Luistervink


Deur Madré Marais (Human & Rousseau, R189*)

Hier is ’n man wat vir die mishandelde Emmie ’n dak oor die kop gee en vir haar varkore plant as ’n verrassing.

Hulle groei welig onder haar versorgende hande, maar toe hy haar een oggend vroeg in die bedding gaan soek, sê sy: “Net omdat die goed nie vrek nie, beteken dit nie hulle is gelukkig hier nie.”

Nicolene is die onderwyseres wat ná skool staan en wag vir een van die ma’s om vir haar te sê dat haar dogtertjie ’n seun bloedneus geslaan het. Die rede waarom sy ná die voorval “Jy is ’n ster!” agterop die kind se hand gestempel het, het te doen met die man wat nou deur die skoolhek gejaag kom op soek na haar.

Aan tafel is ook die 15-jarige Theo in ’n verhaal met die onheilspellende titel “Sinker”; Bok wat alles “lekker” noem – “lekker boude”, “lekker lyfie”, “lekker lippe”; daar is die boervrou wat ’n brandoffer bring om haar ma se vloek te be­sweer, en nog ander wat op jou aandag aandring.

Uitgewers is nie altyd geneë om kortverhale uit te gee nie omdat dit glo nie goed verkoop nie; tog het Madre dié genre gekies om in te debuteer.

“Ek glo in die intense trefkrag van kortverhale. Dit het so ’n manier om die leser nie sommer uit te los nie,” sê sy.

“Die kortverhaal is soos ’n jaloerse vrou. As sy jou eers in haar greep het, is dit verby. Of jy nou skryf of lees – sy wil hê dat jy haar tot in die fynste besonderhede leer ken, onverdeelde aandag gee en daarna heeltyd in jou gedagtes hou. Eindelik herken jy iets van haar in alles wat jy sien.”

Luistervink het ontstaan toe sy haar ’n hele paar jaar gelede op die skryf van kortverhale toegespits het.

“Dit het eers bundel begin word toe ek my meestersgraad in skeppende skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat aangepak het. ’n Groot klomp verhale is oor ’n lang tydperk geskryf, herskryf, tot volwassenheid gepamperlang of ­liewer nek omgedraai.”

Madré dra haar bundel op aan ’n landskap: “Vir die landskap waarin ek mens geword het – jou vlaktehemel en jou sterreveld.”

My waarnemingsvermoë en nuuskierigheid is hier geslyp en geprikkel. Hier het ek mens geword en ’n sekere ingesteldheid ontwikkel.

“Dis die landskap van die Suidwes-Vrystaat, waar ek op ’n plaas grootgeword het,” verduidelik sy.

“Dié omgewing is aanmekaargesit uit bossieveld en uitgestrekte vlaktes en klip­rante wat verbasend sag en blou word aan die horison. My waarnemingsvermoë en nuuskierigheid is hier geslyp en geprikkel. Hier het ek mens geword en ’n sekere ingesteldheid ontwikkel.”

Sy gebruik as motto voorin ’n vers van Ina Rousseau wat praat van die “hemeldeurweekte hel” en “heldeurweekte hemel” waarin die mens hom bevind.

Dit waaraan Rousseau haar in dié vers verwonder, is presies wat ek deur my skrywery probeer agterkom: hoe dit moontlik is dat die lewe so heerlik én so aaklig kan wees – en meestal die twee uiterstes terselfdertyd.

“My karakters leer, nes ons elke dag, dat jy nie daarvan kan wegkom nie. Dis hierdie ding wat die soet so seer maak en die seer so soet.”

’n Uittreksel uit die verhaal “Ek het nie van jou vergeet nie”
Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Daar is ’n klein dorpie in Guatemala waar die mense nie ’n optog hou nie, maar vlieërs vlieg. Sweis het dit maar net genoem terwyl hy eintlik by iets anders wou uitkom. Dit was duidelik nie vir hom so wonderlik nie, maar Hanru het hom bly vra om meer daarvan te vertel.

Die vlieërs is nie vir speel nie, het Sweis gesê. Dis vir die dooies. Dis hoekom die mense hul eie spesiale vlieërs bou, met baie kleure en met prente en woorde daarop. En dis hoekom hulle in die begraafplaas gaan staan om die vlieërs te vlieg.

Hy het weer nie mooi geweet of hy Sweis hieroor moes glo of nie. Die mense sit sommer so tussen die grafte en piekniek hou, die hele dag lank, het Sweis vertel. Dit lyk soos ’n basaar, almal lag en eet, en van hulle drink sommer ’n dop op wie ook al dood is.

Noudat hulle twee alleen hier by die riviermond is, het Hanru weer kans om te vra oor die vlieërs.

“Is dit regtig so groot dat een man dit nie alleen kan oplig nie?”

Sweis knik.

“Dit vat vyf of ses.”

Hanru gaan sit kruisbeen met sy visstok om die kraaines in die lyn los te knoop.

Maar hoe kry hulle dit in die lug?”

“Daardie grotes vlieg nooit nie. Hulle maak dit net so regop vas. Dat die dooies dit kan sien. En die boodskappe daarop kan lees en so. Dié wat hulle vlieg, is kleiner.”

Sweis is nie eintlik nou lus vir vertel nie, kom Hanru agter. Hy moenie te veel karring nie, maar hy wil weet.

“Nou hoekom vlieërs nou weer?”

“Vir die dooies, Hannie. Hulle glo nie ’n mens gaan boontoe, hemel toe, as jy dood is nie. Hulle glo ook nie dat jy iewers onder die grond is nie,” vertel Sweis verder terwyl hy inkatrol.

“Die dooies bly iewers tussenin. Daar waar ’n vlieër kan bykom.”

* TEEN DIÉ PRYS BESKIKBAAR BY TAKEALOT.COM. DIE PRYS WAS KORREK MET DRUKTYD EN IS ONDERWORPE AAN VERANDERING SONDER VOORAFKENNISGEWING.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.