handel oor die hel van dwelmverslawing. As jy ooit gewonder het hoe om jou tiener te waarsku, is dit jou antwoord.

“The Art of Thinking Clearly van Rolf Dobelli bevat verskeie kort anekdotes oor hoe om te oorleef in ’n era waarin ons met inligting gebombardeer word.

Een belangrike les was dat geen ‘gratis’ ete ooit regtig gratis is nie; ’n ander wenk was dat hoe meer beheer jy dink jy het, hoe minder het jy.”

Blits en die Perlemoendiewe, deur Nadine en haar seun, Adriaan, is ’n spanningstorie oor twee vriende wat langs die see woon.

DIBI BREYTENBACH

Dibi Breytenbach

“Hans Steek die Rubicon Oor van Rudie van Rensburg was die Afrikaanse boek wat my in 2018 die meeste pret besorg het. Ons word almal ouer, en Hans se anargistiese gees is ’n inspirasie – en ’n waarskuwing aan almal wat bejaardes geringskat.

“Lincoln in the Bardo deur George Saunders is my Engelse keuse. Hierdie mistieke boek met sy veelheid van stemme en diep vrae oor die verbygaande aard van die lewe en die liefde het my op ’n vreemde manier bekoor.”

Dowe Gode se Aella is ’n hardekwas geweldsmisdryfondersoeker wat daaraan gewoond is om haar gesag te laat geld.

SUSAN COETZER

Susan Coetzer

“Spertyd van Elsa Joubert: Die oudwordproses, wat niemand kan vryspring nie, word aangrypend en selfs benoudmakend werklik gekommunikeer. Dit voel soos ’n aankomende trein, maar die werklikhede van oudword word meesterlik sonder enige soetsappigheid vertel.

“Eleanor Oliphant Is Completely Fine deur Gail Honeyman: Ek glo baie geïsoleerde alleenlopers sal hiermee kan identifiseer. Ek het lekker gelag vir die naweekrooster van wodka, bevrore pizzas en foongesprekke met jou ma as ontspanning.”

Selma en Louise vat die pad Indië toe om elk van hul persoonlike demone ontslae te raak. Hier kom ’n skokkende geheim aan die lig.

JEAN-PIERRE DE KOCK

Jean-Pierre de Kock

“Marita van der Vyver se Griet Skryf ’n Sprokie het uitgekom toe ek skaars ’n potlood reg kon vashou. Soos met enige goeie boek is die karakter een wat jou bybly. Sprokies van ouds word slim deur die narratief vervleg.

“Ek probeer om elke jaar minstens een boek vir ’n tweede keer op te tel. The Wind-Up Bird Chronicle van Haruki Murakami het my soos met die eerste lees jare gelede weer betower. Murakami laat jou wandel in die grys tussen die werklike en die bonatuurlike.”

Die daggaboer was ’n rekenmeester wat nou alleen in ’n woonwa woon en met groente en dagga boer.

JACO FOUCHÉ

Jaco Fouché

“Christiaan Bakkes se Krokodil aan My Skouer kry die leser ook om die lyf beet. Vertellings oor sy grensdiens in die Caprivi as dienspligtige en natuurbewaarder verklaar dat jy gerus meer van jou eie lewe kan maak. Dis vir my ’n besielende boek soos al Bakkes s’n.

“Shawn Levy se De Niro: A Life handel oor die akteur se lewe en onder meer ook sy instudering vir sy rolle. Hy word beskryf as iemand wat wantrouig is as iemand meer as hallo vir hom sê en tog het hy een van die heel grotes geword.”

In Somer is Maison en sy pel André pas klaar met matriek. In die lang somervakansie beleef hulle goed wat hul toekoms bepaal.

ANNIE KLOPPER

Annie Klopper

“Daar was soveel uitstekende Afrikaanse boeke wat vanjaar verskyn het dat ek nie ’n enkele Engelse een gelees het nie.

“Vars in my geheue is die verfrissende styl van Chase Rhys in Kinnes. Benewens die aangrypende manier waarop dit uit verskeie perspektiewe die ontnugterende werklikhede op die Kaapse Vlakte vasvang, is die boek ten volle in Kaapse Afrikaans geskryf. Dit lewer ’n noemenswaardige bydrae tot die vaslegging van hierdie taalvariant in die Afrikaanse letterkunde.” 

Die joernalis Pamina en die rockster Wolf is albei ’n plesier vir die oog, en verskillende soorte vonke spat tussen hulle.

