Daniel Darret se vreemde verhouding met madame Lecompte begin met geweld. En dit sal só eindig ook.

In die hitte en humiditeit van Augustus is hy weer slapeloos. Sy kamervenster is wawyd oop, maar die Place Camille Pelletan is soos ’n oond, windloos en bedompig.

Om halfeen in die nag jaag die demone uit sy verlede hom op. Hy trek ’n kortbroek, T-hemp en sy swart Nikes aan, neem dan die drie stelle trappe na onder.

In die klein plein sit die kat op die dak van sy bure se ou, vuil Renault. Sy kyk sameswerend na hom; ons twee rustelose nagdiere. Die verdomde kat. Wackett. Sonder rede so gedoop deur dié bure se driejarige, destyds.

Hy stap sy gewone roete verby La Flèche Saint-Michel. Die basiliekplein, bedags ’n mark-miernes, is nou heeltemal verlate. Oor die tremspore en die dubbelpad, tot teenaan die water, want hy is op soek na die koel bries by die rivier.

Dan noord, flink op die linkeroewer se promenade. Links van hom broei die ou stad van Bordeaux in die nagstilte soos ’n sluimerende dier. By die Colbertpark is daar ’n eensame tiener op ’n skaatsplank, heen en weer en heen en weer, die wieletjies op die betonwalle en houtplatforms ’n paar minute lank die nag se enigste geluid. Hy wonder wat hou die kind dié tyd van die nag wakker.

Daar is vyf van hulle – hulle jaag haar, jag haar.

Hy steek die Garonne oor by die nuwe brug, die ingenieurswonderwerk van Pont Jacques Chaban-Delmas, en op die regterbank draai hy suid.

Hy voel ’n luggie van die donker rivier af wat sy gelaat verkoel, net vir ’n rukkie. Sy gedagtes is by die werksdag wat voorlê, sy klein en onbenullige verantwoordelikhede terwyl monsieur en madame Lefèvre hul somervakansie in Arcachon deurbring.

Hy is aanvanklik nie eens bewus van die lang vrou in die skadu’s van Le Parc aux Angéliques, die Park van die Engele, nie. Eers wanneer sy ’n geluid maak, verskuif sy fokus, want hy hoor die vrees in haar stem.

Hy sien haar én die skimme tussen die bome, en hy swenk instinktief in daardie rigting.

Daar is vyf van hulle – hulle jaag haar, jag haar. Hulle is rats en lenig en sterk, een dra ’n bofbalkolf. Hy hoor hul hoonlag, die opgewonde uitroepe soos die blaf van ’n trop wildehonde.

Twee is amper by haar. Hulle is só op haar ingestel dat hulle nie van Daniel bewus is nie.

Die een roep: “Girafe!” Daniel snap hoekom, want die lang vrou se galop is onelegant soos ’n kameelperd. Hy hoor hoe die ander skater. Die voorste man versnel en buig omlaag, klap haar enkel sodat sy ongrasieus en geluidloos in die gras neerslaan. Dan gryp die man haar aan die hare.

“Non!” roep Daniel onwillekeurig uit. Dit is ’n refleks en op daardie oomblik voorsien hy die onmiddellike toekoms, besef hy die kousaliteit van wat nou gaan gebeur. En hy weet dit hou vir hom groot risiko in. Nou én agterna.

Hulle kyk om, sien hom. Die een haal ’n mes uit; die lem blink ’n oomblik lank in ’n ligkol van die Quai des Queyries se straatlampe. Die een met die bofbalkolf het breë skouers en gespierde arms vol swart slang-tatoeëermerke.

Die wapens bewys hulle is nie toevallig hier nie. Hy onthou die sensasie in die media en frustrasie onder polisie oor die oewer-struikrowers wat lê en wag vir die laatnag se besope partytjiegangers.

Hulle vorm ’n halfmaan; jong manne, skaars twintig, vol selfvertroue. Hy weet op dié ouderdom dryf ego en groepsdruk hulle aan, hulle gaan nou almal gelyk op hom afstorm. Hy voel die las van sy ouderdom, sy lyf se geheueverlies vir die geweld wat kom.

Een van hulle bulk ’n strydkreet. Dit is ’n primitiewe klank wat hulle tot aksie aanspoor. Hy voel die adrenalien. Hy slaan die grootste een, die een met die slangarms, eerste. Sy tydsberekening is swak en dit tref sonder krag of impak. Die mesdraer steek na hom, blitsig; Daniel is te laat om weg te ruk en die lem sny hom oor sy ribbekas.

’n Vuishou tref hom teen die keel, nog een teen sy wangbeen – harde slae wat hom laat sidder, wankel. Vannag gaan hy hier vrek. Slangarms lig die bofbalkolf hoog en ’n oomblik lank maak die ander ruimte vir die hou.

Daniel tree desperaat vorentoe, slaan hom met sy vuis teen die slaap, hard en solied. Die hou maak ’n siek, hol geluid soos ’n waatlemoen wat val. Slangarms syg neer. ’n Ander een tel die bofbalkolf op.

’n Vuishou tref hom teen die keel, nog een teen sy wangbeen – harde slae wat hom laat sidder, wankel. Vannag gaan hy hier vrek.

Daniel tol op die bal van sy voet, gryp met sy regterhand na die mesdraer, maar hy’s te stadig en die lem sny diep in sy palm in. Hy gryp weer, kry die man se pols met sy linkerhand beet, pluk hom met geweld nader, slaan hom met die regterpalm vol op die neus, sy momentum opwaarts en vorentoe. Die mesdraer steier tot op sy sitvlak, sanikend van pyn.

