Die kind uit die wingerd
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur Helene de Kock (Human & Rousseau, R335*)

’n Vreemde seuntjie wat op ’n dag in die wingerde van ’n Bolandse wynplaas verskyn, sit ’n reeks ­gebeure aan die gang wat jare later tydens die Tweede Wêreldoorlog in Europa gaan draai.

Dit word ook die liefdesverhaal tussen Carijn den Hagen en Laurens Erasmus wat as kindertjies al hul harte vir mekaar gegee het op daardie dag tussen die wingerde.

Maar hy is ’n optelkind, al word hy as deel van die uitgebreide ­familie grootgemaak en staan hy sy plek oral vol.

Toe sy eendag vir hom sê sy stel nie daarin belang om ’n wynmaker te word nie, wil hy woedend weet of sy eenvoudig haar erfgrond gaan weggee aan ’n man wat dink sy is mooi en vir hom ’n toekoms op haar plaas wil verseker. Dit bring ’n keerpunt in hul vriendskap, maar net tydelik.

’n Groot deel van Helene de Kock se nuutste ­roman speel af in Nederland, en een van die temas is spioenasie tydens die oorlog. Dis vervleg met ­inligting wat sekerlik nie uit die duim gesuig is nie.

“Ja,” bevestig Helene, “die geskiedenisnavorsing vir Die kind uit die wingerd was uiteraard ’n groot werk. Ek het gebruik gemaak van die BBC se argief asook geskiedenisboeke oor die Tweede Wêreldoorlog. Mense se briewe uit daardie tydperk het ook lig gewerp.

“Die deel wat in Leiden afspeel, berus grootliks op die talle onderhoude wat ek met mense gevoer het wat daar studeer het. Een van hulle was byvoorbeeld die destydse dekaan van die regsfakulteit van die Noordwes-universiteit wat in die sewentigerjare ons buurman was.

“Ek het ook lank gelede ’n onderhoud gevoer met mense wat tydens die oorlog in Londen gewoon het en toe as dokters by Guy’s ­Hospital gewerk het,” vertel Helene.

“Uiteindelik is dit seker nie die feite wat die ­deurslag gee nie, maar die vermoë om die feite te ‘verlewendig’. Daarmee bedoel ek dat die feite ­korrek moet wees, maar dat die skrywer alles wat feitelik beskikbaar is oortuigend met die storie moet inklee.”

’n Uittreksel uit Die kind uit die wingerd

Sy het daardie Sondag in die wingerd oorkant die Eersterivier gespeel. Sy kon die grootmense op die stoep hoor gesels en die ander kinders sien waar hulle op die grasperke probeer handstande doen.

Sy wat al dagdromend met die ry rooibruin ­wingerdstokke aangeloop het. Toe die vreemde kind wat na haar toe kom, al hoe nader. Die son blink op sy swartdonker hare, gloeiend op sy ligte vel. So asof hy uit ’n lugkasteel te voorskyn kom. Sy knip haar oë stadig. Hoor die grootmense steeds ver weg op die stoep praat en lag.

“Carijn!” hoor sy haar ma roep. “Waar is jy?”

“Ekke kom nou-nou!” skree sy oor haar skouer en loop vinniger.

Die seuntjie is nou amper by haar. Carijn dink hy’s bietjie kleiner as sy. Sy is al vier. Toe gaan staan sy en kyk weer om. Die grootmense het almal uit hul stoele opgestaan. Hul lippe beweeg.

“Wag!” skree haar pa.

Oupa sê ook iets in sy dik stem. Haar ma se stem en tannie Miemie s’n weerklink oor die werf.

“Carijn!” roep almal naderhand. “Wag!”

Maar sy gaan nie wag nie, want hy het nou vasgehaak. Seker omdat hy bang is vir die raserige stemme.

Carijn loop versigtig tot by hom. Die kind se groot blou oë staan stokstyf op haar. Sy asem kom rukkerig. Carijn steek haar hand uit en vat sy vingers fyntjies vas.

“Dag,” fluister sy, bang dat hy sal weghol.

Die seuntjie knik sy kop.

“Wat’s jou naam?” hou sy aan.

Hy lig sy bewende voorvinger en wys na die ­papier wat met ’n haakspeld aan sy baadjie vas­gemaak is.

Toe hoor sy die doef-doef van voete oor die houtbruggie. Die grootmense is in ’n bondel op ­hulle en die seuntjie raak so stil soos ’n houtpop. Maar sy dringende oë hou haar gevange.

“Seun, waar kom jy vandaan?” dreun haar oupa Fritz se stem deur die Sondag se mooi.

Mooier as ­Marilyn
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Deur ­Anita du Preez (Queillerie, R209*)

“Die heelal het besluit dat ek binne die bestek van 24 uur een ding sou kry en die ander een kwyt sou wees.

“As ek terugkyk, kan ek sien presies waar alles begin het, maar die actual papaja se pulp het eers uit die waaier gespat die dag toe ek my liewe eggenoot, Vincent, in Beleza saam met Gloria gesien het.”

Desiree is die Sondagoggend deur haar vriendin Ina (wat toe onlangs Christine geword het) na ­Beleza gesleep vir ’n laat ontbyt. Christine “is nie ’n huismuis” soos haar vriendin nie en werk baie hard daaraan om haar oor­lede man se fortuin uit te gee.

So sien sy haar man saam met Gloria by die restaurant in Kaapstad toe hy veronderstel was om weg te wees na ’n mediese kongres in Pretoria.

“My Vincent is ’n chirurg. En selfs op 51 kan hy nog ’n groot vertrek met sy teenwoordigheid vul. Om nie eens te praat van ’n denim en ’n hele paar ander dinge wat enige vrou graag gevul sou wou hê nie. Soos haar bankrekening.”

In daardie onlekker tyd kom die eienaar van die restaurant oor haar pad, “die man van Beleza”:

“Die vent het ­nogal ’n kalmte aan hom. Nee, dis nie kalmte nie. Meer iets zennerigs?”

’n Belof­te vir Bippie

Deur Elsa Winckler (Lux Verbi, R175*)

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Lesers wat ’n Brief vir Reina geniet het, sien natuurlik uit na die opvolg. En hier is dit, die tweede in die McGregor-reeks.

Bippie is ’n M-student wat vir Reina in haar tweedehands­winkel in Kaapstad werk toe sy on­bepland swanger raak by ’n man wat glad nie in “die probleem” belangstel nie.

Sy word opgeneem in ’n klein maar liefdevolle gemeenskap waar sy ook die man leer ken wat die huis oorkant die straat restoureer.

Dis ’n roman met ’n Chris­telike boodskap wat troos bring in ’n harde werklikheid.

*DIE PRYSE WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.