Hartstories van ons land se boere

Deur Ivor Price en ­Kobus Louwrens (Tafelberg, R195*)

Dié boek, wat ’n intieme blik gee op die mense wat sorg dat ons te ete en te drinke het, begin met ’n aangrypende vertelling deur Ivor Price van sy oorlede oupa wat altyd gesê het: “Die enigste goeie boer is ’n dooie boer.”

Ivor Price.
Ivor Price.
Kobus Louwrens.
Kobus Louwrens.

Hierdie familiegeheim verklap hy eendag aan ’n wit boer oor wie hulle opnames vir ’n TV-program maak. Die afloop van Ivor se vertelling wys dat die persepsie van Suid-Afrika se boere dikwels onge­nuanseerd is. Met Hartstories van ons land se boere kry ’n mens ’n ander, dieper blik op boere van verskillende oortuigings en ras.

Ivor het die eerste vier reekse van Landbouweekliks op VIA aangebied.

Hy beskryf dit as ’n Damaskuservaring wat hom nuut laat dink het oor landbou se potensiaal, en die belangrikheid van diverse stories oor landbou in Suid-­Afrika, vertel Helené Prinsloo, ’n re­klamekoördineerder by Tafelberg Uitgewers.

“Dit het gelei tot die ontstaan van Food For Mzansi, ’n landbounuusplatform wat in die afgelope drie jaar al vyf internasionale pryse ontvang het. Toe skryf hy en Kobus Louwrens For the Love of the Land in 2019 en dit word gevolg deur die TV-program Vir die liefde van die land op VIA. Die reeks het gefokus op die uitsonderlike mentorskapverhoudings in landbou, dikwels tussen wit en swart.”

Hartstories se fokus is op vroueboere, swart boere en stedelike boere, eienaars van groot agri-ondernemings en dié wat ’n klein lappie grond verbou. Dit is leesstof wat die leser aangryp en inlig.

Uittreksels uit ‘Hartstories van ons land se boere’

Pieter Prinsloo van Queenstown

“Ons eerste kleinseun, my naamgenoot, is baie soos ek. Hy is ook mal daaroor om tussen die beeste te wees. En hy praat ook Xhosa. Ons het intussen ’n tweede kleinseun, Dirk, bygekry. Ek hoop hy sal ook die taal van die streek leer praat sodat hy ons band met die grond beter kan verstaan. En dat hy ook gewillig sal wees om langs sy bure te boer, wie hulle ook al mag wees.”

Wadea Jappie van Schaapkraal

“Kortom: Ek is ’n Moslem, ’n vrou, ’n moeder en ’n eggenoot, maar jy kan my ook ’n boer noem. Of dit nou toeval is of die noodlot. Inshallah. Soos God dit wil. Dit is regtig nie so ’n groot storie nie, die hele Moslem-vrou-boer-ding. Vroue het hulle deur die geskiedenis oor en oor bewys.”

Siviwe Tikana van Oos-Londen

“Die meeste dae is dit moeilik om swart boere te wees. Ons moet veg teen die opvatting dat ons die plaas net gekry het op grond van ons velkleur. Party mense sê ons het die plaas danksy politieke bande ontvang en neem sommer aan dat ons geen kundigheid of ervaring het nie. Ons het min toegang tot die mark en dikwels lê ons saans en wonder hoe ons werk moet skep as ons produkte nie by verbruikers kan uitkom nie.”

Rita-Theresa du Plessis van der Mescht van Grootvlei

“My senuwees het geknaag oor hoe die werkers op my sou reageer – nie net as boer nie, maar ook as vrou wat nou opdragte moet gee. ’n Boer se verhouding met hul werkers moet uitstekend wees. Hulle is jou regterhand, ongeag die seisoen. Daardie eerste planttyd besef ek al dat hulle my ten volle ondersteun en altyd reg is met hulp en raad. Ander boere het ook dikwels ingeloer om te kyk hoe die jong boervrou vaar.”

Mxolisi Mvaba van Smithfield

“My vader mag wel ’n wit boer wees, maar vir die grootste deel van ons lewe het ons gesukkel soos swart plaaswerkers. Ek is nou 44 en ek wonder of my pa die nuus gehoor het dat ek ook nou ’n boer is. Ek wonder of hy trots sou wees daarop dat ek van ’n skaapskeerder gevorder het tot waar ek nou is; dat ek die vee met groot sorg hanteer, net soos Dawid van ouds voordat God hom uitverkies het.”

Anneliese Burgess van Oos-Londen

“Op 80 is my pa nog elke dag tussen sy beeste, ry hy met sy rooi motorfiets op lande toe of neem sout kampe toe. Soos wat die jare aanstap, raak die fisieke deel van boer ál moeiliker, raak die bekommernisse oor brande, honde wat skape doodbyt, diefstal en die reën wat nie kom nie, soms te swaar vir ’n ou man om te dra.

Maar vir my pa (en my ma) is die plaas waar hulle wil wees. En in ’n normale samelewing sou dit ’n seëning wees en sou een van ons heel waarskynlik op die plaas terug wees en langs my pa aanboer – ’n volgende generasie op die grond. Behalwe: Suid-Afrika is nie ’n normale same­lewing nie en ’n plaas is nie meer ’n veilige plek nie.

Snags, as die middernagtelike slapeloosheid op my neerdaal, dink ek aan ons ou plaashuis onder die maan en my ouers wat slaap in hulle hok en dan voel ek soms asof ek nie kan asem kry oor die vrees wat my verswelg nie.”

* BESKIKBAAR TEEN DIÉ PRYS BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING.