Wild Karoo

Deur Mitch Reardon (Struik Nature, R208*)

Die ondertitel beloof “A journey through history, change and revival in an ancient land”. Dis ’n net wat wyd gegooi is; dus weet ’n mens nie dadelik wat om te verwag nie. Begin jy lees, sien jy dis in ’n neutedop die skrywer Mitch Reardon se reis van sowat 4 000 km deur die Karoo.

Wild Karoo
Wild Karoo

Die voormalige wildbewaarder wat nou ’n fotograaf en skrywer is, fokus hier onder meer op natuurbewaring in dié streek, groot- en kleinwild, voëls, reptiele en ongewerweldes, die flora, landskap en geologie, en planne om ou migrasieroetes weer oop te maak om die mens se uitwerking op die omgewing te begin omkeer.

So begin Mitch: “In die lente van 2015 het ek begin met my reis van sowat 4 000 km deur die Karoo, Suid-Afrika se vreemd pragtige, hoogliggende sentrale plato. Terwyl ek diep deur die Karoo gereis het, het ek elke oggend wakker geword vol verwagting dat ek iets nuuts sou ontdek. Ek is amper nooit teleurgestel nie.”

Mitch Reardon, die skrywer van Wild Karoo. Foto: V
Mitch Reardon, die skrywer van Wild Karoo. Foto: Verskaf/Mitch Reardon

Hy skryf goed en sy reisjoernaal lees soos ’n storieboek. So vertel hy van die nag toe hy saam met Ben en Johnny Boy September, ’n pa en sy seun van Marrick Safari buite Kimberley, rondgery het. Dié twee hoogs ervare wildopspoorders spesialiseer in donkerte en oë wat skyn.

’n Goeie teken van ’n interessante nag wat voorlê, is toe hulle die Smithse rooiklipkonyn aan hom uitwys – die eerste keer dat hy hom sien. Hy is nie skaars in die Noord-Kaap nie, maar dié skaam nagdiertjie word selde gesien.

Mitch sonder die bronsvlerkdrawwertjie uit van die voëls wat hy tydens die uitstappie gesien het, want dis ’n nagspesie waarvan nie veel bekend is nie. Dan was daar die kans om te kyk hoe ’n rooijakkals in sy spore vries en net sy oë beweeg terwyl ’n springhaas niksvermoedend aangestap kom.

Volstruise op die duine langs die Atlantiese Oseaa
Volstruise op die duine langs die Atlantiese Oseaan. Foto: Mitch Reardon
Bonteboklammers by hul ma’s. Foto: Mitch Reardon
Bonteboklammers by hul ma’s. Foto: Mitch Reardon

Hy slaan op net die regte tyd toe; ’n blitssnelle jaagtog volg tot die jakkals die haas plattrek dat die stof so staan.

Die hoogtepunt kom toe hulle ’n “black-footed cat” sien. Sy Afrikaanse naam is miershooptier (omdat hy dikwels in leë termiethope woon), maar hy is in die werklikheid ’n volbloedkat – weliswaar ’n kleintjie wat op sy swaarste net sowat 2,5 kg weeg.

Dis ’n skugter, kwaai diertjie. Die een wat Mitch gesien het, het juis net een oog, want die ander een het hy in ’n bakleiery verloor. Wild Karoo is storie op storie met volop wetenskap en wetenswaardighede – ’n 10-uit-10-leeservaring.

TWEE HERUITGAWES

Scorpions of Southern Africa

Deur Jonathan Leeming (Struik Nature, R195*)

Twaalf bykomende spesies, nuwe foto’s en verspreidingskaarte is in die 2019-uitgawe. (Die eerste uit- gawe was in 2003.)

Scorpions of Southern Africa
Scorpions of Southern Africa

Jonathan Leeming is ’n skrywer en kenner van onder meer spinnekopbyte, skerpioengif en slangteengiwwe. Hier is vyf interessante feite wat hy noem:

  • Die deursneeskerpioen is tussen 92% en 97% van die tyd onaktief. Sommige spesies kan daarom meer as ’n jaar lank sonder kos klaarkom.
  • Hulle kan uiterste temperature oorleef, van onder vriespunt tot hoër as 50 °C.
  • Naas bye en slange maak skerpioene (van alle nieparasitiese diere) die meeste mense dood. In Mexiko sterf jaarliks sowat 1 696 mense weens ’n skerpioensteek (en sowat 5 000 wêreldwyd).
  • Alle skerpioene in Suider-Afrika het oë, anders as dié wat in Mexiko en Australië in grotte woon en geen oë het nie.
  • Skerpioene gloei helder, of fluoresseer, onder ultravioletlig.

Lees dié fassinerende boek om uit te vind hoekom.

Field Guide To Fynbos

Deur John Manning (Struik Nature, R309*)

Hier is meer as 1 000 spesies van die Kaapse Floristiese Streek, een van die wêreld se rykste florastreke. John Manning, ’n internasionaal gerespekteerde botanis, fokus in die bygewerkte weergawe weer op die algemeenste fynbos.

Field Guide To Fynbos
Field Guide To Fynbos

Hier is vyf interessante feite wat hy noem:

  • Die streek strek van die plato bo Vanrhynsdorp tot die stad Port Elizabeth.
  • Twee derdes van die 9 000 spesies wat hier aangetref word, kom nêrens anders op aarde voor nie.
  • Benewens die gebruiklike voëls en insekte word 35 soorte proteas deur knaagdiere bevrug. Dié proteas skei energieryke nektar in gisgeurige blomkoppe naby die grond af waar hulle binne bereik van die Namakwalandse klipmuise en streepmuise is.
  • Daar is so ’n groot diversiteit dat nuwe fynbosspesies jaarliks ontdek word.
  • Die meeste algemene fynbosname is Hollands of Afrikaans en vertel hul eie storie, byvoorbeeld rooikanol, baardmannetjie, kraalkriekdoring, bastergeelhongerblom, bontrokkie, bukshardeblaar en vleiknoppiesbos.

    Beskikbaar teen dié pryse by Takealot.com.

    Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.