MAYA FOWLER

Maya Fowler

“Fotostaatmasjien deur Bibi Slippers. Die bundel is genuanseer en innoverend dog toeganklik. Dit neem jou kop skoon op reis; in so ’n mate dat ek ure by binnelandse sake daarmee verwyl het en baie amper nie gehoor het hulle roep my nommer nie.

“My Absolute Darling deur Gabriel Tallent: Dat ’n manlike skrywer die storie van ’n jong meisie so kan verwoord, is verstommend. Dis ’n uitmuntende uitbeelding van verwronge liefde tussen ’n haatlike sadis van ’n pa en ’n dogter met oorlewingsin soos min.”

Een onbesonne nag met ’n student lei daartoe dat Tertius de Klerk, ’n nieprofessor, na Patagonië vlug.

CHRIS MARNEWICK

Chris Marnewick

“AP Grové het Swart Pelgrim van F.A. Venter beskryf as ’n aktuele roman, een wat ‘warm’ eietydse maatskaplike probleme aanroer – die persoonlike aanpassings wat gemaak moet word wanneer kulture mekaar ontmoet. Die boek is die eweknie van Chinua Achebe se Things Fall Apart, wat toevallig in dieselfde jaar, naamlik 1958, gepubliseer is.

“Ek het vanjaar uitgekom by Truman Capote se In Cold Blood. Dit het ’n nuwe genre ingelui, kreatiewe niefiksie – die skrywer as meeloper binne die storie.”

Adv. Mouton word langs sy vrou se lyk wakker. Hy swyg in die hof en adv. Manon Viljoen krap ’n byenes oop.

HELENA GUNTER

Helena Gunter

“Eben Venter se Groen Soos die Hemel Daarbo of Ingrid Winterbach se Die Troebel Tyd? Albei op my moet-en-wil-lees-lys. Miskien eers Spieëlbeeld deur Franz Marx, besluit ek. En daar vind ek in die karakter van Joe Minnie ’n studie van manlikheid wat in my hart agterbly. Gaan Venter of Winterbach hom troef?

“Die sensitiewe lig wat Julian Barnes in The Only Story gooi op die lewenslange uitwerking van ’n eerste liefdesverhouding tussen ’n 19-jarige seun en ’n ouer vrou, is tegelyk hartgrypend en diepsinnig.”

In Tweespoor ervaar die jong Tilla lewensveranderende belewenisse. Die volwasse Fransina probeer haar weg vind in SA.

HERMAN LATEGAN

Herman Lategan

“In Tebatso Gaan See Toe deur Maya Fowler beleef die leser die ervarings van ’n swart huishulp vir wit mense deur háár oë. Die stom figurant kry ’n stem. Dis onthutsend en droewig. Dis Kersfees by ’n strandhuis en sy moet na die miesies se kinders kyk, terwyl hare op die plaas agterbly.

“Poacher deur Kimon de Greef en Shuhood Abader ruk jou onder die see in en gee jou ’n blik op die lewe van ’n perlemoenstroper. Hoekom gebeur dit? Wie sit daaragter? Dis geskryf in ’n gestroopte, treffende styl wat hierdie leser geruk het.”

Herman het lank in Engels geskryf omdat hy woedend was vir “toksiese Afrikaanse omies” – tot hy die woord “wisseldans” gehoor het.

PETROVNA METELERKAMP

Petrovna Metelerkamp

“Agaat was my boek van die jaar, en haar het ek stukkie vir stukkie byna die hele jaar lank geproelees. Aan die einde wou ek hande klap, soos ek een laatnag gehoor het my dogter Ezanne doen toe sy klaar is met The God of Small Things – ’n dawerende applous uit haar slaapkamer! Ons kan net dankbaar wees vir ’n skrywer soos Marlene van Niekerk in Afrikaans.

“Apartheid: Britain’s Bastard Child is ’n belangrike boek. Daarin beskryf Hélène Opperman Lewis die effek wat vernedering deur die eeue op die Afrikanerpsige gehad het.”

Petrovna het nuwe inligting oor Ingrid gekry uit haar dagboeke, briewe van minnaars en mense wat nie tevore oor haar wou praat nie.

DEON MEYER

Deon Meyer

“Jeremy Vearey se Jeremy vannie Elsies was ’n ontroerende, onneersitbare bielie van ’n boek wat my steeds bybly en diep laat dink. Dis geskryf deur ’n bewonderenswaardige man en een van ons toppolisiegeneraals.

