Piet van As

Piet van As. Foto: Verskaf

“Ek het kleintyd met stories grootgeword en met pa se stompiepotlood op al wat papier is, begin teken. Tot in ma se resepteboeke en agter op die kerkalmanak; later in my skoolboeke en selfs op eksamenvraestelle.

“Vir my eerste skeepvaart het ek ’n sketsboek, notaboek en ordentlike tekenpenne gekoop, want ’n ding wat foto’s kon neem, het ek nie gehad nie. (Piet was lank op see as vlootman, ingenieur en skipper.)"

“Op see en van ver plekke moes ek briewe en poskaarte vir ma stuur, en natuurlik elkeen met ’n prentjie van hoe so ’n plek lyk, al was ek soms voor so ’n skrywe weer by die huis."

Sketse van pikkewyne, walvisse en albatrosse op die skip se spyskaarte...wat ná maaltye in mense se sakke verdwyn het.

“Stories, veral oor snaakse gebeure, het vanself gekom en moes ek eenvoudig met iemand deel. Met familie en vriende en sommer later dié se vriende ook.”

’n Bek vol Strandveld – onthouverhale uit die Suidpuntstreek

Deur Piet van As (Strandveld Boeke, R250 plus aflewering. Bestel by vanasmarie@gmail.com.)

Foto: Verskaf

“Die bloed in sy are is sout seewater, vleibos en alikreukel,” skryf die joernalis Amanda Botha oor Piet van As.

Vra jy vir Piet waar is die Strandveld dan, skryf hy ’n versie: Staan jy op die Soetanys / en die dag is mooi en skoon / sien jy die hele Strandveld / waar al die Strandveldmense woon.

Oor dié wêreld skryf hy stories wat ’n mens laat verlang, selfs al het jy geen geskiedenis met die stuk aarde in die omgewing van Elim, Bredasdorp en Napier nie.

Hy is ’n meesterverteller, soos Dalene Matthee in 1988 al skryf: “As jy wel op ’n dag besluit om die Strandveld se dinge neer te skryf, het ek kwaai kompetisie.”

Sy “laatnag-in-die-kooi-stories” is kosbaar, want in ons tegnotyd is daar nie meer baie wat só kan vertel van die dinge wat verby is nie.

Isa Konrad

Isa Konrad. Foto: Verskaf

“Ek het in 2004 ’n kreatiewe skryfkursus gedoen deur die London School of Journalism toe my seun, ’n laatlammetjie, omtrent twee jaar oud was. Ons het uit Europa Suid-Afrika toe geïmmigreer agter my man se werk aan (Isa is ’n Namibiër); ek het nie werk gehad nie en was verveeld. Ek het daardie tyd baie fiksie gelees en wou eintlik net uitvind hoe stories geskryf kom. So vier maande nadat ek met die kursus begin het, was daar ’n oomblik wat ek met ’n skryfoefening besig was en besef het dis iets wat ek kan doen. Ek het die manuskrip wat ek vir die kursus voltooi het, vertaal en vir Lapa gestuur. Die Langste Nag, my eerste roman, is in 2006 gepubliseer.”

Doodsake op Karibib

Deur Isa Konrad (Lapa, R149*)

Foto: Verskaf

“Sy kom ondertoe. Behalwe die denim het sy net ’n wit onderhempie aan.

Terwyl Con woorde soek om vir haar te verduidelik wat hy in haar sitkamer maak, gly een van die simpel bandjies af.

Hy kan nie anders as om te kyk nie. Sy haak dit met haar duim terug. Hy wil haar net bed toe sleep. Die drang skok deur hom.’’

Con Dorfling is in beheer van die polisiekantoor op Karibib, en op hierdie klein Namibiese dorpie lyk dit of die duiwel los rondloop en lyke in tuine opgegrawe kan word.

Alet Gouws, die lieflike vrou uit die Kaap met die gewelddadige amper-eksman, roer sy hart – maar dinge is baie moeiliker as wat dit lyk. Al wat maklik is, is die vonk tussen hulle.

AJ Pearce

AJ Pearce. Foto: Verskaf

AJ Pearce bewys dit is nooit te laat om te begin skryf nie.

Sy ry nou op 53 die golf van sukses van haar debuutroman. Sy was jare lank in die bemarkingsbedryf voor sy in 2005 net vir pret ingeskryf het vir ’n deeltydse skryfkursus.

Sy het dit so geniet dat sy nog kursusse voltooi het tot sy genoeg selfvertroue gehad het om ’n hele roman aan te pak.

Dear Mrs Bird 

Deur AJ Pearce (Picador, R239*)

Foto: Verskaf

Londen, 1940: ’n 22-jarige sekretaresse, Emmeline Lake, wil ’n oorlogskorrespondent word en doen aansoek vir ’n koerantpos.

Maar op haar eerste dag kom sy agter haar werk is om briewe in te tik wat gestuur is na die koerant se raadgeetannie, Mrs Bird.

Die formidabele Mrs Henrietta Bird weier om briewe te beantwoord wat met enige “onplesierighede” te make het.

Emmy besluit dus om dié briewe skelm namens haar onsimpatieke baas te beantwoord. Maar kort voor lank begin die verdriet haar onderkry en natuurlik gaan haar skelmstreek gevolge hê.

– Natatalie Cavernelis 

  • Teen dié pryse beskikbaar by Takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.