Mieta het ’n groot vrou geword ná Gysie en Grietjie se geboorte. Dit was ’n gevaarlike geboorte gewees so met haar hoëbloed saam. Die dokter het haar ter wille van haarself toegemaak, maar sy was tevrede.

Sy het mos nou darem drietjies. Ná die swangerskap kon sy haar lyf nie weer gemaklik terugkry nie en haar voete, dié het so bly swel in die hitte.

Die nuwe tekkies wat Hennerik vir haar by PEP gekoop het, skaaf rou om haar voetnekke. Op sulke warm dae trek sy haar bloes uit en werk in haar bra en katoenromp, wat sy onder haar buusterek indruk.

Vandag knie sy hierdie deeg slapper. Dit vat nou weliswaar langer om jou hande skoongeknie te kry, maar dit rys soveel vinniger. Daar gaan ook nie vir ’n tweede ronde afgeknie word vanoggend nie.

Die deeg moet sommer dadelik panne toe. As hierdie brood nie vandag uitgekeer word nie, is daar skaarste in die huis. Kort voor lank tap die sweet haar af.

Druppeltjies kruip uit haar hare, loop teen haar nek af en tussen haar borste in waar haar romprek dit opvang. Ritmies knie sy, en die lendelam tafeltjie protesteer met elke vuisdruk.

Kort-kort vat sy die vadoek met haar deeghand om sweetdruppels van haar gesig af te vee voor hulle in die knieskottel drup. Toe haar hande eindelik skoongeknie is, vatklap sy die bol deeg heen en weer tussen haar hande en knyp dit in die helfte af.

Sit elkeen in ’n goed uitgesmeerde broodpan en smeer nog van die skaapvet bo-op vir daardie kraakkorsie. Die twee panne word nou met rus gelaat om te rys. Sy skep vir haar ’n beker koel windpompwater uit die erde-emmer wat Hennerik soggens vroeg gaan aftap, en begin die huis en stoep te vee.

Genadiglik slaap die tweetjies nog. Sy kry die plek aan kant, trek die kooigoed reg waar Hennerik en Milano saam voet-teen-kop op die stoep slaap, en gaan maak die hoenders oop. Riem kry die oorskietkos van gister.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Tussendeur word die buiteoond gestook met fynhoutjies. Die draadtafeltjie gaan haal sy onder die kareeboom en kom sit dit op die stoep vir die wasgoed.

Sy staan die ingeseepte doeke en uitvryf toe sy vir Gysie en Grietjie hoor. Die laaste tyd kom sy beswaarlik voor met doekewas en sy is dankbaar vir die tydjie wat hulle nog tevrede lê en brabbel.

Op agt maande is hulle moeilik. Die tandvleise jeuk en hulle kwyl oormatig, en met die gesweet saam broei ’n nat rooi ring in hulle nekkies wat sommer seer lyk.

Die nagte is besonder moeisaam in die warm huis, en van slaap is min te prate. Toe die son die eerste keer deurbreek, voel sy die dag gaan weer ’n groot oond stook. Die hittegolf van die laaste paar dae het die drievertrekhuisie ondraaglik gemaak.

Hennerik en Milano het die groot kooi op die stoep uitgedra om snags daar saam te lê. Hennerik het die kamer se houtdeur afgeskroef, vier koeldrankkratte vol klip gelaai en die deur stewig bo-op laat lê, en Milano se matras daarop uitgerol.

Dit is heeltemal voldoende vir Mieta se behoeftes, want lank lê gebeur nie sommer nie. As sy nie besig is om ’n vuil doek te ruil of die tweeling te voed nie, staan sy hulle met ’n stuk karton en koel waai.

Dié tye kyk sy by die venster uit oor die nagveld. Luister na dikkoppe en uile, jakkalse wat mekaar nader tjank, en kyk hoe die vlermuise soos swart skaduwees jag.

Soms fluisterdraf ’n wildsbokkie verby die huis. Net voor Hennerik vanoggend opgestaan het, het die tweetjies eers rustig geraak. Mieta het hulle kaal laat lê met die hoop dat die wind wat sy met die stuk karton maak, hulle sal afkoel en rustig kry.

Dan droog hulle nekkies ook sommer bietjie uit. Haar babagoed is amper uitgeput. Sinksalf, tandepoeier, Vaseline en KPP-poeiers vir koors is van die belangrikste.

Sy is dankbaar vir Geelsuiker wat aangebied het om vandag weer voorraad uit die dorp te bring. Die tweeling raak klaerig net toe sy die laaste doeke wil uitdraai. Haar melk skiet in en haar borste begin lek.

