Sarel Seemonster Se Avontuur

Deur Louise Smit; illustrasies: Luan Serfontein (Human & Rousseau, R119*)

Hallo, maatjies, my naam is Bennie en daar’s nie ’n storie wat ek nie ken nie. Hier in my tonnelhuisie diep onder die grond het ek rakke en rakke vol storieboeke. Dié maand wil ek julle vertel van ’n boek oor ’n monster.

Toemaar, maatjies, julle hoef nie te skrik nie; dis nie ’n monster wat kindertjies opvreet nie. Dis ’n boek oor die liewe Sarel Seemonster en ’n groot avontuur wat hy gehad het. Eendag sê hy vir sy ouma hy wil graag gaan kyk hoe die wêreld lyk.

Sy pak vir hom seegraskoekies in en waarsku hom dat hy versigtig moet wees vir diere met skerp tande. Al diere met skerp tande wat Sarel Seemonster ken, is haaie, maar nee, sê ouma Seemonster, daar’s nie haaie op land nie.

Met sy bamboesrugsakkie op sy rug stap Sarel die wye wêreld in. Hy ontmoet vir Woo-woo Wolf, Aas-aas Aasvoël en nog ander diere wat hom wil opvreet, maar hy het ’n geheime wapen. Laat mamma of pappa vir julle die boek lees om uit te vind wat Sarel se geheime wapen is. O goue blaar, my storie is klaar.

– BENNIE BOEKWURM

My Eerste Boek Met Bybelstories

Deur Katherine Sully; illustrasies: Simona Sanfilippo (Struik Kinders, R250*)

Ses verhale uit die Ou Testament en ses uit die Nuwe Testament word hier op ’n vars manier oorvertel. Elke blad het net kort stukke kopie wat met eenvoudige, kleurryke illustrasies versier word wat help om die verhaal te vertel.

In die eerste deel ontmoet die kind vir Noag, Josef met sy bont kleed, Moses in sy mandjie, Dawid en Goliat wat baklei, Daniël en die leeus, en Jona en die vis.

Die Nuwe Testamentiese verhale fokus net op Jesus: sy geboorte, doop, dissipels, wonderwerke, die laaste ete en sy kruisiging. Dis ideaal vir voorlees, maar veral vir kinders wat al amper heeltemal op hul eie kan lees.

My Ballerina-droom – ’n Ware Verhaal

Deur Michaela en Elaine DePrince; illustrasies: Ella Okstad (Jonathan Ball, R83*)

“Ek wil ’n ballerina word!” Dit was ’n klein meisietjie se wens, maar haar kans om wel een te word was bitter skraal. Die manier waarop dié oorlogswesie uit Sierra Leone in Wes-Afrika toe wel op die wêreldverhoë begin dans het, klink soos iets uit ’n storieboek.

Toe Michaela DePrince nog Mabinty Bangura was, het sy soos dikwels by die weeshuis se hek gaan sit. Op dié winderige dag het ’n tydskrif teen die hek vasgewaai, en op die voorblad was ’n vrou met ’n kort pienk rok en pienk skoene en sy het op haar tone gestaan.

Michaela DePrince

Toe haar juffrou verduidelik dis ’n ballerina, is Mabinty se droom gebore. Sy wou ook eendag so gelukkig soos die vrou in die pienk klere lyk.

Haar kans het gekom toe sy en haar beste maatjie later deur ’n Amerikaner, Elaine DePrince, aangeneem is en sy in haar nuwe vaderland kon begin ballet neem die oomblik toe sy Engels kon verstaan.

Michaela se verhaal wat in dié besonderse storieboekie oorvertel word, sal ’n inspirasie vir kinders wees, selfs al wil hulle nie eendag ’n danser word nie.

Ben

Deur Oliver Scherz; illustrasies: Annette Swoboda (Protea Boekhuis, R180*)

“ ‘Wanneer jy weer verjaar, doen ons iets droogs. Of jy nou ’n waterskilpad is of nie,’ sê ek vir meneer Minnie.”

Meneer Minnie is Ben se troeteldier, en sy laaste partytjie was eintlik ’n ramp. Om hom te bederf, het Ben vir hom ’n bad vol water getap en toe in die rivier verjaardaggaste gaan vang.

Teen die tyd dat hy met twee vissies in ’n plastieksak teruggekeer het, was die hele badkamervloer toe onder die water en skuimbolle. Ben moes die hele wasgoedmandjie, die deken oor sy bed en al sy grootste teddies gebruik om die vloer te probeer droog kry, maar dit het nie goed genoeg gewerk nie, want toe sy ma by die huis kom . . .

Ben is nog nie in die groot skool nie en hy en meneer Minnie beleef die wonderlikste avonture.

Soos toe hy ’n Indiaan was, want hulle voel nie pyn nie. Maar toe kom daar ’n vreemde vrou en sy hou sy arms en bene vas en trek sy broek af sonder om eers te vra.

En toe kry hy ’n inspuiting en sy ma skree “Benjamin!” omdat hy nie wil ophou skree nie. Of daar’s die keer toe hulle nuwe bure kry en die kinders is almal meisies . . . 

* Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.