1 000 nuttige woorde
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Dorling Kindersley (in Suid-Afrika uitgegee deur Lapa Uitgewers, R149*)

In ’n neutedop:

  • Elke bladsy bestaan uit kleurryke prentjies met woorde daarby.
  • Daar is so 20 temas, soos “Volstoom vorentoe” – hierby is prente van elke denkbare vervoermiddel, van ’n betonmenger tot ’n reddingsboot en ’n bromponie. By die natuurtema is nie net kampeerders en bergfietsryers nie, maar ook die kans om met die kind te gesels oor waarin ’n mens ’n eikeboom se saad kry en waarin ’n ruspe eindelik verander.
  • Hier is “Kan jy dit kry?”-speletjies waar die kind byvoorbeeld al die babadiere moet uitwys of moet sê met watter prentjie vandag se weer ooreenstem.
  • ’n Lang lys sigwoorde word gegee. Dis woorde wat herhaaldelik voorkom, en as ’n kind dit dadelik kan uitken, sal dit haar help om ­vinniger te leer lees. Voorbeelde is voorsetsels, lidwoorde, persoonlike voornaamwoorde en kort werkwoorde soos “doen”, “kyk”, “lê”, “loop” en ­ander.
  • Een van die groot pluspunte van 1 000 nuttige woorde is dat dit interaksie tussen ouer en kind aanmoedig. Die boek raak aan soveel fa­sette van ’n kind se ontwikkeling dat die ouer ook gou sal kan raaksien waarmee die kind sukkel, soos die identifikasie van kleure, telvermoë of woordherkenning.

Die boek is vir kinders wat nog nie kan lees nie, sowel as vir beginnerlesers.

My maats kom kuier!: Speletjies, vasvrae, bederf-idees en dinge om te maak!
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Dorling Kindersley (in Suid-Afrika uitgegee deur Lapa Uitgewers, R145*)

Jy gaan die beste oorslaappartytjies hou met dié boek, want hier is so baie oulike dinge om te doen; nie een van jou maats sal ’n minuut verveeld wees nie.

Kies ’n tema vir jou partytjie, iets soos ’n spa: Hier is ’n resep vir ’n voetspa, wenke oor hoe om patroontjies op jou naels te verf, hoe om ’n oogmasker te maak en strelende gesigbehandelings met vrugte.

Ander temas met al hul wenke en resepte is kampeer, mode, popster en fliekaand.
Julle sal ook lekker leer tekkies versier, jellie-armbande en blomme-haarbande maak, hare vleg en foto’s raam.

En natuurlik sal julle honger raak van al die werk, so maak jul eie pizzadeeg en bak dit in hartvorms met lekker tamatie en kaas. Of wat van springmielies met kaas of sjokolade?

  • My maats kom kuier! is gemik op meisies van sowat 7-10 jaar.
Webslim: hoe om aanlyn veilig te bly
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Vertaal deur Jaco Jacobs (Lapa Uitgewers, R176*)

Tien belangrike dinge om te weet:

1 Daar is aanlyn gevare waarvan jy moet kennis dra, soos trolle, kuberboelies, nare sagteware en volwasse webtuistes.

2 Jy deel jou naam, adres, telefoonnommer, ouderdom, skool en detail oor jou gesin nét met jou familie en vriende.

3 Beskerm altyd jou selfoon en tablet met ’n geheime toegangskode.

4 As jy nie weet van wie ’n e-pos kom nie, vee dit dadelik uit. Dis dalk ’n adverteerder wat jou gaan bombardeer met pespos as jy eers een keer sy e-pos oopgemaak het.

5 Mense wat jou rekenaar met skadelike sagteware (“malware”) wil beskadig, vang jou dikwels uit deur iets gratis soos ’n speletjie aan te bied. Moet nooit so ’n e-pos oopmaak nie – jy ken mos nie die mense wat dit vir jou gestuur het nie.

6 Wanneer jy by ’n sosialemediaplatform aansluit, kies dadelik “only my friends”. Jou profiel is soos ’n privaat klub waar jy die mense ken saam met wie jy uithang.

7 As iemand met wie jy aanlyn maats gemaak het jou in die regte lewe wil ontmoet, vertel dit vir jou ouers. Een van hulle moet saam met jou gaan om te kyk of dit regtig iemand van jou ouderdom is. Dalk is dit ’n grootmens wat net maak of hy so oud soos jy is en belangstellings deel.

8 Dink mooi voor jy ’n foto op die internet deel, want dit gaan vir altyd daar wees en jy weet nie wie dit kan misbruik nie. Moenie foto’s plaas wat te veel persoonlike inligting verklap nie.

9 As jy skielik ’n boodskap ontvang dat jy jou ­sagteware moet aanpas, vra eers jou ma of pa of dit waar is vóór jy dit oopmaak.

10 Wees op die uitkyk vir doxing. Dis wanneer iemand se inligting aanlyn geplaas word sodat hulle geboelie kan word.

  • Die boek is ideaal vir laerskoolkinders en het ook wenke vir hoe om die internet te geniet.
Soek die paadjie! (vlak 2)
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Éditions Caramel (in Suid-Afrika uitgegee deur Human & Rousseau, R99*)

Hierdie boek kom nie verniet met sy eie, spesiale pen nie: Jy moet dit gebruik om die regte pad te kry deur elke doolhof. Die boek is gedruk op skoonveepapier sodat jy foute met ’n lappie kan uitvee en verder kan soek na die paadjie.

As jy byvoorbeeld die regte paadjie deur die diamantdoolhof gekry het, moet jy in die wit kolle neerskryf hoeveel molle of pakkies dinamiet jy gesien het.

Die hoogtepunt van die aktiwiteitsboek is ’n groot plakkaat wat verwyder kan word uit die middel van die boek. As jy die towertoringdoolhof oorwin het, kan jy die mooi prent teen jou kamermuur opplak.

  • Soek die paadjie! (vlak 1 en 2) is geskik vir kinders van so 6-9 jaar.
Soek en vind: Diere
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Connie Isaacs; illustrasies: Dan Crisp (Human & Rousseau, R87*)

Waar kry ek drie blaasoppies, vyf rooi seeanemone en sewe oranje seeperdjies? Op die kleurryke koraalrif.

By moerasmaats moet ek soek na vyf geel paddas, ses houtluise, nege bruin waterslange en nog ’n klompie grillerige goeters. Onder die golwe sien ek een boggelrugwalvis, ses moordwalvisse en allerhande ander onderwaterdierasies.

Die knor­buffel en die wollerige mammoet en hul ander maters gaan ure se soek kos. O ja, wag, daar is ook nog die seevoëls, die paddaparade, die fantastiese fladdervlerke . . .

  • Die boek is geskik vir kinders van 2-6 jaar.
* TEEN DIÉ PRYSE BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.