Dis ’n boek wat die mense gaan laat praat deur ’n skrywer sonder ’n naam. Want daar bestaan nie ’n Lodewyk G. du Plessis nie.

Die werklike skrywer van Die Dao van Daan van der Walt is suinig met sy woorde wanneer hy uitgevra word oor sy anonimiteit. “Ek is ’n privaat persoon en soek nie publisiteit nie. Lees die boek!”

In die verlede het anonimiteit dikwels platgeval, soos in die geval van The Stig, die anonieme wonderjaer in die Britse TV-program Top Gear. Toe sy identiteit eindelik bekendgemaak word, was dit ’n groot teleurstelling omdat hy totaal onbekend was.

Op die vraag aan mnr. Anoniem of sy lesers eendag verras of teleurgesteld gaan wees as hulle hoor wie hy is, is sy antwoord ook kort: “Die inhoud van my boek is waaroor dit gaan, en dit het niks te doen met my identiteit nie.”

En is Die Dao mnr. Anoniem se debuut of het hy onder ’n ander naam ander boeke geskryf? “Die Dao van Daan van der Walt is ’n debuut,” sê hy (sy?).

Ek is ’n privaat persoon en soek nie publisiteit nie. Lees die boek!

In die boek vertel Daan sy lewensgeskiedenis aan sy hond, Kaspaas, wat vir die grootste deel van die boek reeds dood is. Die Engelssprekende Kaspaas moet een van die vreemdste, verfrissendste karakters in die letterkunde wees.

“Al van Steinbeck se Travels with Charley gehoor? Of van Márquez se storie oor María dos Prazeres se hond, Noi, wat by haar graf gaan huil het? Kort voor haar dood het María gesê dis belangrik om ’n hond te leer om te lag en te huil.

“Navorsing toon dat ’n troeteldier ou mense se lewe in ouetehuise draagliker maak. ’n Hond is gewoonlik die aangewese troeteldier, maar papegaaie en donkies word ook aanbeveel.”

Die rede dus dat Lodewyk ’n hond gekies het?

“Dink jy Daan sou 358 bladsye lank met ’n budjie kon gesels?”

Daan voel hy is gepynig deur sy vrou, ’n Ph.D.-student in die letterkunde, se lessies om hom te beskawe in die kunste. Die aanstellerigheid om te praat van intertekstualiteit (“waar skrywers met hul maatjies se naeltjies peuter”) en “aan bod kom”, het “die riffels in sy harsings platgetrek”.

Is sulke literêre grootdoenerigheid ook vir Lodewyk grillerig?

“Behoort grootdoenerige taal en die voorskriftelikheid van ’n skrifgeleerde Sadduseër hoegenaamd aan bod te kom in ’n plesierige onderhoud soos dié?

Toe Daan ná sy vrou se dood besluit om weer die nette uit te gooi, skryf hy aan ene Boerseun, wat hy in Landbouweekblad se Opsitkers teëkom.

"Laat die leser self besluit wanneer Daan sy vrou se siel uittrek en wanneer hy ernstig in gesprek tree met voormelde goggas.”

Toe Daan ná sy vrou se dood besluit om weer die nette uit te gooi, skryf hy aan ene Boerseun, wat hy in Landbouweekblad se Opsitkers teëkom. Dié is ’n heel onsimpatieke huurling, en lesers sal kan wonder waarom die skrywer nie maar vir Daan ’n ordentliker man gegee het vir sy eerste Kaapse avonture nie.

“As die God van Donder, Chris Hemsworth, se advertensie in die Opsitkers was, het Daan dadelik ’n liefdesbrief aan hom geskryf. Ek sê ordentlik of nie, Daan was nie ’n enkele oomblik verveeld in dié jong man se teenwoordigheid nie.”

Tai chi kom gereeld in die verhaal voor. Die eerste keer toe Daan tai chi sien, was dit sy buurvrou wat in haar blinkrooi broekpak “oor ’n plaat wit gruis in haar agterplaas gesweef het soos Esther Williams onder water geswem het”.

Meester Yang was die een wat die Kalahari-boer aan dié ou kuns bekendgestel het. Lodewyk verduidelik wat tai chi is.

“As jy vroegoggend in enige plek in China by ’n park verbyloop, sal jy bejaardes sien wat bewegings so langsaam soos ’n skilpad in stadige aksie uitvoer. Hulle doen tai chi. Dit help met ’n ou mens se balans wanneer dit voel of die aarde jou wil afgooi.

“Daan het sy ewewig letterlik en figuurlik verloor die dag ná sy onwillige aankoms in China toe hy hoor wat sy enigste seun in dié land aangevang het. Sy seun het hom na ’n klooster daar naby geneem en ’n tai chi-meester wat ook ’n dokter was, gevra om sy pa te behandel.”

Nog iets eie aan China is die virgin boy-eiers wat Daan smiddae vir hom en sy stiefkleindogter koop wanneer hy haar by die skoolhek gaan haal.

Hy vind eers later uit hoekom die Chinese op straat die Westerling goedkeurend en selfs bewonderend aankyk wanneer hy hieraan loop en smul: Dit word in urine gaargemaak.

“Dit neem ’n dag om die eiers oor en oor te kook tot die wit ’n goue pie-skynsel het en die geel groen verkleur is.”

En wat kom volgende uit Lodewyk G. du Plessis se pen?

“Nou vra jy mos die boer die kuns af.” 

Daan se DAO (PAD)

Daan het volle verwagting hy sal tot sy einde ’n gelukkige lewe lei. Dit het goed begin op sy Kalahari-plaas, Ystervarkfontein, waar die Here saans in die aandwindjie deur die boord gewandel het.

“G’n gesoek na God op my plaas nie. Bly net stil, spits jou ore, luister, maak jou oë oop en kyk, en jy het soos ’n kaalperske, blos op die wang, nakend voor jou Skepper gestaan.”

Maar dan kom die dag dat hy besef ’n man weet nie voor die dag van sy dood of hy gelukkig was of nie. Ná sy vrou se dood raak sy dao vol draaie wat hy nie voorsien het nie, maar sy vrou ten minste vermoed het.

Daar’s ’n draai by ouetehuisvroue, die Seepunt-man en dan die klooster wat eers soos ’n doodloopstraat lyk waaruit hy wil ontsnap, maar dan die plek word waar hy begin duidelikheid kry.

Soos Kaspaas vir hom in ’n droom sê: “Admit you are the one who messed up your marriage, you silly homo. Apologise to her. Make peace with your son and his wife. Then get on with what little remains of your life.”


Wen

Vyf lesers kan elk ’n eksemplaar wen van die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G. du Plessis (Tafelberg, R300*).

SMS jou antwoord, naam en adres voor 24 Mei om 17:00 na 35407.

Vraag: Wat beteken dao?

Beskikbaar teen dié prys by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.