Blits – Perlemoendiewe

Deur Nadine en Adriaan Blom (Tafelberg, R129*)

Die spanningstorie van twee vriende wat langs die see in Melkbosstrand woon, is geskryf deur die sangeres Nadine Blom en haar seun, Adriaan, toe hy 14 was.

Nadine en Adriaan (15) Blom.

“Ek het aan die boek begin skryf terwyl ek besig was met my M.-graad in internasionale reg en my nuuskierigheid geprikkel is oor perlemoensmokkelary as vorm van georganiseerde misdaad,” vertel Nadine.

En hoe werk so ’n saamskrywery?

“My ma het Blits se geraamte geskryf en ek het die vleis bygesit,” verduidelik Adriaan. “Ons het geïmproviseer soos ons aangegaan het, en die storie het interessanter geword hoe verder ons geskryf het.”

En nee, hulle het nie te veel vasgesit nie, want hulle sien kans om dit weer te doen: Die opvolg verskyn vanjaar.

“Daar gaan ’n element van mensehandel in ons volgende Blits wees (na aanleiding van my navorsing). Ons wil ouers en kinders op dié manier graag waarsku,” sê Nadine.

Aksieheld Austin – Nag Van Grille

Deur Fanie Viljoen (Lapa, R94*)

Die middag voor Ewald se nuwe fliek uitgereik word, besoek hy en sy beste vriend, Cardo, eers madame Marconi se grilfliekmuseum. Skielik vlieg ’n deur oop.

“Voor hulle staan ’n ou vrou. Dit lyk of ’n kraai nesgemaak het in haar hare. Vir Ewald lyk en klink sy ook soos ’n kraai. Sy is so maer soos ’n kraai ook. Op en af bekyk sy vir Ewald en Cardo.”

Sy laat hulle in – en dinge begin sleg skeefloop. Aksieheld Austin – Operasie Sabotasie is die eerste boek in die reeks.

Maanlig-meermin

Deur Troula Goosen (Tafelberg, R119*)

“Amber is great. Nie almal is so gelukkig om so ’n bestie te hê nie. ’n Bestie wat al van graad R af by haar staan toe sy die enigste een is wat sonder ’n ma by die skool opgedaag het.

"Wat haar met tjok-tjip-koekies troos wanneer dinge verkeerd loop. Wat selfs nou haar vakansie opskop om na ’n simpel plaas toe te karring.”

Kate se ma het haar gelos toe sy nog ’n baba was, haar pa skryf liefdesverhale onder ’n vrouenaam en pas moes sy hoor haar oupa – van wie se bestaan sy nie eens geweet het nie – is dood.

Nou gaan die twee beste maats na Kate se pa se grootwordplek, die Karooplaas Kaimanskuil. Met die intrapslag ontmoet hulle ’n verrimpelde ou vrou, Ma-Jannetjie, wat hulle dadelik wil weg hê, en vir Sirene, ’n meisie met lang maanligblonde hare.

Dinge word regtig grillerig toe die drif afkom en hulle vasgekeer word in die ou volstruispaleis.

Reënboogrant-maats – Omnibus 1

Deur Maritha Snyman (Lapa, R180)

“Sunette lê in ’n klein bondeltjie op haar bed en huil. Miskien moet sy liewer dood wees. Alles is teen haar. Nou het Ma nog vir Shani vandag ’n bra ook gaan koop! Dit is éérs onregverdig. Sy is 10 maande ouer as Shani en sy is nog so plat soos ’n pannekoek.”

Die eerste boek in die Reënboogrant-reeks het in 1995 verskyn, en nou word drie van hierdie gewilde verhale vir die eerste keer in ’n omnibus uitgegee. In Skelmstreke en Kattekwaad, Alleen Tuis en Die Balletkonsert is die hoofkarakters Shani en Sunette, twee sussies wat in die laerskool is.

Daar is nog twee ander Brink-kinders ook. Dolf is die oudste en Marietjie die jongste: “Hy voel skaam dat hy in graad agt nog opgeskeep sit met ’n sussie wat in die kleuterskool is.”

Pa Herman is die een wat die vrede moet bewaar tussen sy vrou, Maryna, ’n draaiboekskrywer, en sy ma, die ouma van die huis wat dink haar skoondogter is ’n vrot ma. Sunette en Shani beleef die lekkerste avonture, soos ’n dief wat straatnommers steel en iemand wat vieslike naamlose briewe stuur.

Harry Griesel – Die Spookmeesters

Deur Sonja Kaiblinger (Human & Rousseau, R145*)

“Man, Otto, ek is dood van die honger,” sê die huisspook steunend toe Otto die yskas oopmaak. Omdat Bert in die yskas bly, kan ’n mens hom gewoonlik daar kry.

“Het jy miskien iets om te eet saamgebring? Kyk net hier.” Hy wys na die rakke en sug. “Dis net ’n lugleegte.”

Otto se vreemde huismaats is tannie Sharon en nog twee huisspoke, sir Tony en Molly, en Vincent, Otto se troeteldier. Nee, nie ’n lieftallige hondjie nie, maar ’n baie stout vlermuis wat kan praat.

Dan kry hulle ’n nuwe intrekker oorkant die straat, madame Olga, “die geselligste buurvrou wat jy jou ooit kan voorstel”, sê tannie Sharon. Maar o wee, kan ’n mens ’n fortuinverteller vertrou?

Sonja Kaiblinger is ’n Oostenryker en haar Scary Harry-reeks is reeds in 11 tale vertaal. Ook beskikbaar in Afrikaans: Harry Griesel – Operasie Spookredding en Harry Griesel – Die Spookplaag.

* BESKIKBAAR TEEN DIE PRYSE BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING.