Klikbek
Sidney Gilroy. Foto: Steve D'Elboux
Sidney Gilroy. Foto: Steve D'Elboux

Deur Sidney Gilroy (Human & Rousseau, R219*)

Ontmoet speurder Sollie, die nuutste lid van die stewige groep saakoplossers in die Afrikaanse krimiwêreld. Hy is opgedroom deur Sidney Gilroy om die hoofkarakter te wees in Klikbek, sy debuut­roman. Maar hy is anders as die Bennie Griessels et al.

“Sollie was aanvanklik net ’n idee vir ’n speurder vir my roman. Eers veel later, soos met al my karakters, het hy uit die waas van my onderbewussyn gestap en so daadwerklik voor my gestaan dat ek nie gedurf het om verder aan hom te torring nie,” vertel ­Sidney.

“Ek dink wat Sollie Mthe­mbu anders maak, is sy mens­likheid en sy getrouheid aan die werklikheid. Hy is nie ’n held nie. Hy is maar ’n man in sy laat 30’s wat sy loopbaan op dreef probeer kry om ’n beter lewe vir hom en sy mense te skep.

“Hy het rekenings om te betaal, ’n moeilike vrou, vele onsekerhede en dinge uit sy verlede wat hom jaag. Hy is tegelyk doodnormaal en uit­sonderlik in hoe hy sy werk aanpak en hoe hy werklik in ’n veiliger samelewing glo. Selfs in die volgende boeke in die reeks bly hy steeds iemand wat maar net mens is; wat bomenslike dinge moet doen om die vloedgolf misdaad in ons land te probeer keer.”

Sidney skryf net deeltyds, want bedags werk hy in die telematiese inligtingstegnologiebedryf in Gauteng. Hy sê sy Ierse van kry hy van sy voorsate wat gedurende die groot Ierse hongersnood in 1847 hierheen gevlug en toe met Afrikaanse meisies kom trou het.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

In Klikbek word ’n ryk boer verdoof en ontvoer en dan gedwing om as ’n boemelaar ’n bestaan te maak. Is dit iets wat werklik gebeur?

“Gits, nee. Ek dink ek het ’n baie aktiewe verbeelding. Wat met Tillman Wagenaar gebeur het, is pure verbeelding, maar as ek so luister na lesers se reaksies of die mense wat sy nommer of ‘regte, egte’ Facebooknaam vra, wonder ek soms of hy nie dalk iewers rondloop of al in ­iemand anders se vel gelewe het nie.”

En sy gunstelingtoneel in Klikbek?

“Dis waar ’n huilende Sollie in die middel van die nag oor ’n krakerige tweerigtingradio langs ’n verlate snelweg met Seun kontak maak. Hy is op breekpunt, en die tikkie hoop wat hom laat voortgaan en sy eie verlede laat konfronteer, kom vanuit die mees onverwagte oord.”

Die slot is dubbelsinnig, en die leser kan hoop die antwoord kom in die opvolg, Middernag, wat in Augustus verskyn.

“Ek wou met Klikbek empatie by die leser ontlok vir al die karakters in die boek, selfs dié wat hulle aanvanklik dink oukei is, maar later met afgryse of walging van lees.

“Ek kan nie vir jou sê hoeveel mense my al by geleent­hede voorgekeer het om te probeer uitvis wat ná die laaste hoofstuk gebeur het nie of om my uit te trap omdat dit so en so geëindig het nie en heeltemal onaanvaarbaar is! Ek het die slot juis so geskryf dat die leser self moet besluit of elke karakter hul verdiende loon gekry het.

“Middernag is vol onheil wat ek dink vele lesers slapelose nagte gaan laat hê, en ’n paar van die karakters van Klikbek verskyn ook hier en daar.”

Maar Sidney wil geen aap verder uit die mou laat nie.

Geen engel nie
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur André Krüger (Penguin, R235*)

André Krüger beantwoord drie vrae oor Geen engel nie, wat die verhaal is van ’n seun se swaar grootword in Randfontein en Germiston – waar jou huis nie altyd jou hawe is nie. Daarna kom die verbetering­skool, die army, geldmaak met sigarette smokkel, en Sunnyside se onderwêreld.

Voor in die boek sê jy dis nie die waarheid nie, maar die waarheid is wel in die boek. En dan wys jy onder jou bedankings agterin middelvinger vir “al die twyfelaars, ondergrawers en lunsrieme in ’n skrywer se duister verlede”. Is hierdie paragrafie ook nie die waarheid nie?

Ja-nee. Die bedankings agterin is eintlik om my te amuseer. Skryf is ’n eensame aktiwiteit en elke afwysing van ’n manuskrip is pynlik. Dit help om soms vir almal tong uit te steek. Maar in elk geval, ons lewe mos nou in die postwaarheidwêreld, nie waar nie?

Die sigaretsmokkelary wat nou in die inperking aan die gang is, is seker kinder­speletjies vergeleke met wat in jou boek aangaan.

Lank voor ek die boek geskryf het, het ek die oud-BBC-verslaggewer Misha Glenny se boek McMafia gelees en toe besef hoe groot die smokkelhandel is. Volgens bronne word geskat 456 miljard sigarette word jaarliks onwettig verkoop.

Dit is ’n baie wins­gewende bedryf, en minder riskant omdat die strawwe nie vergelykbaar is met byvoorbeeld dwelmsmokkelary nie.

Wat my veral opgeval het, is hoe die oudgeheimedienstepersoneel van die destydse Oosbloklande op ’n georganiseerde wyse daarby betrokke geraak het. Dit is ’n bedryf, en die vraag ontstaan dan onwillekeurig hoe dit in die hoofstroomekonomie geïntegreer word. Die smokkelprofyt moet êrens uitkom.

Meer as een van jou karakters in die ongure wêreld wat jy skep, het ’n ding oor Afrikaans en wil hê veral die hoofkarakter moet dit ordentlik praat.

Ek is lief vir die taal, en hoe meer dit onder druk kom, hoe liewer is ek daarvoor. As skrywer is ’n mens ook besonder bedag op die verskil tussen hoe ons ’n taal skryf (formeel) en hoe ons dit praat (informeel).

Skrywers moet albei doen om ’n oortuigende verhaal te vertel. Dit is ook so dat mense beoordeel word na aanleiding van hoe hulle praat – dis hoe die hoofkarakter dit ook verstaan. Praat jou karakters egter te suiwer, verfomfaai jy die storie.

* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.