Vol gesels tel sy hulle uit die kot en gaan sit op die bed met haar rug teen die muur. Elkeen kry ’n bors beet en suig die swaarte uit haar uit. Dis ’n salige sit.

Nadat hulle gedrink het, ruil sy hul doeke en gee vir elkeen ’n riempie gedroogde vleis om aan te kou vir die tande wat so jeuk. Tevrede sit sy hulle terug in die kot en gaan draai die laaste doeke uit.

Seweuur sit Gysie en Grietjie in die koelte van die rooikaree op ’n kombers. Neffens hulle skud Mieta water uit die doeke en hang dit oor die werfdraad uit.

Die tweetjies is deesdae bedrywig met ’n soort van sitkruip en sy moet gereeld kyk of hulle nog onder die skadu is. Vanoggend sal die wasgoed droog wees en die bakbrood uitgekeer staan voor die ergste son uit is.

Sy wil klaarmaak sodat sy in die koelte kan kom sit om Hennerik se geskifte hempskraag om te swaai. Kort-kort gaan voel sy die buiteoond se hitte en toe dit reg is, stoot sy die twee panne met uitgerysde brooddeeg in.

Pak dan die deurtjie dig toe met bietjie klei. Riem smeek steeds vir loskom. Hy tjank fynweg en swaai onderdanig sy stert; kyk hoopvol in haar oë vir verlossing.

Die perde is seker al te ver vir inhaal, meen sy, en maak hom los. Hy lig sy been en skop stof met sy agterbene uit voor hy ’n wye draai skaapkraal toe hardloop.

Mieta gee haar roosmarynplantjie wat sy in ’n verfdrom op die stoep troetel, water. Stroop haar hand deur die takkiesblare asof sy oor ’n kat se stert vryf en ruik die lieflike geur wat in haar hande lê.

Die brood sal nou ’n uur lank bak. Sy loer terug na waar die tweetjies sit en sien hulle het wragtie weer van die kombers af gewoel. Sit nou in die stof agter die karee, maar darem nog in die koelte.

Sy besluit om haar stoel en naaldewerk te gaan haal. Sy is net in die huis toe sy hulle verskriklike geskree hoor.

Teen die tyd dat Hennerik en Milano by die verste kamp is, het die dag al ver gevorder. Daar waar die perde trap, flikker honderde wit vlinders in die vroegoggendson tussen die bossieveld.

Drie waterpunte moet nog nagegaan word en die son steek al venynig in Milano se nek en op sy kaal bene. Hennerik skat hulle is al so drie ure in die saal toe hulle Grootboom se kamp se water nagaan.

“Kom ons laat die perde so bietjie rus en water drink,” sê hy en klim af. Hy laat Robyn self na die waterkrip stap en gaan sit onder die kameeldoringboom op ’n klip, haal ’n geskeurde koerantpapiertjie uit en krap met duim en voorvinger bietjie twak uit sy hempsak.

Tydsaam rol hy sy rookdingetjie. Hy reken as dit nou tienuur is en hy Milano die laaste drie kampe laat omry, kan hy kortpad vat en dalk voor twaalf by die huis wees.

“Boesman, ry jy nou self die laaste drie kampe na. Dit sal sommer gou gaan. Ek wil huis kry.”

Toe Hennerik klaar gerook het, toets hy gou die bolkraan by die krip en stap om sy perd te kry.

“Sorg dat jy nie te lank draai nie, en kyk mooi vir jakkalsdeurkruipplek wanneer jy langs Spookwerwe se lyndraad ry. Daar roep nou elke aand een van daar af.” Hy beduie na die lyndraad. “So ’n soogwyfie vreet koorsagtig. Hulle sal ons troppie sommer nou dun vang,” sê hy in die wegstap.

Milano sit nog ’n rukkie gehurk en mierleeutjies vang. Toe hy opstaan, kry hy gedagte om net gou te gaan kyk daar waar die dikkop ’n entjie weg onder die witgatboom broei. Daar was laas twee eiertjies in die nes.

Dalk het hulle al uitgebroei. Dit vat ’n vernuftige oog om grondvoëlkleintjies raak te sien, hoor hy oom Geelsuiker se stem in sy kop. Maar oom Geelsuiker het hom mooi geleer hoe om te maak en waarna om te kyk.

Dikkoppe loop nie rond in die dag nie. Lê stil soos ’n klip. Die eiertjies het wraggies uitgebroei. Die voël staan skielik op en staan wyevlerk vir hom en bang maak. Milano weet die kuikentjies sal naby wees.

