Donker web
Donker web
Donker web. Deur Fanie Viljoen. (Tafelberg, R205*)

Deur Fanie Viljoen (Tafelberg, R205*)

“Hallo oom, Onderwêreld is die beste boek wat ek nog ooit gelees het. Dit is briljant, maar die einde het my baie nuuskierig gemaak oor Eckardt. Gaan oom ’n tweede boek skryf?”

Tessa Erasmus van die Hoërskool Wonderboom was nie die enigste leerder wat by Fanie Viljoen ’n opvolg gesoek het vir sy boek wat met groot sukses vir skole voorgeskryf is nie. Hy het geluister, en hier is Donker web nou – vir al daardie leerders wat Onderwêreld vooruit gelees het, al het hul onderwysers hulle gevra om dit nie te doen nie!

“Matrieks wat die afgelope paar jaar Onderwêreld bestudeer het, was nuuskierig oor wat verder sou gebeur. Die karakters en verhaal het geweldig tot hulle gespreek,” vertel Fanie.

“Ek moes toe lank gaan nadink en weer die drade van die storie optel en uitbrei vir die vervolg.”

Nadink was nie al wat nodig was nie, want Donker web is meer as ’n storie wat ’n skrywer net uit sy duim kan suig, en Fanie vertel dat hy geweldig baie navorsing moes doen.

Fanie Viljoen.
Fanie Viljoen. Foto: Hanneri de Wet

“Aanvanklik het ek bloot interessante artikels oor tegnologie, kuberkrakers, skelmstreke en meer in ’n lêer op my rekenaar gebêre, maar later het ek intensief op bepaalde onderwerpe gefokus. Twee van die kuberkrakers wat my met Onderwêreld gehelp het, het goedgunstiglik ook weer my vreemde vrae beantwoord en raad gegee. Op my webblad is ’n volledige bibliografie van die navorsing. Dis so 15 bladsye lank.”

Ek vra hom of hy dink gesigherkenningsagteware gaan ons wêreld verander.

“Beslis, ja. Jy kan jou selfoon vandag daarmee ontsluit. Facebook gebruik dit ook reeds. As jou verstellings dit toelaat, tag hulle jou reeds outomaties as jy of iemand anders ’n foto van jou plaas.

“Gesigsherkenningsagteware kry nou ook ’n donkerder draai met deepfake-tegnologie. In Desember 2020 is ’n video uitgereik waarin koningin Elizabeth se gesig gebruik is om ’n vreemde Kersboodskap te lewer. Dit is met hierdie tegnologie gemaak. Jy moet mooi kyk om te sien dat dit vals is,” sê Fanie.

Reaksie op ‘Onderwêreld’, ‘Donker web’ se voorganger

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
  • Hanneke Strydom van die Hoërskool Overberg, Caledon, skryf: “Dit is die eerste voorgeskrewe boek waar my leerders regop sit, saam lees en saam met my omblaai. Ek het hulle mooi gevra om nie vooruit te lees nie. Vandag het twee seuns vir my kom sê dis die beste boek ooit en hulle kon dit nie help nie, hulle het vooruit gelees!”
  • Romano Hendricks skryf: “Ek wil net sê meneer se boek het my regtig ’n passie gegee om te lees. Ek het Onderwêreld al twee keer deurgelees, en ek is besig om dit vir die derde keer weer deur te lees.”
  • Gabriël Esau skryf: “Dit is vir my ’n plesier om u boek te lees. My ouers het nie baie geld nie, anders sou ek al u ander boeke gekoop het. Ek hoop u sal baie jare nog skryf. Wanneer ek eendag werk, sal ek beslis u boeke koop.”
’n Uittreksel uit ‘Donker web’


Ek bekyk weer die transponder wat ek ontvang het. Dis ’n klein stukkie elektroniese toerusting in ’n glasomhulsel. Jy plant dit glo in jou hand in met die inspuiting-meganisme.

Die injector kit, noem die webblad dit. Dis bloot ’n skrikwekkende dik naald met ’n handvatsel. Só hack jy jou lyf, want met die transponder in jou hand, het jy nie meer sleutels nodig vir jou huis nie. Jy kan ’n elektroniese slot oopmaak deur net jou hand oor die slot te hou.

Jy kan jou gym se toegangskaart hierop sit en jy het nooit weer ’n fisieke kaart nodig nie. Jy kan jou inkopies betaal deur bloot jou hand te swipe – geen kaart wat weer verlore kan raak of gesteel kan word nie.

Ek weet nie of ek verstom of verskrik moet wees nie. Dan kry ek ’n idee. Die laptop wat ek gekry het, het mos ’n elektroniese leser. Dalk sluit die transponder die laptop oop.

Ek haal die glaskorrel versigtig uit die verpakking. Vee dit oor die laptop se leser. Wag ’n rukkie. Niks gebeur nie. Ek probeer weer, maar steeds gebeur niks nie. Oukei, dan is dit nie hoe die laptop gaan werk nie.

Op Telegram tik ek vir Xander ’n boodskap. Ek het die pakkies gekry.

Cool, antwoord hy.

Vat die pakkie van Dangerous Things nou na ’n tattoo shop en vra hulle moet die transponder in jou hand inplant.

Is jy mal? Ek doen dit nie. Jy sal.

Dis al manier hoe ek sal weet of ek jou kan vertrou. Plant dit in en stuur vir my ’n bewys dat jy dit gedoen het, anders is ons deal af. Is daar nie ’n ander manier nie? Hoe weet ek in elk geval of ek jóú kan vertrou?

Jy weet nie. Ek gaan dit nie doen nie. Ek laat my nie biohack nie. Almal gaan dit die een of ander tyd doen. Dis die nuwe revolusie. Ons gaan masjiene word.

Transponders is maar net die begin. Ek soek nie sulke stuff in my lyf nie. Dan is ons deal af. Jammer. Xander, wag! Ek dink eers wat ek volgende moet sê.

Flippit, hy het my nou in ’n hoek.

Ek soek wragtig nie sy crap in my lyf nie. Dan kry ek ’n idee.

Oukei, ek sal dit doen, tik ek vir hom. Stuur ’n foto as bewys. Reg.

Maar ek gaan jou dalk net bliksem met my cyborg-hand as ek jou weer sien.

Ek delete die laaste sin voordat ek die boodskap stuur. Weer ’n diep asemteug. Die spel het begin.

Xander het ’n skuif gemaak. Nou is dit my beurt. Ek hoop Chloe is by die huis. Sy is deel van my plan, sy weet dit nog net nie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe