LIZETTE RABE

Lizette Rabe
Lizette Rabe

Joernalistiek-professor

“As jy nog nie ’n Rebecca Solnit-fan is nie, gun jou ’n ontdekkingsreis.

“Daar is – onder veel meer – Wanderlust: A History of Walking (2001), A Field Guide to Getting Lost (2006) en Men Explain Things to Me (2015).

Solnit is ’n Amerikaanse joernalis, aktivis en seker ook idealis.

“Oor die vakansiedae wil ek haar splinternuwe Call Them by Their True Names: American Crises (and Essays) herlees. Herlees, want ek het soos ’n boekruspe daardeur getrek omdat alles so super-aktueel is. In die veronderstelde tyd van besinning wil ek ’n bietjie langer oor haar woorde besin.”

NIC DE JAGER

Nic de Jager
Nic de Jager

Akteur, radioaanbieder

“Ek lees mos vir ander se plesier. Op die oomblik moet ek vir NB Uitgewers se Luisterboekprojek Prooi van Deon Meyer lees, asook Etienne van Heerden se Toorberg en Rudie van Rensburg se Kamikaze.

“Ek het in ieder geval nie vakansie nie – dis jou lot as jy ’n vryskut is.

“Wanneer ek wel vir eie plesier lees, is dit Robert Ludlum. Ek soek my alie af na iemand wat sy plek kan inneem. Hy is al in 2001 dood, maar daar is verskeie boeke onder sy naam – nie een van daardie ‘spookskrywers’ is goed genoeg nie.

“Andersins lees ek graag biografieë.”

KERNEELS BREYTENBACH

Kerneels Breytenbach
Kerneels Breytenbach

Skrywer 

“Ek het vanjaar ver agtergeraak met my Afrikaanse leeswerk omdat ek self aan die skryf was.

 “Die twee Afrikaanse boeke wat boaan my leeslys vir hier rondom die einde van die jaar is, is Ingrid Winterbach  se Die Troebel Tyd en Charl-Pierre Naudé se Die Ongelooflike Onskuld van Dirkie Verwey.

Substansie bo verstrooiing.

 “En vir Januarie se eerste week los ek leestyd oop vir Deon Meyer se jongste misdaadroman, Prooi. So ’n lekker manier om ’n jaar te begin!”

DEBORAH STEINMAIR

Deborah Steinmair
Deborah Steinmair

Skrywer

“My lys: Less deur Andrew Sean Greer; Priestdaddy deur Patricia Lockwood; Rainbow Nation My Zulu Arse deur Sihle Khumalo; Stof deur Alettie van den Heever; Die Ongelooflike Onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé; Bridge of Clay deur Markus Zusak; Transcription deur Kate Atkinson; Freedom deur Margaret Atwood; The Mandibles deur Lionel Shriver; In Pieces deur Sally Field; en Warlight deur Michael Ondaatje. En die toring van Pisa op my bedkassie, waaronder Gespreksgenoot en huishoudelike-noir-rillers vir ontvlugting.” 

HELENE DE KOCK

Helene de Kock
Helene de Kock

Skrywer

“Hierdie vakansie, soos enige ander rustydjie, sal vir seker droog wees sonder boeke. Gelukkig sien ek uit na Prooi van Deon Meyer en Sondag van Irma Venter, asook Ys van Rudie van Rensburg.

“Frederick Forsyth bly ’n gunsteling, en ek wil graag sy nuutste, The Fox, lees.

“Daarby is die skrywer Daniel Silva se The Other Woman uitstekend. Ronald H. Balson se Once We Were Brothers is hoog op my wenslys en ook, hoewel dit totaal iets anders is, die teoloog Frank Viola se verrykende treffers Jesus: A Theography en Jesus Now.”

PHILIP DE VOS

Philip de Vos
Philip de Vos

Digter, skrywer, sanger

“Vir iemand soos ek met die konsentrasievermoë van ’n goudvis is Herman Lategan se Opstokers, Fopdossers en Tweegatjakkalse ideale leesstof.

“Dit is ’n versameling van 113 van sy essays uit sy Woorde Wat Wip-rubriek wat in Rapport verskyn. Dit is ’n boek om proe-proe te lees. Dis vol humor, selfspot, medemenslikheid, satire en nostalgie.

“Ná die lees hiervan, en sy vorige Binnekring van Spookasems, kan ek nou met trots soos menige ander sê dat ek een van sy grootste bewonderaars is. Die man kán voorwaar skryf.”

JOHAN VAN ZYL

Johan van Zyl
Johan van Zyl

Rapport-boekeredakteur

“Dalk omdat ek self ’n plattelander is, wag daar heel voor in die (Afrikaanse) koor twee kleindorpse verhale: Charl-Pierre Naudé se magies realistiese, dikke debuutroman wat glo wonderwerke verrig met die taal, Die Ongelooflike Onskuld van Dirkie Verwey, en Dimitri Verhulst se Die Helaasheid van Dinge.

In Engels, met jubel­sange uit alle oorde, wag vanjaar se jolige Pulitzerpryswenner, Less deur Andrew Sean Greer, en History of Violence deur die jong Fransman Édouard Louis. 

“As die tyd toe­laat: 1 Recce van Alexander Strachan.”

Dana Snyman

Dana Snyman
Dana Snyman

Skrywer

“My Desember- boeke lê reeds op ’n hopie op my tafel en wag.

Die eerste een: Rob Rose se Steinheist, wat gaan oor Markus Jooste en die Steinhoffsage. Hoekom interesseer sulke gierige karakters soos Jooste ’n mens so?

“En dan is daar Yuval Noah Harari se 21 Lessons for the 21st Century – ’n gewigte titel vir ’n baie toeganklike boek.

‘If you want to understand death, you need to understand life,’ skryf Harari. Wyse woorde.

“Dan Rebecca Solnit se Wanderlust. Lees het vir my iets anders as ontspanning geword. Ek kom nie eintlik meer in ’n kerk nie. Om te lees is my kerk toe gaan . . .”

FOTO'S: EBEN PIENAAR, PETER THERON, HANNELIE DE WET, LEANE SPANGENBERG, INGRID HOWARD,DONNA LEWIS