HUPPELKIND

Deur W.O. KÜHNE; illustrasies: DOROTHY HILL KÜHNE

(Tafelberg, R245)

Hallo, maatjies, my naam is Bennie en daar’s nie ’n storie wat ek nie ken nie. Hier in my tonnelhuisie diep onder die grond het ek rakke en rakke vol storieboeke.

Dié maand wil ek julle vertel van ’n boek wat baie van julle se mammas en pappas gelees het. Almal was so lief daarvoor dat hulle die stories weer in ’n boek uitgegee het sodat vandag se kindertjies dit ook kan hoor.

Die boek begin so: “In die middel van die wêreld in die middel van ’n vlei, het ’n vrolike knapie by sy oupa gebly. Sy naam was Huppel.”

Ag, die arme Huppel wou so graag ’n maatjie hê, maar daar woon nie ander kindertjies in die middel van die wêreld in die middel van die vlei nie.

Toe sê sy oupa hy moet doodstil gaan sit by die kuil vol soet water, dan sal daar soveel maatjies kom dat hy hulle nie sal kan tel op al die vingers van sy hande en al die tone van sy voete nie.

Jy sal nou nie glo wat ek vir julle vertel nie, maar dis die waarheid! Huppel het die stokou slim maraboe ontmoet en vir Fiefman en Diefman, vir Jasper die mak muis en Vlak-Floors wat fraai klein steweltjies maak en nog baaaaie ander van wie mamma of pappa vir jou kan lees.

O goue blaar, my storie is klaar. – Bennie Boekwurm

TYDLYN

Teks: PETER GOES en SYLVIA VANDEN HEEDE; illustrasies en ontwerp: PETER GOES

(Protea Boekhuis, R350)

Kinders (en grootmense) raak dikwels verdwaal in die geskiedenis se duisternis feite. As ’n mens net kon weet hoe alles inmekaarsteek . . .

Tydlyn, ’n hardebandboek in reuseformaat, bring orde deur ’n opgesomde oorsig te gee van die wêreldgeskiedenis van die oerknal tot vandag. Die geskiedenis word vertel deur illustrasies met net die nodigste kopie.

Dit is verstommend hoeveel inligting hier vasgevang is. As ’n mens byvoorbeeld net na die 1960’s kyk, word geskryf en geteken oor (onder meer) Che Guevara, Andy Warhol en sy Campbell’s-sopblik, Woodstock se hippies, die Viëtnam-oorlog, die eerste James Bond-fliek, China se Kulturele Revolusie, die oprigting van die Berlynse Muur en The Troubles in Noord-Ierland.

’n Vonds van ’n boek voorwaar.

ROOI – WAAROM BOELIES NIE SNAAKS IS NIE

Storie en illustrasies: JAN DE KINDER

(Protea Boekhuis, R150)

Al die karakters wat nodig is om hierdie waarklinkende storie te vertel is hier. Eerstens natuurlik die boelie. “Paul se tong is skerp soos ’n mes. En sy vuis so hard soos ’n baksteen.”

Daar’s die slagoffer wie se geneigdheid om maklik te bloos gebruik word as rede om hom af te knou: “. . . die kleur van Tobie se wange, van tamatie- tot rissie- tot kersierooi.” “ ‘Los my uit,’ sug Tobie.”

Daar’s die maatjie wat wil antwoord op juffrou se vraag wie vir Tobie geslaan het, maar sy’s te bang: “Nee, ek wil nie. Ek wil nie doodgaan nie.”

Natuurlik is daar ’n gelukkige einde, want die doel van so ’n boek is tog om die groeiende hedendaagse euwel bloot te lê en aan kinders moed en maniere te gee hoe om dit te hanteer.

Dit word nou vir die eerste keer in Afrikaans uitgegee, maar is so suksesvol dat dit reeds in Engels, Portugees, Chinees, Koreaans, Spaans, Katalaans, Duits, Hindi, Grieks, Sloweens, Deens, Frans en Japannees vertaal is.

Die Belgiese skrywer Jan De Kinder sê op sy webtuiste sy lieflingskleur is rooi (die hoofkleur in die boek, wat sekerlik ook dui op die moeilike emosies).

Wys gerus vir jou kind by jandekinder.be hoe hy een van sy lieflike illustrasies met houtskool maak.

EK LEER DIE ABC

Deur LEON ROUSSEAU; illustrasies: KAREN AHLSCHLAGER

(Human & Rousseau, R117*)

Die letter q is skaars in Afrikaans en ons sien dit dikwels net in name soos Quaqua en Queenie, maar r is maklik, want dit staan vir rak en rok en rek en rem. En r in die middel is korrel en borrel of gor en nar as dit aan die einde staan.

Dis ’n baie oulike, nuttige boek om voorskoolse kinders nie net die alfabet te leer nie, maar om hulle ook na die klanke te laat luister.

Sê die klanke individueel en ook hoe dit in woorde voorkom, en moedig jou kind aan om jou na te boots. Teen die tyd dat hulle skool toe gaan, behoort hulle goed ryp te wees om te leer lees.

EK LEES SELF

’n Reeks boekies deur WENDY MAARTENS; illustrasies: ZINELDA MCDONALD

(Lapa, R60 elk)

Boer en sy vrou woon rustig op hul plaas. Hy plant mielies; sy melk die koei.

Op ’n dag toe hy van die mark af kom, vra ’n ou man hom iets te ete. Hy gee hom wors, kaas en ’n soet lemoen en in ruil gee die man hom ’n gans.

Wat natuurlik begin goue eiers lê.

Klassieke dierestories soos Die Drie Rammetjies Rof, Jakkals en Wolf Bou Huis, Muis Red Leeu Se Lewe en 14 ander word in maklike taal en min woorde oorvertel deur Wendy Maartens en kleurryke illustrasies deur Zinelda McDonald.

Agterin is wenke vir ouers om hul kinders te help lees.

* Beskikbaar teen dié prys by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.