Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Deur Charl-Pierre Naudé (Tafelberg, R279*)

Dit begin alles eendag lank gelede in die vroeë 1970’s toe oom Kossie, die koster van ’n dorpie op die Lyksovlakte, op twee jong mense afkom wat voor in die kerk styf teen mekaar sit.

Die moeilikheid was velerlei: Dit was nagdonker (dus nie gewone kerktoegaantyd nie), dit het gelyk asof ’n droomagtige lig uit die twee lywe straal (wat nie met kerklike dinge besig was nie) en dit was die dorp se onwaarskynlikste paar (die stomme Dirkie en die pragtige Anna).

Ons vra die skrywer Charl-Pierre Naudé om ’n paar dinge uit te pluis oor sy roman waar mense “gelyktydig in meer as een bestaan leef”.

Waarom het jy as gepubliseerde digter ’n M in skryfwerk gaan doen?

“Die M was nie integraal aan my boek se totstandkoming nie. Die spesialisaandag wat ’n manuskrip in so ’n kursus kry, het wel gehelp om strukturele probleme uit te stryk met ’n manuskrip wat ’n waagstuk sou wees vir die meeste debuutromansiers.

Van meer belang is dat so ’n graadkursus veral help om van die skrywer ’n beter leser van sy eie werk (en van ander s’n) te maak – dis ’n proses wat nooit afgehandel is nie, selfs nie vir die mees ervare skrywers nie.”

Waarom ’n lang roman ná soveel gedigte?

“Ek dink nie die verskil is oor lank of kort nie. Romans en gedigte werk albei met ‘digtheid’ – dit wil sê met die kompakste manier om iets betekenisvols te wys of te sê – en elke boek of gedig moet sy eie vorm van digtheid vasstel, wat van elke ander boek, gedig of toneelstuk s’n sal verskil.

“Daar moenie te veel van ’n ophef gemaak word oor die ‘verskille’ tussen die genres nie. Tog kan ek uit ervaring sê die soort hartstog wat ’n roman wil skryf, is heeltemal anders as die soort wat ’n gedig wil skryf. Dit sal implikasies hê vir hoe die skryfproduk gaan lyk.

“Dis ’n verskil wat in sy wese misterieus is, so ek gaan nie eens probeer verduidelik nie.”

Waar kom jy aan hierdie storie waar karakters uitpeul soos uit ’n Pandorakis?

“Ek wou nog altyd ’n storie skryf wat wys hoe gedagtewêrelde en ‘werklike’ wêrelde ewe ‘werklik’ is. Miskien om die teleurstellings te besweer van dít wat nie gebeur het soos “dit moes” nie? Miskien om te vra maar “wat is werklik” dan?

Ons weet die tasbare wêreld bestaan uit molekules wat meer ’niks’ as ‘iets’ is. En ons weet gedagtewêrelde is meer ‘iets’ as ’niks’.

“Is die twee werklikhede dus werklik so ver uitmekaar? My karakters voel vir my ‘rêrig’, asof hulle regtig bestaan, iewers in die geskapenheid van die uitspansels.”

Voor in die boek staan die kopiereg behoort aan jou. Mag ’n mens dit as ’n sleutel tot die verstaan van die roman beskou?

“Ek meen so. Volgens die boek is die storie deur ene Hermanus Verdomp geskryf en dis tegnies moontlik dat hy maar net die kopiereg aan my oorgedra het. So beweer die voorwoord van die roman.

“Maar dis ewe moontlik dat ek die hele storie sowel as Verdomp versin het. Die leser moet maar besluit. Die feit is, al het ek die storie opgemaak, beteken dit nie hierdie karakters bestaan nie.”

Hoeveel karakters is in hierdie woelig bevolkte storie van jou en hoe het jy met almal kopgehou? Het jy ’n soort kaartstelsel of iets gehad?

“Ek het nog nooit die karakters getel nie. Nee, ek het nie ’n telkaart vir enigiets gehou nie. Ek het wel velle notas gemaak. Hierdie velle bestaan nog, en die notas is in verskillende kleure daarop aangebring: rooi vir onwaarskynlik, blou vir moontlik en groen vir die beste opsie

Die ‘kleure’ het van tyd tot tyd omgeruil soos die storie sy pad gevind het. Ek treur nou nog oor karakters wat uitgeval het. Ek hoop maar iemand anders skryf hulle.”

Wie is jou gunsteling onder die klomp?

“Ek dink steeds Anna is my gunsteling, veral die Anna met wie die boek eindig. Veral omdat dit sy is aan wie die minste bladsye gewy word omdat sy te laat deur Verdomp ontdek word. Dit terwyl sy volgens die boek die ‘werklike’ Anna is! Maria lê my ook na aan die hart.” 

Ontmoet van die karakters wat (dalk) meer as een maal gelewe het

Dirkie wat ’n half-dommeling geword het die dag van die “insident” tussen sy pa, Boer Verwey, en sy beste vriend, Altus Bodenstein.

Altus was lief vir Beethoven, het te lang arms “soos lammervangervlerke” gehad en vanweë sy buitengewone goeie gehoor vir die Buro van Staatsveiligheid gewerk.

Anna, ’n mooi, volronde meisiekind met ’n blonde “storting” van hare. “Sy had beslis iets van ’n vol druiwemandjie wat wag om getiep te word, iets uit Kanaän.”

Maria, ’n beeldskone 12-jarige beesoppassertjie wat ná sy eendag in die veld wegraak, skielik die koningin se Engels begin praat. Vader Appel neem haar onder sy vlerk by die Rooms-Katolieke sendingskool op Pella.

Anna, wat in ’n reisende boekbiblioteek werk, wat nooit ’n biblioteek was nie, maar ’n reisende genotbus. Maria, ’n vrou met ’n groot omgee vir die samelewing en wat in die buiteland opgelei is deur Die Organisasie.

Dirk is Maria se geliefde en haar kameraad in Die Organisasie. Hulle gaan tuis in die Hideout Motel wat skielik op ’n dag op ’n stuk braakgrond in die Noord-Kaap verskyn. En drie weke later weer verdwyn.

Charl-Pierre se digbundels

1995: Die Nomadiese Oomblik (bekroon met die Ingrid Jonker-prys)

2005: In die Geheim van die Dag (M-Net- en Protea-prys)

2007: Against the Light

2008: Sien Jy die Hemelliggame

2014: Al die Lieflike Dade (SA Letterkunde-prys vir Afrikaanse poësie)

  • Beskikbaar teen dié prys by Takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.