“Total Recall, die memoires van Arnold Schwarzenegger, het ek uit nuuskierigheid gekoop, want hoe vorder jy van Oostenrykse liggaamsbouer met ’n swaar aksent tot goewerneur van Kalifornië, en word tussen dit alles deur ’n flieksuperster? Dit het al my vrae op ’n lekkerleesmanier beantwoord.”

Bennie, Vaughan en Mbali baklei saam met die misterieuse Daniel teen staatskaping en sy duister trawante.

FRANSI PHILLIPS

Fransi Phillips

“Ek het vanjaar ’n obsessie ontwikkel met Mooiloop deur die kontemporêre Boesmankunstenaar Vetkat Regopstaan Kruiper. Die klein Boesmantekeninge wat ontsyfer moes word om die metamorfoses in ’n Boesmanritueel te begryp, is net so belangrik soos die poësie wat die kunswerke vergesel.

“In die Rus Mikhail Bulgakov se novelle The Master and Margarita bevredig die sataniese towerkrag my swart verbeelding. Dis pret om al die plekke waar ek in Moskou was in die hel te herontdek.”

Hanna vlug na Moskou, waar sy Engels gaan gee en ’n verhouding aanknoop met Wolf79, een van haar Skype-studente.

ANTOINETTE PIENAAR

Antoinette Pienaar

“Ek hou nie eintlik van boeke oor misdaad nie, maar Tuisland deur Karin Brynard het met my verbeelding weggeharloop en my meegesleur van begin tot end. Ek het gaan sit en lees en alles het om my gaan stilstaan. Ek het geen werk gedoen gekry tot ek klaar was nie. ’n Boek wat dit met my kan doen, toor met my!

“Dan Tjieng Tjang Tjerries van Jolyn Phillips. Die lieflike kortverhale sing soos ’n gedig. Dis ’n boek van fyn waarneming wat soos diamante voor jou oë uitrol. Ek was onverwags baie diep geraak.”

Antoinette se tweede Karooboek oor haar leerskool by die kruiekenner-oom Johannes Willemse.

RIËTTE

Riëtte

“Aangesien navorsing vir my boeke baie leeswerk behels, lees ek nie meer so graag vir ontspanning soos vroeër nie. “My mede-Overberger Piet van As se ’n Bek Vol Strandveld was egter ’n lekkerte wat maar gerus langer kon aanhou. Gelukkig het hy belowe daar is nog so een op pad.

“Op ’n ernstiger noot was Robert Morris se The Blessed Life: Unlocking the Rewards of Generous Living beslis vir my lewensveranderend én bemoedigend – veral in vandag se taai ekonomiese tye.”

’n Boek oor die Krugerwildtuin – 80 artikels, 1 400 foto’s, 2 200 vrae beantwoord. Bestel by aardwolftotystervark@gmail.com.

MADELEIN RUST

Madelein Rust

“Bloedsusters deur Ilse Salzwedel is ’n fassinerende boek oor twee susters wat misdaadtonele opruim. As misdaadskrywer wou ek graag uit ’n ander oogpunt ’n gevoel kry van hoe misdaadtonele lyk.

“Die boek was grillerig en uiters insiggewend. “Adam and Eve and Pinch Me deur Ruth Rendell: Sy is meesterlik daarmee om sielsongesteldhede bloot te lê. In hierdie boek het ons ’n skelm wat ’n obsessief-kompulsiewe meisie op hom verlief maak met interessante gevolge.

’n Riller waar die Jesters, ’n vertakking van die Vrymesselaars, betrokke is by mensehandel en moord.

NATHAN TRANTRAAL

Nathan Trantraal

“Die beste boek wat ek dié jaa gelies et – in ienagge taal – het baie min woorde in it: John James Audubon se The Birds of America.

“Die boek bestaan yt 435 hand coloured prints van voëls, elke print ’n masterpiece.

“Anne boeke wat ek enjoy et, is Jason Reynolds se Long Way Down, wat ek vi Lapa-uitgewers translate et as Lang Pad Onnetoe.

“En dan oek Deon Meyer se laaste een (’n kortetjie) voor Prooi, Die Vrou in die Blou Mantel.”

