Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Etienne van Heerden (Tafelberg, R279*)

Die Afrikaner was net ’n historiese vergissing, sê ’n bejaarde romanskrywer een aand aan tafel by die ouers van Ian Brand, een van die hoofkarakters in die boek.

“Ons klou nog vas aan nostalgie deur ou voorblaaie van Landbouweekblad uit te stal. Ou uitgawes van tydskrifte in gedenkuitgawes weer uit te gee. Te lees oor kosters en voetestamp en hanslammers, kerkbasaars en ou treinhaltes.

“Maar als was net ’n droom. Ons kultuur is soos ’n groot biblioteek wat in ligte laaie staan. ’n Oogknip in die tyd, die wit stam van Afrika.”

Sy en haar tafelgenote nader die einde van hul lewe aan die suidpunt, maar Ian en die woedende Fees Must Fall-Thuli, wat saam met hom ’n nagraadse kursus aan die Universiteit van Kaapstad volg, moet (oor)leef in ’n onsekere era waarin alle betekenis geskuif het tot wie weet waar.

Daar is fopnuus, die verlies aan privaatheid deur gevorderde tegnologie in China (waar anders?), onsekerheid oor identiteit – alles wat ’n mens baie ongemaklik oor jou toekoms kan laat voel.

Al is Etienne van Heerden se jongste roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, 634 bladsye lank, het ek steeds sekere sinne en paragrawe weer gelees – omdat ek verstom was oor hoe raak hy baie Afrikaners se gevoelens beskryf oor die tyd waarin hulle leef.

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Die egtheid van die swart student Thuli se ervaring kan ’n mens seker toeskryf aan die feit dat Etienne lank aan die Universiteit van Kaapstad verbonde was.

Nog ’n rede vir my herlesery was dat hy plek-plek wonderlik poëties skryf en op ander plekke die spanning so heerlik laat opbou, soos met die “slordige” begin van Ian en Elizabeth Gunther se verhouding: “Daar om die kuspad het hy liggies eers een, toe twee en toe vier vingertoppe teen haar vel neergesit.

Op die agterkant van haar nek, daar waar die haarlyn met die fyn donshaartjies begin.

Sy’t niks laat blyk nie en voor haar bly uitkyk. Hy kon damp voel uitslaan. Die geur van haar lyf, skielik gewek, het hom getref en toe hy sy kop na haar draai, sien hy sweetdruppeltjies op haar bolip uitslaan.

“Die volgende oomblik bak hy sy handpalm om haar agterkop en terwyl sy nog bestuur, draai hy haar kop na hom toe en trek haar na hom aan en nes in Picasso se skildery van twee koppe wat mekaar met saagtande te lyf gaan, het hulle mekaar aangeval. Sy’t remme aangeslaan en skuinsweg met ’n los grondwal teen die pad se kant opgery, half tussen die bosse in.”

Daar is verskeie storiedrade wat hier gespin word, onder meer die droom van ’n biblioteek in die Karoo waarin alle Afrikaanse boeke bewaar word; die Moederstad se geheimsinnige kruisboogmoordenaar; Bellville se eie Jack Lemkus wat clichés interessant laat klink (“dieAfrikanerisinbeseringstydmymakker”) en die Chinese bruid in haar rooiblink rok wat iemand met ’n pyl in die rug in die rivier sien afdryf waar sy vir troufoto’s poseer.

En dis nie al nie.

Vier van die karakters

Thuli Khumalo is ’n 30-jarige nagraadse student en lid van die Fees Must Fall-beweging. Sy beskou Suid-Afrika as een groot wit titelakte en ’n gangsterstaat. “ ’n Kleptokrasie, met die diepstaat wat te papbroekig is om in een fel gebaar die grond terug te gryp en dus met allerlei krimi-uitlopers eerder afskep. Die handel in fopware, van Adidas-skoene tot sigarette, polisielede wat met bendes konkel. Munisipaliteite wat tot kitsbanke vir ANC-families verval, die tendersirkus . . .” Haar pa is deel van die ANC-elite wat saam met sy vrou en hul enigste in ballingskap in Londen gewoon het.

Ian Brand is in sy 40’s en ’n prokureur met ’n L.L.M. van Oxford en Cambridge. Hy is begaan oor so baie dinge waaroor geswyg word sodat jy tog net nie ’n oortreding in die sosiale media kan begaan nie. “Bly eerder stil. Jy’s ’n wit man. ’n Afrikaner. Dis nie nou jou tyd en plek om te praat nie. Ons woon in die Republiek van Taboe, dink hy.” Dan doen hy presies die teenoorgestelde en stuur ’n twiet die wêreld in wat ’n einde maak aan die lewe soos hy dit geken en geniet het.

Jerome Maarman volg saam met Thuli en Ian die nagraadse kursus. In die week woon hy op die middelman van ’n snelweg. Ian bied aan om hom klas toe te neem. “Gaan net weg, wil ek hom sê. Moenie my jou tjommie probeer maak nie. Ek wil nie te lank saam met jou gesien word nie. Jy soek praatjies. Altyd in Afrikaans. Highly embarrassing hier. Net nie cool nie. Loop met Die Burger onder jou arm, só dat almal kan sien jy’s Afrikaans. Is dit aspris? Of uit domgeid?”

Piekenier Leqluerck is ’n plastiese chirurg wat Ian Brand op ’n KLM-vlug ontmoet het. Die dokter blyk ’n storieverteller te wees. Hy beskryf eerstens ’n lieflike vrou met ’n Florentynse neus wat hy eenkeer in die Kaapstadse Waterfront gesien het. Maar sy is afgeknou deur ’n fisieke defek aan haar popliteale fossa wat soos ’n H of ’n oog in ’n boomstam kan lyk: “Haar kniefossas was twee treurige oë wat teen die vrolike bons van haar arms ingaan. Die manier waarop sy haar kop hou.” Die dokter het hom daar en dan begin toespits op chirurgie om mense se lelike agterknieë reg te stel.