Blydskap

DEUR JOHANNES DE VILLIERS (Human & Rousseau, R275)

Voor in Blydskap gebruik hy dié aanhaling: “Blydskap is eenvoudig, maar eenvoud is baie moeilik.”

So hoe moet ’n mens dan maak om blydskap te ervaar?

“Die afgelope 20 jaar is daar ’n wetenskap genaamd die positiewe sielkunde wat dit sy taak maak om die fenomeen van blydskap weten­skaplik te ondersoek. Hul vernaamste bevinding is: ’n Suksesvolle lewe gaan jou nie help om gelukkiger te wees nie. ’n Gelukkige lewe gaan jou help om meer suksesvol te wees.

“Blydskap beteken op die ou einde om tuis te wees in jou eie lewe, om nie iets anders te wil lewe as die lewe wat jy het nie. En daardie lewe gaan soms woede en vrees en haat insluit. Erken dit en luister na wat hulle vir jou wil sê. Maar dan, as jy klaar geluister het, hoef jy nie aan hulle vas te klou nie. Vra hulle om aan te beweeg.”

Johannes sê hulle het ook bevind gelukkige mense is produktiewer, funksioneer beter in verhoudings en is meer entrepreneuries.

“Jy kan dus nie wag dat blydskap na jou toe kom die dag as alles in jou lewe uitgewerk het nie. Dalk is jou lewe aaklig. Jy sit dalk in die tronk. Jy is dalk ’n boer wie se vee van die droogte vrek. Die coronavirus is dalk besig om jou onder­neming uit te wis.

“Dan het jy nou blydskap meer nodig as ooit tevore, want om in sak en as te sit gaan jou nie op jou voete help kom nie. En die blydskap gaan nie vanself gebeur nie. Jy moet dit nou, hier in jou holderstebolder lewe, gaan soek en dit nou al begin kweek.”

Deur Johannes de Villiers (Human & Rousseau, R275)
Deur Johannes de Villiers (Human & Rousseau, R275)

Hy sê in die boek gee hy tegnieke vir hoe jy jou gemoed kan regkry om blydskap te kweek, selfs nog voor jou lewe heeltemal prentjieperfek is.

“As jy groot boarmspiere wil hê, moet jy gewig­optel. As jy jou blydskapspiere wil ontwikkel, moet jy sekere tegnieke toepas.

“Jy moet leer om daagliks stil te word. Jy moet stelselmatig dankbaarheid inoefen. Jy moet leer om vir iets buite jouself om te gee. Jy moet eenvoudiger lewe sodat jy tyd en ruimte het om ­dinge te waardeer.”
Johannes verduidelik vir wie hy Blydskap geskryf het.

“Ek let deesdae op dat ons so vreeslik kwaad is. As jy op nuuswebtuistes kyk, is die gewildste stories die stories waaroor mense kwaad is. In die sosiale media is die plasings met die meeste kommentare die plekke waar mense saam kwaad is en skel.

“Ons het ’n samelewing begin raak vir wie kwaad wees en ongelukkig wees ’n soort ontspanning geword het. In Engels praat hulle van ‘recreational outrage’.

“Ek ken daai gevoel, want ek was ook al daar. Ek het in ’n stadium elke aand die nuus gekyk en daarna saam met Jacob Zuma in die bed geklim, lank daar gelê; in my gedagtes met hom gestoei. Ek kon ure lank tob oor al die goed waaroor ek kwaad of bekommerd is.

“Eindelik het ek begin besef dat ons ongelukkigheid inoefen. Elke keer wanneer ons nuus lees of Twitter kyk of in die verkeer op ander mense vloek, oefen ons dit in om ongelukkig te wees. En soos ons in oefengimnasiums leer, word ’n mens ál beter in die dinge wat jy inoefen.

“So kortom wou ek vir mense (insluitend myself) maniere kry hoe ons dit ook kan inoefen om gelukkig te wees.

“Wat is die dinge wat ons kan doen om blyd­skap in ons lewe te skep eerder as om daarop te wag? Wat sou gebeur as ons ewe veel tyd daaraan bestee om positiwiteit aan te leer as wat ons kla – waar sou dit ons uitbring?”

5 dinge wat Johannes die afgelope tyd verstom het


  1. Mense wat ek skaars ken wat tydens die coronakrisis uitgereik het om te hoor hoe hulle my onderneming kan bystaan.
  2. Rowwe taxibestuurders wat voorvegters van higiëne geword het en al hul reisigers verplig om hande te was.
  3. Die ganse wat elke oggend met sonsopkoms by die Kleinrivier langs my huis raas ongeag wat in die res van die wêreld aangaan.
  4. Die wonder van die tegnologiese era waarin ons lewe – hoe ek tydens selfisolasie met vriende oor Skype kan kuier en steeds ’n hond uit ’n bos gesels.
  5. Die gevoel van my hande wanneer ek hulle stadig en bewustelik was. Wanneer laas het ek moeite gedoen om die tekstuur van die vel oor my kneukels te voel, om tussen my vingers te skrop, om elkeen van die dosyne beentjies in my hande te verken . . . Wat vir ’n wonder is die menslike hand nie!



Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.