Ontdek insekte en Ontdek die oseaan

Dorling Kindersley, plaaslik uitgegee deur Human & Rousseau, R159* elk

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Jy moet weet wat wantse is, want wie weet wanneer word jy ’n vraag daaroor gevra?

Wel, wantse is besies, en onder hulle tel plantluise wat voortplant sonder mannetjies, snuitbesies wat kompleet soos vlieënde krokodille lyk, skuimspoegers en daardie aaklige weeluise wat in vuil matrasse huis opsit.

In hierdie wonderlike boek kan jy so baie oor insekte leer wat wegkruipertjie speel as gevaar dreig, van hul metamorfose, hoe hulle kos uit plante suig en prooi en nog baie ander interessante dinge soos kewerkrygers en insek­argitekte.

Ontdek die oseaan het net sulke pragtige kleurfoto’s en -tekeninge, en jy sal van dinge lees waarvan jy nog nooit gehoor het nie.

Soos die venusmandjie met sy glasagtige geraamte wat soos iets lyk wat in ’n uitstalkas hoort. Maar die wit “glas” is lewende spons bedek met sagte weefsel wat ’n mens in die diepsee kry.

Daar is ook ’n seespinnekop met sulke lang bene, hy lyk asof hy op stelte loop – en hy is nie regtig ’n spinnekop nie, maar ’n krap.

  • Nog iets uit die insekboek: Kan jy raai hoekom die brommer se wetenskaplike naam Calliphora vomitoria is?
Peacocks & Picathartes: Reflections on Africa’s birdlife
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Deur Rupert Watson (Struik Nature, R180*)

Ek het nog nooit van picathartes gehoor nie, maar dan strek my voëlkykery ook net so ver soos dat ek na die ongeïdentifiseerde tuin­variante kyk wat in die drinkbadjie voor my sitkamervenster baljaar. Wikipedia noem dit ’n “rock fowl”, dus sou ek meen volgens ’n kombuisvertaling is dit ’n rotshoender.

Rupert Watson skryf in sy Peacocks & Picathartes dis ’n skaars voël wat hy bevoorreg was om een middag ná ’n taamlike staptog saam met ’n Ghanese gids van naby te sien.

“Die gids het agter my beduie, en daar met ’n hop en ’n huppel en ’n hop was ’n enkele, magiese rotshoender.” Later het nog een opgedaag, en Watson beskryf hierdie vyf minute as ’n grootse ervaring van “een van Afrika se buitengewoonste voëls”.

Dié Britse regsgeleerde het meer as 40 jaar gelede na Kenia verhuis – een van die redes was juis dat sy pa as seun by hom ’n belangstelling in voëls gekweek het – en sedertdien het hy sy vrye tyd met ’n verkyker om sy nek die vasteland verken.

Hy skryf oor ’n klomp spesies wat net in Afrika voorkom, sowat agt wat hoofsaaklik hier voorkom en ses spesies wat hom besonder na aan die hart lê. En hulle is nie almal noodwendig aansienlik nie – hy staan ’n hele paar bladsye aan die muisvoël af.

“Geen ander voël gee ’n beter indruk van die blote plesier om te wees wat hy is nie. Dit lyk of hulle hul aktiwiteite en veral mekaar se gesel­skap geniet.”

Dié boek sonder foto’s is vir die passievolle voëlkyker wat reeds die meeste voëlboeke op die rak het. Dis
vertellings oor onvergeetlike ekspedisies, interessante voël­gedrag, veranderende taksonomie en insigte
gegrond op lewenslange waarnemings in die wildernis van Afrika.

Field Guide to Renosterveld of the Overberg
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Odette Curtis-Scott et al. (Struik Nature, R360*)

Niemand wil iemand se lelike stiefsuster wees nie, maar as haar naam Fynbos is en joune
Renosterveld, nou ja, wat is die kans? Die ironie is dat Renosterveld se bosse in vrugbaarder grond groei en met ’n reuseverskeidenheid van bolplante en blomplante tot eetbare grasse spog.

Die ongeluk is dat net sowat 5% van die oorspronklike Renosterveld bebouing en landbou oorleef het. Dr. Odette Curtis-Scott se Overberg-Renosterveld-bewaringstrust wat sy in 2012 gestig het, hoop om dié toedrag van sake om te keer.

Renosterveld, wat as ernstig bedreig geklassifiseer is, is die tuiste van die rykste bolflora ter wêreld – sowat 40 spesies is al op ’n enkele stuk grond van 1 000 m² in die Overberg aangeteken. Daar is ook ’n groot verskeidenheid vygies, asters en ertjies.

  • In dié gids is byna 1 000 plante en 140 diere.
Dinosourium
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za
Beskikbaar by graffitiboeke.co.za

Deur Lily Murray. Illustrasies: Chris Wormell (Protea Boekhuis, R465*)

Die boeke in dié reeks is amper te mooi vir woorde! ’n Mens het lus om die prente uit te skeur, te raam en teen jou mure te hang, dis so besonders. Dis buitendien op sulke mooi papier ook gedruk in hierdie reuseboek van 37 x 28 cm.

Prof. Paul Sereno, ’n paleontoloog van die Universiteit van Chicago, skryf in die voorwoord: “Jou toer begin met ’n dinosourusstamboom wat wys hoe dié merkwaardige wesens ontwikkel het om die aarde 175 miljoen jaar lank te oorheers. Die gedetailleerde illustrasies laat hulle in al hul glorie herleef – wreedaardige jagters met vlymskerp kloue, logge plantvretende reuse en geveerde voorsate van vandag se voëls.”

  • Ja, die boek is duur, maar dit sal nog ’n erfstuk word, dis vir seker. In Afrikaans het Anatomicum, Botanicum en Planetarium ook reeds verskyn.
DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe