“Op die Place Saint-Pierre, by ’n tafeltjie onder die vrolik verligte takke van ’n reuseboom voor die ou kerk, het hy sy hart verloor. Onverklaarbaar, onverwags, soos dit ware liefde betaam. ’n Trouvrou gekry . . .”

Dis Daniel, een van die helde in Prooi, Deon Meyer se nuutste spanningsroman, wat so verlief is – op die Franse stad Bordeaux.

Daar’s ’n ander verliefde man wat in Bordeaux met ’n diamantknoets geset op die fynste roosgoudpand sy geliefde gevra het om te trou. Nee, nie Bennie Griessel nie – hoewel ook hý verlief is – maar wel Deon, wat laggend ontken dat die twee trouvroue met mekaar verband hou.

Op die dorpie Sare in Baskiese Frankryk. Foto: Verskaf

“Dis net ’n manier om Parys en Bordeaux van mekaar te onderskei. Parys is so sexy soos ’n verleidelike vrou; Bordeaux is die trouvrou, steeds beeldskoon, maar sy laat jou veilig voel.”

Dis nie duidelik of hy van die stad of van Marianne Vorster praat nie, die mooi vrou met die besonderse oë wat kom saameet het voor ons onderhoud in ’n Kaapse kerrierestaurant. (Sy reklameman, Eben Pienaar, het dit spesifiek gekies omdat Deon ’n kerriesmulpaap is, een van dié wat graag spog dat die rissie wat hom laat sweet nog gekweek moet word.)

Dis welkom terug aan die ou gunstelinge Bennie Griessel, Vaughan Cupido en Mbali Kaleni (en ’n verrassing wat diep uit die verlede opduik).

Die kilo’s het lekker geskuif tussen dié drie Valke. Bennie is skraler, want hy trap fiets noudat hy by sy geliefde Alexa ingetrek het in haar huis teen Tafelberg. Helaas het die liefde die teenoorgestelde gedoen vir Vaughan, wie se meisie hom suksesvol vet voer.

En hy wat nog altyd gesê het dit help nie om doekies om te draai en Mbali oorgewig te noem nie, sy is “dik”, moet nou sy woorde sluk, want die kolonel het die bantingdieet baie suksesvol gevolg.

Prooi speel hoofsaaklik in die Kaap en Frankryk af en handel oor staatskaping, ’n kleptokratiese president wat heul met Poetin en gekaap word deur drie Indiese misdadigers wat hulle as sakemanne voordoen, en ’n vrot wat van die minister van polisie tot in die murg van sy hele mag loop.

Is Prooi sy protes teen die bestel soos wat Dibi Breytenbach en Helena Gunter onlangs aan Huisgenoot gesê het oor húl nuutste romans?

Ja, sê Deon.

“Dis nie uitsluitend wat Prooi is nie, maar ’n deel daarvan is my protes oor wat in die land aangaan. Verstaan net dat ek die idee vir Prooi gekry het voor die Cyril Ramaphosa-era – die protes is hoofsaaklik gemik teen die vorige administrasie.”

Sou die boek tevore verbied gewees het?

Deon lag en dink eers voor hy antwoord: “As ’n mens dieselfde bekend klinkende fiksie onder die ou bedeling geskryf het, sou dit verbied gewees het, ja. Ek het so 10 jaar ná die einde van apartheid ’n brief gehad van ’n lid van die Publikasieraad se grysskoenbrigade wat vir my streng laat weet het dat my boeke in sy dae beslis verbied sou gewees het.

“Dit was vir my ’n reusekompliment. Ons het destyds net nie dieselfde vryheid van spraak gehad nie.”

Deon was in sy vorige boeke so positief oor die polisie, maar nou moet kol. Kaleni oorkant die Valke se kantoor in die Bellville-biblioteek gaan vergader uit vrees dat hulle afgeluister word – deur hul eie kollegas. Is selfs hy ontgogel deur ons brigade in blou?

“Ek is positief teenoor ’n groot komponent van die polisie wat steeds hul werk baie goed doen, byvoorbeeld die Valke in die Kaap. Daai ouens is ’n Gideonsbende wat steeds ongelooflike werk doen.

“Maar Prooi is net soveel ’n protes teen die departement van openbare werke wat daardie Valke-hoofkantoor so laat verval en te useless is om iets daaraan te doen as wat dit is teen die persentasie polisielede wat korrup en sleg is.”

Spanning word op nuwe maniere in Prooi ontgin, dalk omdat die Bennies van die wêreld deesdae minder voetwerk doen.

“In die ou dae, voor die ganse wêreldbevolking digitale spore begin laat het met selfone, GPS en die internet, het dié term beteken ’n speurder is te voet wanneer hy ’n saak moet ondersoek. Huis tot huis,” skryf Deon.

Maar, verduidelik hy nou, hy dink nie dis moeiliker om spanning te bou nie.

“Konflik is die moeder van spanning. Jy moet in die eerste plek konflik skep. Begin by die karakter se stryd in homself, dan met sy geliefdes, dan met sy onmiddellike omgewing, daar waar hy werk.

Deon en Marianne op hul fietse buite Stellenbosch. Hy het sy geliefde ­motorfiets vir ’n bergfiets verruil, want hy’s “nie meer lus om so kilometer op kilometer te konsentreer nie”. Foto: Verskaf

“Wat dit wel moeiliker maak, is die struktuur van die boek omdat inligting so vinnig en so vrylik beskikbaar is.”

Hy meen hoewel tegnologie die skrywer dinge ontneem in terme van struktuur en tempo en hoe sekere dinge maklik is en dus minder spanningsvol, gee dit wel ’n klomp heerlike nuwe storiemoontlikhede.

Is skryf ’n genot of gesukkel?

“Al twee. Die eerste helfte van ’n boek is ’n gesukkel en geworstel, ’n gespook en gespartel. Daar’s maar altyd die onsekerheid; werk dit of werk dit nie? Jy moet die fondament lê en dis blerrie harde werk. Die laaste kwart is dan ’n groot vreugde omdat jy begin besef die ding het darem potensiaal en van die dinge begin werk.”

Met Prooi het die bekroonde skrywer egter ’n onvoorsiene stok in die wiel gekry. “Ek hou nooit op met dink nie – van die oomblik dat ek die idee kry tot wanneer die boek in my hand is en ek niks meer aan sy saligheid kan doen nie.

“Dis hoekom die waterbeperkings my so sleg gevang het, want stort was my dinktyd; dan was ek afgesonder. Daar’s iets aan water wat oor jou spoel wat baie kreatief en stimulerend is.” Gelukkig was dit ’n goeie winter in die Wes-Kaap en kan Deon se lesers uitsien na ’n geil 2019. 

Vyf lesers kan elk ’n eksemplaar wen van Prooi (Human & Rousseau , R320). SMS jou antwoord, naam en adres voor 25 Oktober om 17:00 na 35407*. Vraag: Wat is die kolonel se van? * Elke SMS kos R1,50. Die borg is verantwoordelik vir die verskaffing van die boeke binne ’n redelike tyd.