Tweespoor

Deur Helena Gunter (Protea, R189*)

Die Stellenbosse skrywer Helena Gunter. Foto: Douwleen Bredenhann
Protea, R189*


Fransina wonder of sy haar geskiedenis kwyt is.

“Haar goeie ou dae wat nie vir almal goed was nie en daarom net boos, boos, boos was?”

Sy noem die probleme waarmee mense in die demokratiese Suid-Afrika sit op die naam.

Dit sou Tweespoor ’n ongemaklike leeservaring kon maak vir mense wat voortbeur en dinge eerder verswyg. Wanneer dit wel gesê word, kom dit meestal uit regse kringe. Ons het ’n paar vrae aan Helena Gunter gestel oor haar jongste boek wat onlangs verskyn het.

Is jy bang Tweespoor word “verkeerd” gelees?

Elke leser, links of regs, bring sy bagasie na ’n teks. Die regse sou kon sê dat die boek opsetlik polities korrek is, met die wit Afrikaanse Fransina spot, haar die skuld gee en uitlewer; die linkse kan sê dat ek, ’n eens bevoordeelde wit mens, die swygreël oortree en swart Suid-Afrikaners vasskryf as misdadigers.

’n Mens kan net hoop dat ’n meer genuanseerde problematiek vir die leser uit die bladsye opstaan.

Ek is ewe allergies vir ’n polities korrekte pakt van linkses wat die huidige klimaat van misdadigheid ontken as wat ek is vir regses wat die bestaan en gevolglike psigiese skade van kolonialisme en apartheid afmaak.

(Die vermoorde student en die skrywer) Hannah Cornelius en Winnie Rust praat net so hard met my as armoede en misdaad op die Kaapse Vlakte.

Verduidelik die struktuur van die boek: Die eerste deel met sy, durf ’n mens sê, nostalgiese onthou van kinderdae op ’n plaas, en dan die Angelus Novus Africanus.

Dis ’n opsetlike verdeling. In die een spoor vra die vier lewensveranderende belewenisse van ’n jong meisie, Tilla, die vraag of die wit Afrikaanse kind met dié soort lewenservaring werklik bevoordeel is deur die plaasmilieu.

Is sy weerbaar? In die ander spoor probeer ’n volwasse Fransina, ’n “engel van die geskiedenis” – ’n eend van Tilla se dam – haar weg vind in ’n stormagtige, eietydse Suid-Afrika.

Dibi Breytenbach sê van haar jongste roman, Dowe Gode, dit is (onder meer) haar “protesliteratuur” omdat die media nie KwaZulu-Natal se stories vertel nie. Is Tweespoor jou protes?

Beslis.

Teen histrioniese, pryssingende positiewes met ’n selfingenome bewusteloosheid oor wat dit beteken om tussen haaie te swem, teen neo-kreepie kraulies, teen die ontkenning van ’n verband tussen gister se verontmensliking en vandag se misdaad, teen jeugbeheptheid, teen geestelike vervlakking en die norme van ’n verbruikerskultuur . . .

Dis ook waarom Angelus Novus Africanus in die betogende New Journalism-vorm gegiet is.

Vertel hoe Fransina Raka as “metafoor van geldjagse kapitaliste” kan inspan vir haar klas.

Sy sou aan haar leerders verduidelik dat geldbesit in die kapitalistiese bestel aangeteken word as prestasie. Dan sou sy aan die hand van Raka verduidelik hoe gevaarlik so ’n ruimte kan wees as iemand wat “enkeld dier” is, iemand met “drifte wat geen naam of doel meer ken” nie, sy verskyning maak.

Selfs nie sy beste vriende, om van sy vroulike aanhangsels en ander weerloses in sy pad nie te praat nie, sal op “die fyn net”, “die vaste ewewig en maat”, die “skoonheid en hoogheid” van lojaliteit, empatie of eerlikheid kan staatmaak nie.

Gelukkig is daar meer kapitaliste wat Koki’s is, of hoe?

Hardebaard

Die Lucky Strike

Deur Steve Hofmeyr (Zebra Press, R165*)

Zebra Press, R165*

Min mense kan Steve Hofmeyr die grafiese beskrywing van grutonele nadoen.

Hy oortref homself dié slag: Sy terugkerende karakter, die Sluiper, raak diep in die Kongo van maj. Jonathan Matabo ontslae deur hom in ’n tenk vol van sy manskappe se riool te laat versmoor. Wat die Sluiper so aantreklik maak – en nie mooi nie, want die man is nou gehawend gebrand ná sy vorige avonture – is sy vermoë om die dood te flous.

Hy het meer oorlewingstruuks in sy koker as James Bond, maar hy sit selfs vir James ore aan, want waar laasgenoemde op Q se slim tegnofoefies kan staatmaak, oorleef die Sluiper deur sy flinke en slinkse brein.

In Die Lucky Strike is hy moeg vir sy lewe as huurmoordenaar en gereed om in vrede te lewe. Maar daar is steeds sy bose neef, maj. Darius Keiser, en Tes, sy geliefde eks.

En dan kom ’n blinde vrou oor sy pad: “Ek het vir die eerste keer in twee jaar weer soos ’n mens gevoel: ’n biologie in ekstase. ’n Man. Ek was soveel minder as die fyn geprogrammeerde moordenaar wat ek gedink het ek was.”

Wat het geword van Dinsdag?

Deur Tinus Horn (Human & Rousseau, R235*)

Human & Rousseau, R235*

“Netjies verpakte stories staan my nie aan nie, want ek glo hulle nie. Ek glo in morsige stories sonder enige betekenis, want hulle strook met my ervaring van die lewe.”

So, leser, wees gewaarsku, want dit is dan ook hoe Tinus Horn sy hoofkarakter, Joe, se storie vertel. Nie al die kolletjies is netjies verbind nie, en as jy teleurgesteld is oor iemand of iets wat uit die storie verdwyn, sal jy jou eie inkleurwerk moet doen.

Die verhaal speel af in ’n wêreld van kuns en namaaksels van kuns, en Joe is een van die sterre op die internasionale verhoog waar Ou Meesters, waarvan die verf skaars droog is, in respektabele katalogusse opgeneem word.

Daar is ook ’n Nina wat berou bring en ’n Elrike wat maklik een van die sluuste vroue in die Afrikaanse letterkunde is. 

  • Teen dié pryse beskikbaar by Takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.