Daniel voel die warmte van die bloed soos dit uit sy palm stroom en ook uit die ribwond teen sy sy afsyfer. Twee van hulle is gelyk op sy rug. Hy storm agteruit sodat hy een met sy volle gewig teen ’n boom se stam vasstamp. Hy hoor die man se ribbes breek, voel die arm om sy nek verslap.

Maar die ander een slaan Daniel van agter af met ’n vuis teen sy oor. Nog ’n hou tref hom teen die nek. Die vyfde man, sy bebaarde gesig vertrek van haat en drif, storm met die bofbalkolf nader. Daniel draai, om die een wat aan sy nek hang as skild te gebruik. Dit werk nie. Die kolf tref Daniel op die dik vleis van sy regterskouer voor dit wegskram en pynlik teen sy oor klap.

Nou stroom sy bloed ook teen sy nek af. Dit maak ’n woede in hom los wat die roes en skanse en jare wegstroop.

Hy gryp die kolf stewig vas, draai dit uit die man se hande; hy sien die oë van sy aanvaller, nou wild en bang vir die krag en die snelheid. Daniel slaan hom met die kolf teen die kop. Die man syg neer. Hy stamp die kolf se steel agtertoe, tref die laaste een wat op sy rug is teen die keel, sodat die wurgende arm om sy nek loskom.

Daniel draai om. Die man probeer keer met sy voorarm, maar Daniel swaai die kolf, breek die radius en ulna. ’n Skerp, hoë gil in die nag. Voeteval agter hom. Hy sien net betyds die mesdraer, sy gesig vol bloed, die wit van sy oë wild en groot; die lem kom van onder af op. In een beweging spring Daniel terug en slaan. Die punt van die kolf tref die meshand, die wapen vlieg hoog, val in die gras.

Hy tree vorentoe, stamp die kolf in die man se maag in, swaai om. Maar niemand wil meer baklei nie. Hy moet wegkom, want hier gaan gevolge wees. ’n Paar van hulle is ernstig beseer.

Hy loop na die vrou toe. Sy sit en staar. Hy besef sy is ouer as wat hy gedink het. Haar gesig is vreemd van vorm én uitdrukking. Vrees en fassinasie is oor haar eienaardige gelaatstrekke versteen.

“Kom,” sê hy vir haar, bied sy regterhand aan om haar op te help, besef die bloed drup vryelik daaruit. Hy verplaas die bofbalkolf, gee haar sy linkerhand. Hy weet nie of sy dit sal neem nie, want hy is ’n groot swart man met bloed aan sy hande en kop en klere, in die nag in die donker park.

Sy neem sy hand en hy trek haar op. Sy staan verdwaas. “Ons moet wegkom,” sê hy met dringendheid. Sy knik. Hy lei haar aan die arm weg. Hulle loop deur die skadu’s tot by die Rue de Sem se ligte.

Sy kyk terug. Niemand kom agterna nie. Hy slinger die bofbalkolf tot in die middelstroom van die breë rivier. By die Pont de Pierre sê hy vir haar: “Hou net aan met stap.”

Hy stoot haar met sy hand agter haar rug. Sy knik, loop verder. Hy wil oor die tralies spring en die trappies na benede neem, sodat hy die bloed minstens van sy gesig kan was voor hy huis toe gaan. Maar hy sien sy steek vas en draai terug. “Merci,” sê sy sag.

Hy is ontsteld, dae lank ná die geveg by die rivier. En dankbaar dat sy werkgewers met vakansie is, want sy gesig is verkleur en geswel, sy hand swaar verbind.

Hy sien net betyds die mesdraer, sy gesig vol bloed, die wit van sy oë wild en groot; die lem kom van onder af op.

Hy is ontsteld oor die risiko. Hy bly in die multikulturele Saint-Michel-buurt; daar is ’n moskee ’n blok van sy woonstel af. Dit is algemene kennis in dié omgewing dat die Franse DGSI, die Direction Générale de la Sécurité Intérieure, hier woeker.

Sy leefstyl en verbintenisse sou lank reeds verseker het dat hulle hom as skadeloos beskou, maar sy foto sal iewers in ’n databasis lê. En die polisie in hierdie stad is doeltreffend, met hul uitgebreide stelsel van CCTV-kameras.

Dit sal nie onmoontlik wees om hom aan die geveg te koppel en dan op te spoor nie. Selfs al kan hy selfverdediging pleit, al is daar ’n getuie wat dit kan bevestig, is dit die skerper aandag en fokus wat hy nie wil hê nie. Wat hy nie kan bekostig nie.

Hy is ontsteld oor hoe baie skade vyf jong amateurs hom kon aandoen, hoe ouderdom hom verswak en stadiger gemaak het. Hy is ontsteld omdat hy weer oor sy skouer moet kyk, omdat hy die Camille Pelletan-plein onder die woonstelvenster nou weer moet dophou, sy ore moet spits as hy ’n sirene hoor, en na binne verstyf by die aansig van ’n uniform.

Hy wil nie daardie lewe terughê nie. Die koerante dra die storie, van die vyf wat in die park oorkant die rivier in ’n “bloedige bendeoorlog” betrokke was. Twee van hulle word gesoek vir ander misdade.

Daar is geen klop aan sy deur nie, geen polisielid wat agterdogtig na hom kyk nie. Die swelling aan sy gesig sak. Maar niks is presies soos dit was nie. En dan sien madame Lecompte hom.

Lees volgende week nog ’n uittreksel uit Prooi.