Eers vat hy Agaat, wat agter hom aangestap het, en maak hom aan die naaste lyndraad vas. Netnou trap hy op die kleintjies. Toe Milano weer nader kom, probeer die dikkop mank speel om hom weg te lok, maar Milano ken sy trieks.

Hy kry die twee donskuikentjies wat tussen kalkklippers en gras wegkruip.

Piepklein, en lyk nes die klipperige grond. As oom Geelsuiker weer by ons vuurtjie kom sit, sal ek hom dít kan vertel, dink hy baie in sy skik.

Toe hy weer in die saal sit, steekbrand die son op sy vel. Hy sien sy skaduwee wil kom skuiling soek onder Agaat en hy weet hy het te veel tyd verspeel.

Hy druk die perd in die lieste en ry fluks die laaste waters na voor hy kortpad terug huis toe vat. OP DIE hoogtetjie sien Hennerik die wit doeke op die draad hang.

Dis nie heeltemal Mieta se gewoonte om teen dié tyd nog wasgoed op die drade te hê nie. Hy druk Robyn nog so ’n bietjie in die lies. Sy het seker haar hande vol met die tweetjies.

Hulle sny tande en dis dié dat sy nie kan voor kom met die doeke nie. Geelsuiker is darem vandag in dorp toe en hy bring die nodige babagoed. Dit gaan maar moeilik deesdae om dorp toe te gaan met die tweetjies saam.

Die tagtig kilometer is net te ver om met hulle te ry. Gelukkig is Mieta ’n raakvatvrou en maak maand deur haar lysie. Juis voor die Groot Dae is hy en Milano saam met Geelsuiker in dorp toe.

So het hulle van Mieta se lysie af gekoop dat hulle niks kortgekom het nie. Tot glads malvapoeding op Kersdag gehad. Op die werf gekom, sien Hennerik die stoel lê omgetiep, die naaldwerkkissie se binnegoed gestrooi op die grond. Sy oë soek na Mieta.

Sy’s seker besig om hulle slaap te maak. Wil nie hard roep nie. Hy tel die stoel weer regop. Toe hy die naaldwerkgoed begin terugsit, sê iemand sy naam. Hy draai om. Mieta staan in die deur.

“Hennerik, o Here, Hennerik. Dis te swaar vir my.” Sy sak met haar swaar lyf teen die kosyn af. Hennerik skrik. Hy drafstap nader. “Wat is dit, Mieta?”

“Dis te swaar. Dis te swaar,” is al wat sy aanhou sê. Hy probeer haar ken met sy hande lig, in haar oë kyk, maar sy draai haar kop weg. “In die kamer, Hennerik, gaan kyk in die kamer,” fluister sy.

In die kamer kry hy hulle op die kooi, toegedraai in kombersies. Soos twee papies. Tot oor hulle gesigte toe styf toegedraai. “Here, Mieta, hulle sal mos versmoor!”

Hy woel dringend die een kombersie los, toe Mieta in die deur praat. “Moet hulle nie oopmaak nie, Hennerik. Seblief nie.”

Het Mieta dan nou haar verstand verloor! bokspring sy gedagtes. Maar Mieta kom druk haar hand op syne. “Dit sal nie meer help nie, Hennerik.” Verslae besef hy wat sy sê. Hulle kyk vir mekaar. “Liewe Here, Mieta.”

Hy tel hulle op. Hulle voel reeds vreemd so stokstyf toegedraai. Met een op elke arm stap hy uit die kamer. Mieta volg hom sleepvoet tot op die stoep waar hy vra: “Mieta? Wat het hier gebeur?”

Sy sak weer af met haar rug teen die muur. “Ek is jammer, Hennerik, so jammer. Maar hoe moes ek weet? Here, hoe moes ek weet van daardie satanskind? Het net gou die naaldewerk gaan haal . . .”

Sy fluister byna onhoorbaar: “Moet hulle net nie oopmaak nie, moenie hulle gesigte oopdraai nie, Hennerik. Dit het so geswel. Ek is so jammer, ek is so jammer.”

Stadig begin sy die oggend se gebeure vir hom uitsukkel. “Ek moes vir Riem vroeër losgemaak het.” Hennerik sien haar oë kyk vir hom, maar sy sien nie.

Verwese staan hy, onseker wat om te doen. Hy begin hulle sus. Loop weer die huis in, kom weer uit en loop in die blakende son in met sy kinders, die kombersies verblindend wit ná die donker huis.

Skaapkraal toe, windpomp toe, weer kraal toe, Riem al agter hom aan. Hy wil huil, maar die dik kom nie los uit sy keel nie.

  • Uitgegee deur Human & Rousseau. Prys: R310.