Wit Issie ’n Colour Nie is verhale “oorie liewe annie anne kant vannie kantlyn”. Dis skrynende en plek-plek vermaaklike stories

JACOLET VAN DEN BERG

Jacolet van den Berg

“The Masterpiece deur Francine Rivers: Die verhaal het my so geboei dat dit op my moetleeslys vir die toekoms bly! “Die uitbeelding van die hoofkarakters, hoe hulle op die lewe reageer en hul kindertyd hul denke beïnvloed, is iets om te beleef. Die karakters groei en die einde maak my bly.

“Mentje: Kind van die Pas-Opkamp deur Irma Joubert het my in trane gehad en laat lag. Dis emosiebelaai, en ’n mens wens jy kan in die storie inklim en help.”

Die noodlot maak dat ’n surfer-meisie, ’n wulpse huisvrou en ’n weduwee saam in ’n kombi beland.

MARITA VAN DER VYVER

Marita van der Vyver

“Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G. du Plessis: die beste nuwe Afrikaanse roman wat ek vanjaar gelees het. ’n Veel ryper stem as wat jy gewoonlik in ’n debuut vind.

“Winter deur Ali Smith: Dié Skotse skrywer slaan my asem weg met elke nuwe boek. Dis die tweede in ’n siklus van vier seisoenromans wat met Autumn begin het.

“ ’n Roman wat my amper soveel genot verskaf het, is Ian McEwan se Nutshell. ’n Moderne weergawe van Hamlet, vertel deur ’n ongebore baba.”

IRMA VENTER

Irma Venter

“Elsa Joubert se Spertyd het my effens onkant betrap, en toe oorrompel. “Dit slaag daarin om te ontstel en te inspireer, meestal seker maar soos die lewe self: Die dag sal vir jou ook kom dat jou liggaam eintlik ’n storieboek is wat jy kan lees.

“The Seven Deaths of Evelyn Hardcastle deur Stuart Turton is ’n komplekse misdaadriller met ’n kinkel in die kabel. Dis een van die sogenaamde nuwe ‘high-concept thrillers’ wat veral oorsee besig is om veld te wen.”

Dit wat die ryk Van Zyls in hul veiligheidslandgoed tref, herinner aan werklike sake wat die media vol was.

Dit wat die ryk Van Zyls in hul veiligheidslandgoed tref, herinner aan werklike sake wat die media vol was.

RUDIE VAN RENSBRUG

Rudie van Rensbrug

“Ná 25 jaar het ek Kerneels Breytenbach se debuutboek, Glimlag, herlees en my weer verkneukel in die vlymskerp satiriese kommentaar wat klappe uitdeel na die staatsdiens, joernalistiek, rolprente en musiek van daardie tyd. Na my mening een van die mees onderskatte boeke van die 1990’s.

“Jacques Pauw se The President’s Keepers het my asem weggeslaan oor sy gedetailleerde en plofbare aard. Dit moet as ’n handleiding dien vir toekomstige presidente oor hoe om nié te regeer nie.”

Kapt. Kassie Kasselman kry te make met ’n man met ’n Drang en ’n ywerige kettingsaag – sowel as ’n orige eks.

MARINDA VAN ZYL

Marinda van Zyl

“Elsa Joubert se Spertyd was ’n heerlike en gerusstellende leeservaring, want dit wys dat jy nie die essensie van jou menswees verloor wanneer jy oud word nie. “In Letters of Stone openbaar Steven Robins ’n interessante maar hartverskeurende konneksie tussen die uitwissing van Jode in Nazi-Duitsland en familielede wat daarin geslaag het om na Suid-Afrika te vlug.

“Die gebruik van oorspronklike dokumente laat die hopeloosheid van die situasie brief ná brief insink.”

CAS WEPENER

Cas Wepener

“Die Reuk van Appels deur Mark Behr het al ’n kwarteeu gelede verskyn. Die laaste woord op die laaste bladsy is ‘Valsbaai’, wat die verhaal goed opsom. En toe ek die boek op my alfabeties gerangskikte boekrak bêre, skuif ek Behr langs Botha se Valsrivier in!

“’n Hele rits karakters op klein dorpies word hoofstuk ná hoofstuk bekendgestel in Elizabeth Strout se Anything Is Possible. Langsamerhand trek sy die verbande wat tussen byna al die karakters bestaan soos ’n visnet uit die water.”

Johanna sterf reeds op bl. 9 en dan leer ken die leser haar waar ’n karakter in elke hoofstuk ’n ander faset van haar belig.

FOTO'S: JACQUES STANDER, PETER VAN NOORD, GITA CLAASEN, MARIANN COETZEE, RONELDA KAMFER, WILMA BRITZ