Anderman se vrou deur Chris Karsten (Human & Rousseau, R235*)

Chris Karsten. Foto: Wessel van Heerden
Chris Karsten. Foto: Wessel van Heerden

Twee jaar ná die reeksmoordenaar Jack Niemand se dood is daar steeds vrae wat onbeantwoord bly.

Wim Kellerman gaan Kanada toe om sogenaamd aankope te doen vir sy skoenlapperboerdery, maar intussen gaan soek hy antwoorde daar.

Die skrywer Chris Karsten het ná presies sewe jaar en een week in Nova Scotia, Kanada, na Suid-Afrika teruggekom. Hy beantwoord self ’n paar vrae.

Sal Kanada steeds in die toekoms so ’n groot rol in jou verhale speel?

Ek weet nie.

Die persoonlikhede van my twee hoofkarakters (held en boef) bepaal die intrige van ’n storie, pleks van om eers ’n intrige te ontwikkel en my hoofkarakters daarby te laat aanpas. Die ruimtes van die storie hang dus af van die plekke waarin die hoofkarakters hulle tuis voel of waarheen gebeure hulle lei.

Hoe verskil Anderman van jou vorige misdaadromans?

Anderman is nie ’n tipiese misdaad/speurverhaal waarin ’n speurder ’n moord moet oplos sodat reg en geregtigheid geskied nie.

Die hoofkarakter, Wim, is ’n alledaagse kêrel wat eerder na die “waarheid” soek as na juridiese geregtigheid en tasbare ontmaskerings.

Daarom lei sy speurtog na dieper geestelike onthullings en transformasies, iets soortgelyks aan die metamorfose van eier tot wurm tot papie tot skoenlapper – presies hoe Rachel haarself herontdek en transformeer van die naïewe, onderdanige randeier in Seisoen van sonde tot waar sy nou haar sekslose huwelik begin bevraagteken.

Bon Accord se grusame geheime, byvoorbeeld die dwelms om vroue te steriliseer, antraks in sigarette wat vir sjebiens bestem is en dierehormone vir skarebeheer – het jy in die werklike geskiedenis gaan delf?

Al die fiktiewe gebeure en verwysings kom uit die werklike Suid-Afrikaanse geskiedenis, soos gerapporteer in koerante en geboekstaaf in die finale verslae van die Waarheid-en-versoeningskommissie.

So was daar die werklike Project Coast se geheime chemiese en biologiese wapenprogramme deur frontmaatskappye soos Delta G Scientific Company en Roodeplaat Research Laboratories.

Vertel iets oor jou gunstelingkarakter.

Ongeveinste Wim.

Hy is half onseker oor hoe hy te werk moet gaan met sy selfopgelegde taak, maar skrik nie vir die uitdagings nie. Al wat hom onderkry, is die siel van die vrou.

Daarom word sy soektog na die waarheid oor vyf vermiste jong mense ook ’n soektog na sy ware self.

En hierdie selfkennis verras hom. Wat het van die régte Wim geword, die saggeaarde pasifis, die skoenlapperboer?

Hierdie Wim ken hy nie, die een wat swets en lieg en bedrieg en as geweldenaar ontpop het. Wat anderman se vrou begeer en vuurwapens afvuur.

Vyf dinge wat Chris in 2019 verstom het
  • Die geesdrif vir die Afrikaanse boek en lied. 
  • Die erns van die ekonomiese krisis wat Zuma en sy korrupte kliek nagelaat het. 
  • Die tragedie van die droogte vir mens en dier. 
  • Die gees van versoening wat Siya Kolisi se Bokke opnuut kon aanvuur. 
  • Die volgehoue onversoenlikheid van Malema en diesulkes.
’n Uittreksel uit Anderman se vrou
Anderman se Vrou
Anderman se Vrou

Hy hoor ’n eentonige gepiep, skril in die stil huis, en kyk om na die monitors.

’n Groot bakkie wag terwyl die hek oopskuif, die tyd op die monitor 17:52:33. Serge slenter kombuis toe.

Hy trek albei handskoene uit vir nog ’n stuk Panforte, en hoor hoe die deur oopgaan en die voertuig inry.

Hy staan en kou aan die lekker Panforte, dink dit word ook Florentine genoem, en die Duitsers het iets soortgelyks: Pfefferkuchen, as hy dit nie mis het nie.

Die bakkie se enjin word afgeskakel en ’n deur klap. Hy soek in die kombuiskaste en kry die braaipan, toets die gewig.

Dit is ’n swaar turkoois pan. Le Creuset, lees hy.

Hy los dit op die blad en maak ’n afdrooglap onder die koue kraan nat, wring die ergste water uit.

En trek weer albei handskoene aan, en wag met die nat lap. Die deur gaan oop.

Die man steek vas, sy oë gesper, mond oop: “Wat de –” Die plat bodem van die pan tref die doktor op die neus en die bloed spat, ook op Serge, al tree hy instinktief weg.

Die doktor laat val die sportsak en gryp met albei hande na sy gesig.

Serge druk die nat lap tussen die doktor se vingers in, sit die pan weer op die toonbank en swaai sy rugsak van die eiland af oor ’n skouer, haal die vislyn uit sy broeksak, draai elke punt stewig in ’n vuis vas, en strek-strek die vislyn tussen sy hande, die spiere aan sy fris, getatoeëerde arms styf gespan.

Hy sien hoe die doktor sy oë na hom lig, die pupille groot van skok, verdwasing en seker ook pyn.

Toe hy sy hande laat sak om weer te praat, lig Serge syne, gee twee treë agter die doktor in en knoop die vislyn in ’n snel en behendige beweging om die doktor se nek, trek dit styf.

“Moenie probeer stoei nie, jy maak dit net erger,” sê hy in die doktor se oor.

Die liggaam verslap, die hande met die nat lap terug teen die gesig.

“So ja,” sê Serge agter teen sy nek, “dis beter. Hoe voel die neus? Ek’s bevrees dis gebreek. Nou gaan ons daar na jou kantoor toe loop, jy voor, ek agterna, half intiem, so styf teenmekaar, hoop nie jy gee om nie, maar ek kan nie eintlik die vislyn skiet gee nie, want dan gaan jy met jou trieks begin.”

Hy por hom aan met ’n stamp van ’n heup. “Komaan, links, regs, links, regs ...”

LET WEL
  • Beskikbaar teen dié prys by Takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering. 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.