Die boek van bye, Die boek van bome

Deur Wojciech Grajkowski. Illustrasies: Piotr Socha. (Protea Boekhuis, R316* elk)

Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

In 2015 het die Poolse vereniging van boekuitgewers Die boek van bye as Die Mooiste Boek van die Jaar aangewys. Ek sou dit sommer aangewys het as Die Mooiste Boek in die Hele Wye Wêreld.

Dis ’n reuseboek wat op ’n grootmens se skoot pas. As jy nog nie ’n grootmens is nie, sal jy dit dus op ’n tafel moet neersit om deur te blaai en ’n grootmens vra om dit vir jou te lees.

Die illustreerder, Piotr Socha, se pa is ’n byeboer. (Sy volgende boek was Die boek van bome, en ek wonder of sy ma ’n boomboer was, maar hulle sê nie.)

Piotr is een van Pole se gewildste spotprenttekenaars, maar sy byeboek en sy boomboek is nie ’n spottery nie – dit loop oor van feite wat ’n mens nie eens geweet het jy wil weet nie, maar nou baie bly is jy weet.

Soos:

  • “Bye was roofinsekte meer soos vandag se perdeby en het blomme hoofsaaklik besoek op soek na prooi in die vorm van kleiner insekte. Maar op ’n dag het een van dié perdebye gedink: ‘Ek ís nou hier. Ek kan netsowel ’n bietjie stuifmeel probeer.’ ”
  • “Heuning was ’n groot bron van energie vir ons oer­ouers wie se dieet hoofsaaklik uit plante en vleis bestaan het. Maar daar is vandag nog mense vir wie heuning baie belangrik is: Die Efe-volk van sentraal-Afrika het ’n ‘heuningseisoen’ wanneer korwe leeggemaak word en amper drie derdes van hul dieet uit heuning bestaan.”
  • “Bye as mini-spioene? Navorsers aan die Harvard-universiteit het die RoboBee ontwikkel en by die Warskou-universiteit werk hulle aan B-droids. Die idee is dat dié vlieënde robotte gewasse moet help bestuif en inligting oor omgewingstoestande insamel. Maar mense hou mos daarvan om mekaar af te loer; dus word bespiegel dat dié bytjies in die toekoms ook as spioene ingespan sal word.”

In Die boek van bome vertel Piotr (weer saam met die bioloog Wojciech Grajkowski) die storie van bome van die ­begin tot vandag. Bome is die grootste lewende wesens op aarde!

Omdat ons elke dag met bome saamleef, dink ons ons ken hulle, maar moenie glo nie. Jy sal nooit weer ’n boom miskyk as jy dié boek gelees het nie.

Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
  • Hulle sê dié twee boeke is geskik vir kinders van sewe jaar en ouer. Ek dink vir kinders so oud soos sewe maal sewe maal sewe jaar oud.
Wetenskaap
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Deur Leon de Villiers. Illustrasies: Linki Brand (Lapa Uitgewers, R122*)

Noodsaaklike vyte wat jy moet ken:

  • Wetenskape is mense wat hou van vyte.
  • ’n Vyt is wat oorbly nadat ’n mens goeters uitmekaarhaal en dit weer bymekaarsit. “As ’n mens se derms byvoorbeeld sou uithang, sal hulle dadelik ’n dokter roep om dit terug te sit. Dis ’n vyt.”
  • Hoe slim is skape? Baie. “Hulle het wol uitgedink nog lank voor mense geweet het truie sal goed werk in die winter.”
  • Wat moet ’n mens breinwurms voer? “Breinwurms eet ongedinkte gedagtes. Sommige mense se koppe is tjokkenblok vol daarvan.”
  • Hael is waterdruppels wat hoogtevrees het en aan mekaar vasklou as hulle uit die druppelbus gegooi word. En sneeu is druppels wat dink dis koel om oral rond te lê.
  • Het jy geweet piramides is groot selfone en kinders vol suiker is rusteloos omdat . . .

Nee wag, gaan koop die boek en kry al die vyte onder die knie voor die skool begin. (O, en het jy geweet waar skool vandaan kom?)

  • Wetenskaap is heerlik absurd, en grootmense sal dit net soveel soos kinders geniet.
Word ’n virusvegter!: ’n Gids vir gesond bly

Deur Eloise Macgregor. Illustrasies: Alix Wood. (Human & Rousseau, R72*)

Beskikbaar by Human & Rousseau.
Beskikbaar by Human & Rousseau.

Dié oulike boekie is op jong kinders gemik. Dit verduidelik in eenvoudige taal onder meer wat ’n virus is, hoe ’n mens dit kry, hoe dit jou laat voel, hoe jy jouself en ander mense veilig hou en hoe isolasie werk.

Sekere terme word ook verduidelik, soos wat dit beteken as jy die siekte “dra” (“jy voel nie siek nie, maar jy is aangesteek en jy kan die siekte na iemand anders oordra”) en wat is diarree, een van die simptome (“gereelde en waterige bollie”).

  • Selfs grootmense sal hierby baat vind, want al die inligting oor covid-19 waarmee ’n mens gebombardeer word, is hier gereduseer tot die heel basiese.
Be plastic clever
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Deur Amy en Ella Meek (Dorling Kindersley, R165*)

Dis ’n uitstekende boek vir laer­skoolkinders en jong tieners oor wat plastiek aan ons planeet doen en wat hulle kan doen om te help.

Die Britse susters Amy (17) en Ella (15) Meek is deur die Verenigde Nasies se Global Goals-projek geïnspireer om Kids Against Plastic te begin.

Hulle skryf in hul voorwoord dat hulle nie teen alle plastiek gekant is nie, want dit sou dom wees aangesien plastiek baie nuttig kan wees. “Ons fokus op plastiek wat net een keer gebruik word – die geriefsitems wat ons vir ’n paar minute gebruik en dan agterlaat om vir ewig in die omgewing te bly bestaan.”

  • Teen dié prys beskikbaar by Graffitiboeke.co.za. Aflewering landwyd – as jy meer as R500 bestee, is dit gratis per koerier; Bestellings minder as R500 kos R89.