Ester en Nonthando is van kleins af boesemvriendinne op die Oos-Kaapse plaas waar hulle grootword. Niks kan tussen hulle kom nie – tot een wonderlike somervakansie toe die liefde toeslaan en een (of albei) verraad pleeg.

Nonthando se dogter, Mila, word byna deur haat verteer, veral toe sy haar hart op die “verkeerde” man verloor. ­Ester is egter die een wat die swaarste aan die verlede dra.

Anchien vertel waar sy aan die meesleurende storie oor dié drie vroue kom.

“Ons het so twee jaar gelede my skoonma gehelp om van ’n meenthuis in Bloemfontein, waar sy 24 jaar gewoon het, na ’n aftreeoord op Jeffreysbaai te verhuis. In Bloemfontein moes ons letterlik haar hele lewe oppak. Dit was vir haar traumaties om te besluit wat sy wou hou en waarvan sy kon afskeid neem.

“Met die uitpak hier het ek op ’n foto afgekom wat so in 1948 geneem is van haar en haar swart maatjie wat op die gras lê en deur ’n boek blaai. Dit was een van die foto’s waarvan sy nie afstand wou doen nie en wat my toe geïnspireer het om die storie van Ester en Nonthando te skryf.”

Een van die karakters probeer haar eie lewe neem. Die aanloop tot die daad en veral die geliefdes se reaksie agterna klink baie eg.

“Ek het baie navorsing hieroor gedoen. Dit was vir my belangrik om die trauma van die geliefdes van ­iemand wat sy eie lewe neem of die poging oorleef so werklik moontlik weer te gee,” vertel Anchien.

Net so waarskynlik klink Ester se verraad. ’n Mens wonder of so iets vergewe sou kon word.

“Menslik gesproke twyfel ek of ware vergifnis – geheel en onvoorwaardelik – moontlik is, maar die hoop beskaam nie. En wraak is selde die antwoord.

“Ester het daarby baat gevind om die waarheid te vertel – ’n groot las is van haar skouers af, maar ek wonder of Mila enigsins daarby baat gevind het om die waarheid te hoor. Dalk sou Mila beter daaraan toe gewees het as sy nie die waarheid geken het nie. Of dalk is sy juis beter daaraan toe omdat sy die waarheid weet. Wie weet?”

Anchien dra Somtotaal op aan die ­#ImStaying-veldtog.

“In die wêreld waarin ons tans leef met die coronavirus en die gepaardgaande inperking, die algemene geweld en die (politieke) vingerwysings en -wysers, is dié groep ’n wonderlike beeld van hoe baie Suid-Afrikaners kan en wil leef. In harmonie, ongeag die uiterlike verskille.”

Somtotaal word deur Human & Rousseau uitgegee (R219*).

’n Uittreksel uit Somtotaal
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

is ’n mooi vertrek. Nie oordadig gemeubileer of versier nie, niks wat die pasiënt se aandag kan aftrek van dit wat belangrik is nie. Mila draai haar stoel na die venster, lig haar bene en laat rus die hakke van haar nuwe Christian Louboutins op die vensterbank. Terwyl sy ’n skyfie appel stadig kou, bewonder sy haar nuwe aankoop.

Wat sou sy sonder die magiese Hyde Park en Sandton City gedoen het? Daar waar sy haar kan verlustig in die beste skoene, handsakke, sonbrille van die wêreld se beste ontwerpers? Nie dat sy altyd daar is om te koop nie; net die kyk, die versugting is al genoeg. Daar is ook dae dat sy skuldig voel omdat sy nou weer soveel op ’n paar skoene spandeer het, meer as wat sy maandeliks vir haar ma stuur, maar die gevoel duur gelukkig nooit te lank nie.

Sy werk hard vir haar geld en sy koop nie net sommer nie. ’n Nuwe paar Louboutins of Jimmys laat haar nou eenmaal beter voel. Dis haar tydverdryf, spot haar kollegas wat nie weet dat sy met elke aankoop in die gesig van haar verlede spuug nie – daardie armoede. Sy buig haar voet by die enkel sodat haar tone na die plafon wys, draai haar kop skeef om die skoene uit ’n ander hoek te bewonder.

Armoede is in haar geval dalk ’n oordrywing. Daar was nooit ’n tekort aan kos of klere of skoene nie. Daarvoor het haar afwesige pa en haar hardwerkende ma gesorg.

Maar dit was nooit genoeg nie. Selfs noudat sy en haar ma albei goeie salarisse verdien, voel sy dat sy met meer kan doen. Die armoede wat sy onthou, is eerder dit wat sy gedurende haar grootwordjare om haar gesien het. Kinders met verflenterde klere, so maer dat jy vrees ’n sterk wind sal hulle optel en op ’n totaal ander plek neersit, aan die bedel by Spar en Shoprite en soms in die straat.

Mila kan nie stry dat haar kollegas ’n punt beet het nie. Haar besoeke aan inkopie­sentrums hét ’n tydverdryf geword. Sy vind ontwerpersetikette interessanter as mense. Al behels haar beroep om met mense te werk. Is sy veronderstel om dit ’n roeping te noem?

Sy sug, laat haar blik oor die nat stad dwaal, wonder vir die hoeveelste keer hoekom sy juis kliniese sielkunde as beroep gekies het. Al die seerkry, al die pyn wat sy elke dag moet aanhoor. Die hoop op haar pa­siënte se betraande gesigte dat sy hulle sal kan heel. Dis ’n klug, wil sy hulle soms vertel. ’n Klug. Sy kan haarself nie eens heel nie.

Daarom haar amperse obsessie met ontwerperskoene – dit is iets moois in hierdie spreekkamer, in haar dag, ’n soort teenmiddel vir die hartseer en swaar woorde wat ­alles hier uitkom. Nie dat dit altyd slaag nie. Sy byt deur nog ’n skyfie appel, maar dit smaak skielik melerig. Sy sluk swaar daaraan en sit die bordjie met die res op die vensterbank neer.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe