Dae nadat Die Dao van Daan van der Walt met twee pryse bekroon is, het dit bekend geword wie die skrywer daarvan, Lodewyk G. du Plessis, is.

Ons gesels met oudregter Andries Buys.

Dao
Foto: Verskaf

Die aap is uit die mou en die vraag bly staan: Waarom die skuilnaam?

Onthou jy wat jou ma vir jou gesê het toe jy klein was en jy haar ’n dom vraag vra?

Sy het gesê: Wanneer jy eendag groot is, sal jy verstaan. So sê ek vir jou: Wanneer jy eendag 80 is, die malers min geword het, dié wat deur die vensters kyk, verduister, die lied van die voëltjies dof word en die amandelboom in die bloei staan, sal jy saam met my en die Prediker sê: Ek het daar geen behae in nie.

Ek het ’n skuilnaam gebruik omdat ek nie ná ’n lang openbare lewe, eers as advokaat en daarna as regter, weer tot die openbare lewe wou toetree nie.

Ek het in 2003 die regsberoep vaarwel toegeroep en my in Kaapstad gevestig, ’n afgetredene wat sy tyd rustig ver uit die openbare oog deurbring met lees, reis en skryf.

Die skrywery het met rukke en stote gevorder tot die eindelike publikasie van Die Dao van Daan van der Walt. Daar was tussenposes van jare dat ek glad nie hieraan gewerk het nie en lang tye in die Ooste gewoon het.

Wanneer ’n mens ’n boek skryf, is ’n boekprys die laaste ding waaraan jy dink. Waaraan jy wel dink, is of jy die boek ooit gepubliseer gaan kry. En toe, binne een week, kry die boek die UJ- en die Eugène Marais-debuutprys.

Skielik word ek gekonfronteer met die vraag: Hoe tree ’n verantwoordelike skrywer op wanneer sy of haar werk bekroon word?

Jy sê natuurlik dankie. ’n Skuilnaam kan nie dankie sê nie.

In jou onderhoud met Huisgenoot net nadat Die Dao verskyn het, het jy oor jou anonimiteit gesê jy soek nie publisiteit nie, want jy is ’n privaat mens. Dit gaan nou verander. Hoe voel jy oor die prysgee van jou privaatheid?

Ek ag steeds my privaatheid hoog. Ek het my identiteit bekendgemaak, want ek wil erkentlikheid betoon. En les bes wil ek vry wees om met my lesers te kommunikeer.

Ek het nooit soveel positiewe en soms roerende kommentaar op my boek verwag soos wat ek op die internet raakloop nie. Ja, my besluit om my identiteit bekend te maak het die onvermydelike gevolg dat ek weer tot die openbare lewe toetree.

Dis mos hoe die lewe is: Jy dra die gevolge van jou handeling.

Daar was lesers wat Die Dao met ’n vergrootglas gefynkam het op soek na leidrade oor die skrywer se identiteit. Daar was ten minste konsensus dat dit ’n koeksister-etende Dopper is wat ’n ruk lank in China gewoon het. Is enige hiervan van toepassing op Andries Buys?

Ek dink nie ’n mens kan ’n boek soos Die Dao van Daan van der Walt skryf sonder dat daar afskaduwings van jouself in sal wees nie. Die boek is nie biografies nie. Van die voorvalle wat in die boek beskryf word, veral in China, het ek self beleef.

Ek het op verskeie plekke in China tai chi-skole bygewoon.

Was die lang skrywery aan jou debuutroman soos ’n stokperdjie – party mense doen joga of borduur; jy gaan sit en skryf aan jou storie?

Ek het 16 jaar gelede afgetree, maar darem nie so lank aan die boek geskryf nie. Skryf is nie ’n stokperdjie nie, veral oor onderwerpe soos vervreemding, verlies, godsdiens en seks.

Dis bitter harde werk. Maar die skryfproses was vir my opwindend. Ek is lief vir woorde.

Twee regsgeleerde skrywers onder een dak. Jou lewensmaat, Tan Twan Eng, is self ’n bekroonde skrywer wie se debuut en tweede roman vir die Bookerprys benoem is. Koukus julle oor jul onderskeie manuskripte?

Ek het dikwels met Twan gekoukus. Sy werkmetode is gans anders as myne. Gedurende die skryfproses bespreek hy glad nie sy werk met enigiemand nie.

Wanneer hy klaar is, gee hy my sy manuskrip, wat ek dan, potlood in die hand, met sorg lees en waarop ek aantekeninge maak.

Dan bespreek ons my aantekeninge en hy besluit of hy die aanbevelings gaan volg of nie.

Gaan jy nou onder jou eie naam skryf?

Ek beoog om my skrywersnaam, Lodewyk G. du Plessis, in die toekoms te gebruik. Gert Lodewyk was my pa se name. My ma se nooiensvan was Du Plessis en ek is met my oupa se name en van gedoop: Andries Johannes du Plessis.

My pa was ’n weeskind en die skaapwagter by ’n ryk boer in die Oos-Kaap. Hy het nooit skoolgegaan nie. My ma is in 1901 in die Britse konsentrasiekamp in Kimberley gebore.

Die Du Plessis-gesin het in die Anglo-Boereoorlog alles verloor. Waar ek in my boek oor Daan se moeder geskryf het, het ek my ma se tragiese vroeë lewe in gedagte gehad.

My skrywersnaam was ’n gebaar van erkentlikheid teenoor dié twee ou mense, al jare lank dood, wat hul lewe met so ’n agterstand moes begin en met so min moes klaarkom en my en my broer tog met universiteitsgrade die toekoms kon instuur.

Daan se Dao (pad)

Daan het verwag hy sal tot sy einde ’n gelukkige lewe lei. Dit het goed begin op sy Kalahari-plaas, Ystervarkfontein, waar die Here saans in die aandwindjie deur die boord gewandel het.

“G’n gesoek na God op my plaas nie. Bly net stil, spits jou ore, luister, maak jou oë oop en kyk en jy het soos ’n kaalperske, blos op die wang, nakend voor jou Skepper gestaan.”

Maar dan kom die dag dat hy besef ’n man weet nie voor die dag van sy dood of hy gelukkig was of nie. Ná sy vrou se dood raak sy dao vol draaie wat hy nie voorsien het nie, maar sy vrou ten minste vermoed het.