Dors

Deur Marinda van Zyl (Tafelberg, R229*)

Marinda van Zyl. Foto: Koos White

“Van bo af kan hulle die wasige blou Magaliesberg in die noorde sien. Weswaarts sny die spruit deur soetdoringveld wat goudgeel in die blom is tot by die lushof van opstalle waar vier plase se hoeke grens.”

Marinda van Zyl teken die wêreld waaroor sy in Dors skryf so helder, jy glo waarlik jy was al self daar. Ja, sê sy, in ’n historiese verhaal is die haarfyn sketsing van die milieu belangrik, maar ook moeilik.

“Jy moet die leser kan intrek om die omgewing as bekend te ervaar, maar dit moet ook funksioneel wees.”

Sy verduidelik hoe sy die aanhaling hierbo funksioneel gebruik het: Lesers sien hoe pragtig die plek is waar die Ackermans woon, maar hulle verlaat dit op soek na die volmaakte plek.

’n Plek waar hulle dan later in sand moet grawe agter ’n bietjie water aan en deur swerms muskiete of leeus geteister word.

“Natuurbeskrywings is ’n integrale deel van Dors, want die natuur is in werklikheid die hoofkarakter,” vertel Marinda.

“Die poging tot kolonisasie van ‘Damaraland’ is nie deur vyandige inwoners gestuit nie, maar deur die ongenaakbare natuur self.”

Adriana met die swart hare en blou oë wat so goed soos ’n man kan skiet en perdry, is Marinda se gunstelingkarakter.

“Ek kon haar geloofwaardig in ’n verskeidenheid situasies plaas om nie net die haglike omstandighede waarin die Trekkers hulle bevind het uit te beeld nie, maar ook om die mense wat in harmonie met die natuur geleef het aan die leser voor te stel.

“Adriana groei van ’n bedorwe brokkie tot ’n sterk vrou nadat sy by die Boesmans gestroop is van al haar fisieke bagasie, wat haar voorberei om ook die psigiese bagasie in die oë te kyk en sodoende vry te word om ware liefde te vind.”

In Dors beskuldig ’n sendeling die Trekkers daarvan dat hulle swart kinders skiet en vang. Die een Boer ontken dit deur te sê hy het nog nooit “swartgoud” op sy wa gehad nie. Toe ek haar oor “swartgoud” vra, ontvou tragiese feite.

“Reeds gedurende die Groot Trek het die Boere werkers deur middel van oorlogsbuit verkry. Feitlik al die swart mense op die Dorslandtrek was kinders wat ná die Slag van Bloedrivier deur Boere ‘aangeneem’ is,” verduidelik Marinda.

“In Transvaal is kinders nie net deur middel van direkte oorlogsbuit bekom nie, want stamhoofde het hul oorlogsbuitkinders ook aan handelaars verkoop wat hulle dan weer aan Boere verkoop het."

Die kinders is wettig as inboekelinge geregistreer, meisies tot hulle 21 en seuns tot hulle 25 jaar oud was. In die oostelike dele, waar Pedi’s en Swazi’s betrokke was, was die handel net so winsgewend soos die handel in ivoor en is die term “swartivoor” as eufemisme gebruik.

Ná die ontdekking van goud, wat per gewig meer werd was as ivoor, is die term “swartgoud” gebruik.

“Thomas Baines het ’n treffende skildery gemaak van waens met hokke vol mense en ander te voet wat Boere in 1868 by die Batawana-opperhoof deur ruilhandel verkry het.”

Waaroor gaan Dors?

Dit is die storie van Transvalers wat rondom 1876 aan die trek gaan na Damaraland, waar hulle glo die land van melk en heuning wag.

Die leser maak die sielsmoeilike trek mee deur die oë van twee gesinne, die Greylings en die Ackermans.

Jan Greyling is die avontuurlustige en hardekopjagter wat met tye as kommandant van die trekkers optree, onder meer omdat hy die Dors, ’n stuk van die Kalahari waar geen water is nie, goed ken.

Die boer Jakobus Ackerman trek ter wille van beter vooruitsigte vir sy gesin “na ’n beter lewe” elders, al waarsku sy prediker hom: “So ’n plek bestaan net in jou drome.”

Drie heruitgawes

Bedoelde Land Deur F.A. Venter (Protea, R250)

Bedoelde Land het die eerste keer in 1968 verskyn en is die laaste in F.A. Venter se gewilde tetralogie oor die geskiedenis van die Groot Trek. Dit is Desember 1840 en Rudolf Dreyer en sy gesin bou ’n nuwe lewe in die Republiek van Natal.

Die Trekkers glo hulle het eindelik hul onafhanklike staat gevind. Die inmenging van die Britse regering en konflik tussen die Boere en Zoeloes skep egter ’n paar uitdagings.

Keur 4

Deur Eleanor Baker as Christine le Roux (Human & Rousseau, R255*)

Liewe Onskuld, Om Lief te Hê en In ’n Veilige Hawe is die drie liefdesverhale wat in dié keur heruitgegee word. In elk is ’n vrou wat deur mans onderskat word.

Daar is Olivia Joubert wat ’n wewenaar-advokaat se kinderoppasser word; Hester Verster wat ’n pos aanvaar by ’n plaasskool om weg te kom uit die stad, en Madelein le Grange wat besluit om met die goeie Johan te trou terwyl Colin haar hart op hol het.

Ek Stamel, Ek Sterwe

Deur Eben Venter (Tafelberg, R300)

Konstant Wasserman se mense met hul verstarde lewens dryf hom Australië toe.

In Sydney leer hy in ’n restaurant kook en vind hy vrye geeste wat hom verstaan.

Hy is vry. Tot die vreemde blou merke op sy bene begin uitslaan en hy siek word. Die toetse is positief, en hy moet klaarmaak, vrede maak.

Konstant lê af: elke vriendskap en verwantskap, sy sinnelike liefde vir die lewe, en eindelik ook die lewe self. 

Teen dié pryse beskikbaar by Takealot.com. Die pryse was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.