DIE BOENDOESBAAIDING

Deur Rudi Venter (Human & Rousseau, R139*)

Iets baie geheimsinnigs het op 12 September 1993 by die Boendoesbaaiderby gebeur. Eddie is vasbeslote om agter die kap van die byl te kom – wanneer hy tyd het, want daar is die simpel Gatskoonmaak, sy broer se perd, wat hy moet versorg.

En daar is ook nog die inmengerige rooikop Maryna . . . Die feite wil-wil begin uitlek toe die alzheimerlyer oom Sakkie Calitz begin praat.

Kinders rondom 11 tot 13 sal dié avontuur geniet.

VANDAG WIL EK MY BLOU SKOENE DRA

Deur Koos Kombuis (Naledi, R175*)

Koos sê hy het dié bundel vir sy eie plesier geskryf: “Dit is my rypwordbundel. Twintig jaar het verbygegaan sedert my vorige digbundel.

Twintig jaar waarin ek drugs gelos, ’n gesin begin en nuwe skoene gekry het.”

Hy’s nou daar waar die Dordtse leerreëls “verdor” het, waar die “eie ek” se smart nie meer so voorop is nie; hy’s nou “die denkende ou koos”. Lekker, ou Koos!

DIE KOGGELAAR

Deur Pieter Fourie (Tafelberg, R180*)

Toe die bekroonde drama in 1987 die eerste keer opgevoer is, was dit met onder andere ’n jong Ian Roberts, Cedwyn Joel (later bekend in Generations) en Brümilda van Rensburg.

Dis die verhaal van Boet Cronjé se verset – teen God, die droogte, sy bruin voorman wat sy halfbroer is. Met die lees van die heruitgawe is dit duidelik die toneelstuk sal vandag nog trefkrag hê.

TOPVERKOPER KOM KUIER IN SUID-AFRIKA

THE BURNING CHAMBERS

Deur Kate Mosse (Mantle, R286*)

Daar in die begraafplaas het sy ’n rilling teen haar ruggraat voel afloop. Terwyl sy na die ou grafstene op die skilderagtige Bolandse dorp Franschhoek staan en kyk het, het die Britse skrywer Kate Mosse skielik geweet waaroor haar volgende reeks sou gaan.

Vyf jaar later is die skrywer van die gewilde Languedoc-trilogie terug in Suid-Afrika vir die bekendstelling van The Burning Chambers, die eerste boek in die epiese nuwe reeks wat lesers neem op ’n reis van Carcassonne en Toulouse in Frankryk na Franschhoek via Parys, Amsterdam en Londen.

Ons het per e-pos met haar gesels.

Wat was die inspirasie agter jou nuwe boek?

The Burning Chambers.

Al my fiksie word geïnspireer deur plek en landskap. Ek skryf oor my aangenome tuiste in Carcassonne in die suidweste van Frankryk. Toe ek die eerste keer in Suid-Afrika kom, het ek besef daar is sterk ooreenkomste tussen die twee: pragtige, ongerepte ruimtes, ’n bewustheid van die natuur en die mens wat in stryd is met mekaar, die eindelose blou hemel van die Kaap en die warm winde. En natuurlik die rye en rye wingerd.

Ek het my karakters begin verbeel wat op Franschhoek woon, wat hulle sou sê, hoe hul lewe sou lyk, hul liefdes en verraad. Toe ek die ongelooflike Hugenotemuseum op Franschhoek besoek en al daardie name sien van die mense wat in die 17de eeu uit Frankryk hierheen gevlug het, het ek die eerste glimmer van ’n storie gevoel.

Waar kry jy die stamina om sulke dik boeke te skryf?

Koffie! ’n Glas wyn om die einde van die werkdag af te sluit. Hoewel ek baie navorsing doen, is die skryfproses vir my, net soos vir my lesers, ’n ontdekkingsreis.

Kate Mosse. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoe lyk ’n tipiese dag wanneer jy aan die skryf is?

Ek begin so vieruur soggens om ’n paar uur in te kry voor die huishouding wakker word. Dis belangrik om ’n goeie stuk skeppende werk agter die blad te hê voor die dag se sake begin – stap met die hond, winkels toe, skottelgoedwasser uitpak . . .

’n Vraag wat niks met die prys van eiers te doen het nie: Verwar mense jou ooit met die Britse supermodel Kate Moss?

Wanneer hulle my naam hoor, ja; wanneer hulle my sien, ongelukkig nie!

– JANE VORSTER

Kate tree op 18, 19 en 20 Mei by die Franschhoek- Literêre Fees op. Navrae: flf.co.za. 

* Beskikbaar teen dié pryse by takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering.